Geskeur in Twee

2 0 0
                                    

Geskeur in 2- Op so 'n manier dat die stukkies vleisagtige weefsel nog aan die diep geelwit van die been hang.

Het jy al jou kar teen 'n paal gestamp? Dis een van daardie dinge wat met almal gebeur, of gaan gebeur. As jy die verf van die voorwerp wat jy gestamp het met al jou vryf-krag probeer af was, is dit basies nie moontlik nie. Die kleurskakering van die paal is ingestamp en brandmerk jou kar vir altyd – Selfs soms na 'n goeie regmaak by die goedkoper panelbeater. Die merk, of die verskil in kleur, of die verskil in hoe dit voel as jy jou hand daaroor laat gly, bly daar; Asof jy altyd 'n stukkie van die paal saam met jou gaan laat ry.

My binneste voel so bietjie gestamp, geskaaf, ge-panelbeat na die laaste week. En, soos die Here ons gemaak het, is ons mos nie net verf en blik nie. Die stampe en krappe skraap baie dieper as die vel-oppervlak. Dit los wonde op die vleis en beendere van ons siel. 'Bietjie gestamp', is eintlik 'n eufemisme in die geval. My binneste, ons binnestes, voel eerder asof in 'n ongeluk... Soos daardie tonele wat jy soms op die hoofweg verby moet ry. Dis makliker om na die ander kant te kyk. En, soos jy verby ry, voel jy steeds die geskeurdheid – Vleisagtige weefsel wat hang aan gebreekte beendere. Stukkend. Rou. Dood. Here?!

 Ek word bewus van hierdie geskeurdheid in my binneste terwyl ek in 'n diens sit – 'n begrafnis. Ek wil eintlik heeltyd wegkyk. En tog, of ek nou hier in die kerkgebou sit, op soek na God, en of ek kies om nie net weg te kyk nie, maar weg te bly – Voel sal ek steeds voel - die diepte, skade en seer van die skeure. Net die plek waar ek vir God soek, sal verskil. Nie die intensiteit nie. Nie die hospitaalreuk in my binnekant nie. Nie die hartseer wat ingestamp en ingevryf en in-gebrandmerk word nie.

Die lewe leer dat skeure, breuke en wonde behandel moet word as jy wil hê dat dit gesond moet word – En meestal is dit sekerlik waar. En nodig. En Goed. God genees. 'n Vriend in Amanzimtoti het vir 'n paar maande by my gebly. Hy was 'n ambulansman. Daardie ouens het Guts. Maar, krappe en skeure bly hulle raak – Ander se wonde beinvloed ons. Hy het een aand by die huis gekom, en eers kom inloer vir 'n koffie en ontlading. Hy was een van die eerste ouens op die gruwel ongelukstoneel by Fieldshill in September 2012. Hy vertel stories oor liggame wat geskeur, geruk en vermink is. Van die liggaamsdele kry hul op die dakke van die nabygeleë huise. Hy word vir 2 weke afgeboek – uitbranding en trauma. Die fisiese skeure sit op sy siel. Vir die 24 mense wat daar sterf, is daar, in elkgeval aan die kant van die hemel, nie genesing nie.

In die kringe waarin ek verweefd is in Bloemfontein, speel daar op die oomblik 'n nagmerrie af. Dis een lang ongeluk, wat skeur, en ruk, en vermink. Ek, almal, wil eintlik net wegkyk om jouself en die vir wie jy lief is, die seerste daarvan te spaar. Maar jy kan nie. Dit los skeure in jou binneste, diep binne in die donkertes van jou hart. Waar murg en been en vleis ineen kraak en skeur - en 'n sug skree teen die hemel. Ek wonder of die geluid van hartseer klink soos toe die voorhangsel skeur, toe die goddelike die elke-dag-wees-en werk-en-leef-en-sterfsoektog betree. Ek wonder of my sug en hulle sug hoorbaar eggo teen Sy ore, en of dit ingang vind na sy hart. Jesus het tog gehuil in die bybel, het hy nie?

Die punt wat ek wil maak is dit – Soms kom die ambulansman op die terrein aan, en moet met groot hartseer en heiligheid al huilend loop en liggaamsdele versigtig versamel, en sagkens bêre vir die mense om vir oulaas aan iets te kan vashou wat vir ewig verlore is. Hy, self geskeur in 2. Dronk op die weerbaarheid van die lewe, en diepdors na die ewige verlossing aan die anderkant daarvan. Vir die ambulansman om antibakteriese salf aan 'n afgeskeurde been te smeer, of om steke in 'n wond op ʼn arm te sit wat eenkant op 'n ongelukstoneel lê, help nie. 

Lewe en dood is 2 kante van die plat aarde muntstuk. En ek ken die storie van Eendag... Ek het dit al soveel keer gehoor. En Ek weet dit kom. Maar nou – terwyl daar onuitspreekbare hartseer, rou, seer skeurwonde ooplê - kom ons huil. Kom ons loop saam met die Ambulansman en tel huilend die stukkies van ons fyn weerbaarheid op. Kom ons waag dit om ver(sug)tig te probeer loop in mense se wêrelde waarvan alles van hul geloof en verstaan verguis is. En dan bêre ons die salf en antibakteriese middels - Vir nou. Jesus sal opwek. Jesus sal genees. Ons weet dit. Maar dis nie nou nie.

Die ambulansman vertel my: Op ongelukstonele heers daar soms 'n onuitspreekbare stilte na die geweldige geraas... Dis asof die stilte 'n baan oopveg, waar die skeure van die wêreld kan weergalm en gehou word in die donkerste kamers van God se hart.

Ek wonder of die onuitspreekbare stilte van hartseer klink soos toe die voorhangsel skeur, toe die goddelike die elke-dag-wees-en werk-en-leef-en-sterfsoektog betree. Ek wonder of ons sugte hoorbaar eggo teen Sy ore, en of dit ingang vind na sy hart. Jesus het tog gehuil in die bybel, het
hy nie?

*Phote credited to JessieStam on Deviantart.

Geskeur in TweeWhere stories live. Discover now