Klandestien

37 3 5
                                    


Die sirenes se geloei is anders dié keer. Ek kan dit voel.

Ek druk my knipmes terug in my stewels. My slypsteentjie gooi ek in my leer gordelsak. Ek spring op van waar ek onder die lae watertoring sit tussen die leë dromme en die stukkende yskas; my wegkruipplek, my skuiling. Ek gryp my stapstok en maak my weg tussen die geboue en stofstrate.

Een-vir-een slaan die voordeure van winkels en huise toe soos wat paniekerige inwoners skuiling vind. Pa's haal hul gewere en messe uit kaste, tussen vloerplanke en onder matrasse uit terwyl ma's hul kleintjies op raap van waar hul met klippies en ou speelgoed in die stofstrate speel. Niemand kom soek vir mý nie. Niemand tel mý op en vat mý na 'n veilige plek toe nie. Maar dis oukei; ek het dit nie nodig nie.

Ek vleg tussen die warboel mense in die teenoorgestelde rigting. Sommiges maak oogkontak, maar waag nie aan my raak nie.

Plof plof plof. Die geluid van my klein stewels laat my hart vinniger klop. Opgewondenheid. Wanneer laas het ek hom gesien? Ses maande terug? 'n Jaar?

Die Uitkykpunt troon hoog voor my. Ek stop nie in my spore nie, maar begin dadelik die hout leertjie, wat ek self gebou het, uitklim. Ek onthou nog die dag wat Sersant my gewaar het toe ek die hout planke aangedra het en met tou begin span het. Sy oë met hul afkeurende kyk het my aangegluur, maar hy het nie gewaag iets sê vir die Generaal se dogtertjie nie.

Toe my voete die uitgetrapte vloerplanke van die Uitkykpunt raak, stoot ek tussendeur al die offisiere. Ek gaan staan langs Sersant, op my tone, sodat ek ook oor die reling in die verte kon uitkyk. 'n Massiewe stofwolk kleur die horison in. En die oorsaak... 'n konvooi gevegsmotors met 'n yslike trok heel voor. Die skedel van 'n ram pronk aan die trok se voorkant. My pa.

Vir 'n oomblik kyk ek en Sersant vir mekaar. Sy hand strek uit en vat liggies aan my hare. Sien ek bejammering in sy oë? Ek gee vir hom 'n groot glimlag en bedoel dit.

"Dit is tyd," sê hy sag.

Xxx

Daardie aand sit ek op my pa se skoot, my kop lê teen sy bors. Hy ruik na stof, boombas en die son.

"Mag ek jou hare vleg? Vir 'n laaste keer?" Sy stem is grof. Daar is 'n glimlag in sy oë. Hy plant 'n soen op my voorkop en neem my lang hare saggies in sy groot hande. Stadig en metodies begin hy om dit te vleg.

En môre sal hy alles afskeer om die koördinate te kry.

Die getatoeërde koördinate na die Sitadel.

You've reached the end of published parts.

⏰ Last updated: Apr 06 ⏰

Add this story to your Library to get notified about new parts!

KlandestienWhere stories live. Discover now