*unedited*
*moet Groen lees voor Sitadel*
Dis die geluid van veraf donderweer wat my laat wakker skrik.
My oë vlieg oop. Dis al donker en 'n koue bries omvou my. Hoe lank lê ek al hier?
'n Kreun kruip uit my mond uit toe ek probeer regop sit. Ek raak duiselig. My regterarm ignoreer enige bevel om te beweeg. 'n Skokgolf beweeg deur elke senuwee. My kop val terug op die harde grond. Ek kners my tande. My regterarm lê in 'n onnatuurlike posisie langs my kop.
Vir 'n split sekonde word die donkerte verlig deur 'n weerligstraal.
En dan onthou ek die skote. Een. Twee. En hoe ek grond toe val. My hand skiet na my leë holster en ek onthou dat ek my geweer vir haar gegee het.
Astrid. Astrid met die groen oë wat deur die Enklawe gejag word. Het sy veilig hier weggekom? Kon sy vlug van die hommeltuie met hulle sensors wat haar elke beweging rapporteer na die Moederstad? Of het hulle haar ingehaal en haar oë-?
Ek hoor 'n geritsel in die bosse nie ver van my nie.
Ek moet hier weg, voor 'n wilde dier op my afkom, of erger: die reën.
My militêre opleiding neem my liggaam oor. Metodies beweeg my linkerhand oor my lyf.
Behalwe vir my stywe nek het ek geen ander kopwonde nie. Verligting spoel oor my.
Daar is 'n wond in my regterarm. My Humerus-been is gebreek. My regterarm is nutteloos.
My hand huiwer 'n oomblik, dan beweeg dit verder af. Ek voel 'n klewerigheid teen my bobeen. My vingers vind die koeëlronde gat. Bloed sypel stadig vanuit die wond. Ek haal diep asem. Ek moet die bloeding stop.
Met my linkerhand maak ek sukkelend my belt los. Voordat ek my belt onder my kon uit trek, hoor ek 'n geknars van droeë stokke en 'n gegrom.
En dan is die dier op my. Sy warm asem sentimeters van my gesig. Ek voel sy kloue beur deur my klere en sy naels teen my vel.
Ek probeer met my laaste bietjie krag hom met my arm van my weghou. Sy stink asem blaas in my gesig. Ek voel my arm raak swakker. Vir 'n oomblik ontmoet ons oë.
En dan gee hy 'n tjank van pyn.
'n Vlymskerp pyl steek dwarsdeur sy kop. Hy sak neer op my. Dood.
Ek probeer hom afstoot, maar alle energie het my lyf verlaat.
Voetstappe knars tot langs my. 'n Hand vou om die pyl en met een ruk, pluk dit die pyl uit die dier se kop uit. Met haar ander hand gryp sy die gedierte agter sy kop en gooi hom van my af.
Haar gesig kom vaag voor my. My oë sukkel om te fokus. Ek het te veel bloed verloor. Die eerste ding wat ek oplet is haar groen oë.
"Astrid?" My stem is swak. Ek verstaan nie. Ek het haar dan gesien vlug van die hommeltuie af.
Sy gee 'n sagte laggie en trek haar masker van haar mond af. Haar gesig kom in fokus. Haar grys hare staan in alle rigtings.
Nee, dis nie Astrid nie.
Dan buk sy af en kyk my stip in die oë.
"Hy is nog wakker, Dolores." Haar rasperstem is strelend. "Ons moet vinnig maak. Voor die reën kom, Dolores."
Ek probeer my kop lig om te kyk met wie sy praat, maar ek sien niemand.
Sy sien my frons. "Shhh, jy sal oukei wees." Sy hou haar wysvinger teen haar lippe.
Voor ek kan protesteer druk sy 'n vuil stuk lap oor my mond en neus.
Sy bly glimlag.
"Nou moet hy net diep inasem, né Dolores?"
Ek kan dit nie help nie. Ek hoor haar woorde, en met alles in my probeer ek nie inasem nie. Maar ek is swak en moeg. So, so moeg...
Haar groen oë word dowwer. Ek voel hoe ek wegsluimer. My ooglede soos lood.
Ek hoor veraf die donderweer.
Ek ruik die suurreën naderkom.
En dan voel ek haar stywe greep soos wat sy my enkels gryp. En sleep.
En dan niks...
Xxx
Voëls. Is dit regtig?
My oë fladder oop. Ek lê op 'n sagte bed. My regterarm is toegedraai in rooi lap.
My klere en geweerholster hang oor die enigste stoel in die kamer. Daar is 'n tafeltjie met 'n glas water langs my. Ek gryp dit gulsig en vat 'n groot sluk. Dis koud en soet.
Klein voetstappies klink van buite. Die deur swaai oop.
Sy kom ingestap met 'n skinkbord volgepak met botteltjies en ander mediese gereedskap wat ek nie ken nie.
"Hy is wakker, Dolores." Sy is vrolik.
Sy sit die skinkbord op die tafeltjie, skuif die stoel nader en kom sit langs die bed.
"Ons het gewonder wanneer jy sal wakker word. Dolores was reg, jy het infeksie opgedoen." Sy vat die glas uit my hand uit en plak dit op die tafel neer. Met haar lang dun vingers wys sy na my bolyf. Orals is rooi etterige hale. Sy gooi die dun kombers van my onderlyf af.
Voor ek kon keer besef ek ek het darem onderklere aan.
Sy wys na die verbande om my bobeen, waar die tweede skoot my getref het.
"Ons kon die koeëls verwyder. Maar dié..." Sy wys weer na my bolyf. "Hierdie gaan tyd vat. Né, Dolores?"
Sy vestig haar aandag aan die botteltjies. Sy kies een, draai die dekseltjie af en gooi van die inhoud in haar hand.
Klein goue sampioene. Kan dit wees? Alles is dan verwoes jare terug...
Sy gooi die sampioene in 'n bakkie en maal dit fyn met presiese bewegings tot dit 'n pasta vorm.
Dan draai sy na my. "Daarsy. Hierdie gaan pynloos wees, né Dolores?"
Voor ek kon keer druk sy my plat op die bed met haar een arm. Met haar ander hand smeer sy die dik sampioen-pasta oor die etterige hale. Elke spier in my liggaam slaan aan die brand.
Ek gil van pyn. Haar sterk arm hou my in plek.
Sy gee 'n kekkel-lag.
"Welkom by die Sitadel."
YOU ARE READING
Sitadel
Science FictionIn 'n post apokaliptiese Suid-Afrika vertel Eliam sy storie. April 2024 Prompt: Mushroom / Sampioen Word count: 1000/1000 Genre: Post-Apokalipties / Distopies