"Wiese kind is jy, wat my so verlei?
Weet jou ma van jou wat so aan my klou?
Het jy jou pa gevra of jy mag ringe dra?
Jou neusie is nog nat en jy wil aan my kom vat.
Lat staan tog net jou stoutegeid, jy soek na moeilikgeid!" speel die jukebox op top volume!
"Dans, dans, my nooientjie, dans dat die stof so staan! Aitsa! Oe, dis soe wonnerlik, dankie Oem Theuns Jordaan!" gil Jerome van die lekker kry.
Hy loer vinnig na Meisie, sy nooientjie.
Sy is so poenankies.
Jerome se voete staan vir niks stil nie en hy hou van die rieldans vanaand. Hy gooi sy hoed verspot in die lug in op. Hy wil impress en is vol energie opgewen met sy fancy voet dans.
Die musiek stop en dit is twaalf-uur verby. Al die jong mense het so lekker gedans dat party vergeet dat hulle oor 'n paar uur moet gaan pluk. Almal is sleepvoet huis toe.
Hier in Wellington werk die plukkers hard met oestyd van granaat en niemand mag laat wees nie.
Vroegoggend hoor jy al die gedreun van die plaas se Massey Ferguson trekkers. Hulle is vol diesel getap. Die bestuurders wag vir die handlangers om die sleepwaens agteraan vas te hak. Die plukkers staan gereed om granaat vrugte boord toe te gaan. Hulle het warm aangetrek, want dit kan koud word in die boord en die Suidooster kan so bietjie byt-byt aan jou agterlyf.
"Allamapstieks!, skrik ek nou vir die trekkers se gebrul!" gil Jerome.
"Ek gaan laat wees, die trekkers gaan sonner my ry!" Hy hoor weer die kerm geluide van die trekkers en vlieg uit sy kooi uit.
"Tjy wil mos laat kuier saam die meisies!" roep Ma Bessie, maar hy hoor niks en is met 'n spoed daar uit.
Jerome is net betyds en gaan staan solank agter die groep plukkers. Hy sien die Boer verduidelik iets, maar kan niks hoor nie. Hy besluit om net te wag totdat dit sy beurt is om voor te staan. Hy klem sy rugsak se band styf vas.
"Jerome, jy is laat!" roep die boer hom.
"Ja, meneer, ek is tjammer. Was by die Rieldans gisteraand. So bietjie die voete geoefen, maar ek is rêrig tjammer dat ek so laat is."
"Nou kom, jy gaan nie saam jou gewone groep uit nie, jy gaan met hulle uit!" Die boer wys met sy vinger na die groep wat Jerome se hare laat reis.
"Meneer, djulle's mistaken, ek werk hard net saam my groep?"
"Jerome, jou groep is al weg brood toe, môre kan jy weer terug ruil. Wees net betyds!" Die boer stap weg.
Jerome is saam 'n groep plukkers wat nie verstaan dat rieldanse uit die hart uit kom nie. Hulle is gabas en kinders van die onderdorp, daar waar hy nie gaan nie!
Hy skraap moed bymekaar en klim toe op die wa saam hulle, anders sal die boer raas.
Terwyl die trekker deur die digte ruigtes aanstoot, dink hy aan Meisie, sy het so mooi gelyk. Hy kry eintlik hoendervel as hy so aan haar dink. Graag wil hy vir haar iets gee, maar sy geld is min. Vanaand dans hulle weer, so hy moet weer op sy stukke lyk.
"Jislaaik bra, ek het djou lanklaas gesien." roep een van die ouer mans hom.
"Ja, ek is besig by die rieldans!" Almal lag kliphard.
"Eish, nou maar goed dan, rieldanser. Ek sê my bru, daai party is duidelik nie vir ons nie, nai glad nie!" Die ouens lag vir díé opmerking.
Jerome onthou een ding van oupa Josef, "Hou liewer jou bek as jy in die groep van 'n gaba is!"
Skielik stop die trekker en almal moet af. Almal trek hulle pluksakke aan en spring aan die werk.
Tien uur is dit tee en tyd om bietjie te rus. Jerome dink om by die bloekombome se koelte op die gras te gaan lê en slaap. Hy is vrek moeg van die rieldansery.
Net toe hy op die grond wil lê, sien hy manna oral op die grond gesaai. Hy gaan op sy hurke en tel soveel manna op as wat hy kan en eet dit gulsig op. Dit smelt behoorlik in sy mond.
Hoe gelukkig is hy dat die boom vandag sy gom moet afgooi.
Na 'n ruk, sien hy 'n yslike groot ronde stuk tussen die gras. Hy tel dit vinnig op voordat iemand hom sien. Dit is manna uit die hemel uit!
"Soema 'n groot stuk hierdie, ek moet dit innie sak wegsteek en niemand kry 'n happie nie!" Ongelukkig sien een van die gabas hom.
"Wat seek djy weg, rieldans?"
"Niks nie!" Die ander ou gryp dit uit Jerome se sak uit.
"Waar kry djy hierdie groot stuk?" Die gaba kyk verwonderend daarna.
Jerome gryp die stuk terug. "Onder dai bloemkoms, gat haal djulle eie!"
"Deel dit met ons!"
"Nai, djulle wat so laat innie strate loep en nonsens aanvang, ek wil nie met djulle deel nie, dít is net myne!" Jerome sal nie vandag sy sonskyn vir die gabas verdof nie.
"Ek ken djulle secrets!" Hy stap breëbors weg.
Jerome het hulle almal goed in die bek geruk, niemand sê 'n woord nie.
Toe die dag verby is, sit Jerome eers op die stoep van sy ma Bessie se huis.
Hy haal die manna versigtig uit sy sak uit. Hy het gedink om solank die helfte te eet, en die ander helfte vir Meisie te gee as geskenk.
Hy byt sag aan die manna, maar soos wat sy tande deur die melkwit laag van die manna sny, proe hy dit! Sy tong raak aan die kalkagtige, smaaklose duiwe tjorts en hy spoeg dit summier uit!
Die aarde draai en maal om hom. Hy word groen en dan pers in sy gesig, hy is naar. Jerome gooi die stuk, wit duiwe poef op die grond neer en hardloop gillend toilet toe om naar te word.☺
YOU ARE READING
Boontjie kry sy Loontjie
HumorElkeen kry sy verdiende loon en óm beloon te word vir dit wat jy doen in verhouding met jou werk, goed of sleg moet jy aanvaar. Jerome verstaan maar alte goed dat hy met sy rieldansery en al, eers die manna wat hy weggesteek het moet toets om sodoen...