Middernagman

54 4 5
                                    

Koue lug. Klam seesand.
Die soutbries doof my ore.
Onder die maanlig op die strand
Staan ek kaalvoet - droomverlore.

Probleme. Hartseer. Wanhoop.
Gedagtes sonder keer
Van hoe dinge nóg skeefloop,
Ten spyte van probeer.

Emosies, in my hart verdig,
Rol af teen my wange.
Hier, alleen onder die maanlig,
Kom tref die swaar verlange.

Hier, alleen op die strand,
Hoor ek 'n sagte stem langs my.
Hy noem my naam en neem my hand
En begin my na die water lei.

Knie-diep in die see,
Raak ons lippe aan mekaar.
"Vir jou sal ek alles gee,
My noodlottige siel openbaar."

Maar dan skiet my oë oop
En natuurlik het jy verdwyn
Tot môre-aand (dis my hoop)
Wat die sterre weer sal skyn.

Want al kan niemand jou sien nie,
Weet jy dat ék kan.
Miskien is jy werklik, miskien nie,
Maar jy is my Middernagman.

SpookasemWhere stories live. Discover now