Die Zuid Afrikaanse Assepoester

556 6 5
                                    

'n Bekende Afrikaanse skrywer het eenmaal snedig opgemerk dat Suid-Afrikaanse jongmense oorsee gaan om ander mense se huise skoon te maak. Asof dit 'n skande is. Die skrywer het duidelik nog nooit self gereis en amper omgekom van die honger nie! Geen mens kan in Europa op R100 'n dag oorleef nie, al sê wie ook wat!

Hier staan ek dus nou. In my spesiale skoonmaakuitrusting: 'n jean en 'n ouerige t-shirt, my hare stewig op my kop vasgebind en 'n paar rubberhandskoene vir ingeval die mense nie het nie. 'n Mens kan nooit te versigtig met jou hande wees nie. Na my Europese reise wil ek graag nog 'n paar melkwit handjies hê as prins Charming uiteindelik die ring aan my vinger steek. "Dream on, Almari Pieterse," sê ek vir myself, "dream on."

Ek druk op die knoppie van die deurklokkie. Iewers agter die die dik glas van die ou deur hoor ek dit lui. Niemand maak oop nie. Dis ook maar goed ek het vanoggend 'n spaarsleutel by die agentskap gaan haal. Al is ek so tussendeur die skoonmakery op soek na my prins op sy wit perd, is dit beter as daar niemand by die huis is wanneer ek skoonmaak nie. Dan kan hulle nie sien hoe min ek van skoonmaak af weet nie.

Deur ander mense se huise skoon te maak kan jy baie geld in Europa verdien. Dit het ek sommer gou na die eerste hongersnoodperiode van my Nederlandse avontuur agtergekom. Dit is harde werk, maar 'n skande? Ek weet nie so lekker nie. Die huis ruik na laventel en gebakte brood. Die keurig ingerigte sitkamer lyk vir my silwerskoon. Hier gaan ek my nie vandag doodwerk nie. In die kombuis lê daar 'n briefie op die tafel.

"Beste poets, wil je aub de kamers boven stofzuigen en de trappen met een klamme doek afvegen. Gebruik de organische schoonmaakmiddel voor de douche en de W.C. Het zal ook heel fijn zijn als je de bakjes van Kitty wast en de water ververst. Hartelijke groet, René."

Kitty? 'n Kat! O nee, net nie dit nie. Hier woon geen prins nie maar 'n oujongnooi. Buitendien is ek hiper allergies vir kathare. Ek sien sowaar nie kans om huis skoon te maak met 'n rooi neus, toegeswelde oë en 'n aanhoudende genies, nie. Ek sal 'n plan moet maak om Kitty so ver moontlik uit my buurt uit te hou. Ek maak die wasbakkassie oop. Daar staan twee spuitkanne. Op een staan geskryf "organische allesreiniger" en die ander spuitkan is leeg. As ek water in die leë spuitkan gooi kan ek Kitty uit my buurt uit spuit. En dan maar hoop vir die beste. Die katluikie in die agterdeur swaai oop en die grootste, wollerigste kat wat ek nog in my lewe gesien het flop na binne. Dis nie 'n kietsie nie, dis 'n kater met 'n gewigsprobleem en genoeg hare om 'n toetssentrum vir allergieë vir tien jaar te voorsien. Kitty storm soos 'n brawe leeu reguit op my af.

Ek tap die leë bottel teen die spoed van wit lig vol en draai die spuitknop vas. Kitty stop in sy vier spore toe die straal water hom tussen die oë tref. Hy lek sy neus kwaad af en pof op soos 'n hen wat haar kuikens verdedig. Ek maak asof ek hom nie sien nie. Gryp die res van die skoonmaakgoed onder die wasbak en hol die trappe twee-twee op na die badkamer toe.

Die badkamer blink soos in die TV-advertensies vir skoonmaakmiddels. Ek spuit 'n bietjie organiese allesreiniger op 'n lappie en vee versigtig oor die bad se rand. Netnou maak ek die badkamer vuil met my poets-poging! Ek hoor hoe Kitty die trappe op mieaauw. Dit klink soos 'n Siamees op steroids. Maar Kitty is nie 'n gladdehaar siamees nie, Kitty is een of ander bovenaardse wolbol met pote!

Toe die kater in die badkamerdeur verskyn gryp ek die spuitkan soos 'n wafferse Chuck Norris en spuit 'n kolskoot op Kitty se neus. Kitty lyk verslae. Heeltemaal verslae. Hy nies en proes en dit lyk asof hy 'n perdeby van sy neus af probeer slaan. Verbaas kyk ek na die spuitkan in my hand: organische allesreiniger. Goeie genugtig, ek het die kat vergiftig! Kitty begin saamtrek soos net 'n kat kan wat van 'n haarbal, of in die geval gif, moet ontslae raak. Nee, nee, nee! Die silwerskoon badkamervloer is skielik nie meer skoon nie. Die stank is onbeskryflik. 'n Aaklige naar stoot in my keel op. Ek kan nie reguit dink nie. Wat moet ek eerste doen? Kitty probeer red of die vloer probeer skoonmaak? Skielik val Kitty om en bly lê.

"Kitty, Kitty!" roep ek in my beste, liewe stem. Kitty lê doodstil.

"Ogenschijlik lieve poetsvrouw is een Zuid-Afrikaanse dierenmoordenaar!" In my gedagtes sien ek al die koerantopskrifte met 'n foto van my agter tralies. Die Nederlanders is so erg oor hulle troeteldiere.

Ek tel die kat op en vou hom toe in my arms. Ek hol die trappe af. Daar is nêrens 'n telefoon of 'n lysie met noodnommers te bespeur nie. Dan tref dit my: die veearts is net om die hoek. Ek het vanoggend nog daar verbygeloop. Sonder om verder te dink hardloop ek die straat af met die half dooie kat in my arms. Dit is nog vroeg en die straat is gelukkig stil. Ek stamp die deur van die veeartspraktyk oop. Daar is niemand in die ontvangsruimte nie.

"Hallo!" roep ek benoud.

"Ja, ik ben er zo," roep 'n mansstem van agter 'n toe deur.

'n Paar oomblike lank is dit tjoepstil in die vertrek. En dan verskyn die mooiste Hollander wat ek nog ooit gesien het voor my.

Dít is jou straf, Almari, om 'n veaarts wat jou voete onder jou uitslaan te ontmoet pas nadat jy kwaadwillig 'n kat vergiftig het, raas ek met myself.

"Kitty!," roep die veearts bekommerd uit. "Wat is er met onze Kitty gebeurd?"

"Ken jy die kat?" wil ek histeries weet.

"Ja, het is mijn kat," sê die veearts. "Zeg, wie ben jij eigenlijk?"

"De poets," brabbel ek in my beste Nederlands. "Ik heb per ongeluk allesreiniger op Kitty gespuit."

Die veearts bars uit van die lag en vat die kat liefderyk uit my arms uit. Toe Kitty in sy arms lê lig hy sy kop versigtig op. Amper soos 'n kind wat maak asof hy flougeval het.

"Jij bent een echte drama-queen, hé Kitty?" paai die beeldskone veearts. "Hij doet het wel vaker," sê hy glimlaggend vir my. "Denkbeeldig flauwvallen."

"Jy bedoel hy gaan dit oorleef?" 'n golf van verligting spoel oor my.

"Mijn arme Kitty, een paar druppels schoonmaakmiddel van azijn en ammoniak doen geen kwaad. Je overleeft het wel." Hy praat so mooi met die kat dat ek tegelyk in 'n niesbui en 'n huilbui uitbars. Hy kyk bekommerd na my, "Gaat het een beetje?" Sy troostende stem wikkel 'n maand van alleen wees in Amsterdam in my los. Die trane stroom in riviere langs my wange af terwyl ek probeer verskoning maak vir my onprofessionele gedrag.

"Even wachten," beduie die beeldskone veearts, "ik ga Kitty in een kooi leggen, en dan je verhaal aanhoren."

Terwyl hy in 'n agterkamertjie verdwyn probeer ek tevergeefs my gesig met die kant van my arm afvee. Dit werk nie. My oog vang 'n spieël agter die toonbank. Ek skrik vir myself. Met sulke dik geswelde oë en bloedrooi neus lyk ek soos een van die lelike susters! Miskien moet ek maak dat ek wegkom. Waarskynlik kry ek nog 'n rekening van die skoonmaakagentskap af omdat ek die kat beskadig het. Ek moet nog my salaris vir die maand kry, onthou ek betyds. As ek nou die pad vat het ek nie eens genoeg geld om my huur te betaal in die studentehuis nie. Wat nog te sê geld spaar vir 'n kaartjie terug huis toe.

Dit voel soos ure voor die veearts weer sy verskyning maak. Hy dra 'n skinbord met twee bekers tee, 'n bakkie spekulaas en 'n pakkie tissues daar op.

"Ga lekker zitten,"sê hy en beduide na die stoele in die wagkamer.

"Vertel het maar," sê hy simpatiek toe ons albei 'n beker tee vashou.

Deur trane van verdriet en allergie vertel ek hoe ek van bedorwe Bolandse brokkie tot histeriese Nederlandse poetsvrou gevorder het.

"Een ware assepoester, maar in de omgekeeerde zin," sê hy troostend.

Dit voel vir my asof ons mekaar nog altyd geken het.

Toe die tee yskoud is en al die tissues in die pakkie verfrommeld op my skoot lê, glimlag die beeldskone veearts vir my.

"Zo terloops, ik heet René. René van Drunen. Hoe heet jij?"

"Almari Pieterse." sê ek en voel hoe 'n warm kolletjie nes maak in die buurt van my hart. "Jou badkamer is vreeslik vuil."

"Dankzij Kitty?"

"Jip," sê ek.

"Het maakt niets uit," sê René van Drunen en gee my hand 'n drukkie. "Dankzij Kitty heb ik mijn Afrikaanse assepoester gevonden."

Je hebt het einde van de gepubliceerde delen bereikt.

⏰ Laatst bijgewerkt: Aug 06, 2016 ⏰

Voeg dit verhaal toe aan je bibliotheek om op de hoogte gebracht te worden van nieuwe delen!

Die Zuid Afrikaanse AssepoesterWaar verhalen tot leven komen. Ontdek het nu