Nagmerrie

112 7 17
                                    

My asem jaag en my ore tuit.

Ek is nie in beheer van my eie liggaam nie en tog weet ek dat my bene my in die regte rigting dryf. Weg van al die dinge wat my gewete teister en die rede agter my slapelose nagte is.

Vandag ontsnap ek uit my sel - my tronksel waar die mure van slegte herinneringe, afknouery en telleurstellings gebou is, en die bed waarop ek saans moet lê, uit messe gemaak is wat al hoe dieper in my rug in steek, nes die woorde van jou vleimskerp tong wat my siel dag vir dag probeer breek het.

Dit was nie 'n maklike keuse nie. As gevolg van jou en jou "volgelinge" moes ek kies om die mense vir wie ek so lief is, agter te laat. Vir wat? Omdat jy genot uit die seerkry van ander gevind het?

Ek weet nie watter geraamtes jy in jou kas wegsteek nie en ten spyte van al die seer wat ek aan jou te dank het, hoop ek dat daardie geraamtes nooit hulle kop sal wys nie, want ek weet uit ervaring dat sekere dinge 'n geheim behoort te bly.

Ek skuld jou eintlik n dankie, jy het vir my 'n waardevolle les geleer. Nou besef ek dat ek nie enige persoon te gou met al my hartsgeheime kan vertrou nie - nie eers as daardie persoon die mooiste blou poele vir oë en die perfekste kurwe vir n glimlag, wat enige iemand se knieë kan lam maak, het nie.

Jy het my met jou sjarmante persoonlikheid en mooi gelaatstrekke mislei en nou moet ek die prys betaal. Ek voel hoe my arms deur die lug soos die lemme van n skêr deur papier, sny; hoe die klam grond onder my voete tussen my tone deur beweeg en ek ryk die varsheid van die natuur.

My asem jaag en my ore tuit... Die nagmerrie is verby.

Nagmerrie |✅|Where stories live. Discover now