OOR DIE MAN WAT NIE MENEER GREEN IS NIE.....

174 2 2
                                    

Dit is Maart 2018 op pad Kamberg toe in die Sentrale Drakensberg waar ons ook 'n deel van ons wittebrood deurgebring het. Twee en veertig jaar gelede. Ook waar ons sowat 8 jaar later teruggekom het vir 'n vakansie met die twee oudstes Lidell toe 5, Minette 4 en Adriaan 2 jaar. Ek was toe ook vermoedelik swanger met Kobie!

In 1983 het elke huisie nog sy eie kok gehad wat disse van visse in blikke kon maak. Sommige mense het al vertel dat hulle net 'n oopgemaakte blik bullybeef op 'n bord onder 'n silwer deksel gekry het, maar ek kan getuig van viskoekies omdat ek eiers en meel ook by die blik uitgsit het.

Vandag ry ons onverwags 'n vreemde pad op 'n impulsiewe ingewing. Hoe verrassend mooi lyk die dam van die hoogte af, want ons moet 'n hang teen 'n bergwand neem aan ons regterkant met 'n vallei links van ons. Daar is 'n dam wat deur 'n bergstroom gevoed word..... Ons sien 'n ingang vir dagbesoekers hier langs die pad wat Moorpark genoem word. Ons vermoed dus dat die dam die Moordam heet. Ons besef ook dat hier baie min toeriste sal kom omdat die pad so onbekend is. Die naam het nie te doen met die heftige kriminele stand in ons land nie......nee dit het eerder te doen met 'n stroom of 'n vasmeerplek.

Die grondpad is beter as die teerpad wat, so kom ons later agter, vir ons lê en wag soos 'n slang wat planne het om ons wiele te byt....... Dit is so sleg dat niks anders as 'n monster masjien dit sal kan regmaak nie. Iets soos www.jetpatcher.co.za

Ons soek bakens binne die kranse van die berg wat identifiseer met die name wat die kampe het. Ek onthou hoe ons na die bergtop gesoek het wat soos 'n reus se kasteel moet lyk die eerste keer toe ons Giants Castle toe gegaan het. Ons verbeelding het met ons parte gespeel.......en hoe vreemd klink hierdie uitdrukking vandag.....so het baie parte in die berge vir ons plekke of mense of figure gelyk.

Anieke sê mens se verbeelding smokkel met jou kop..... en ja dit is meer beskrywend want daar was 'n klomp goed in ons herinneringe ingesmokkel wat ná ons uitgevind het hoe Giant's Castel se silhoeët lyk, vir ons duidelik geword het. Ons moes na die Reus gesoek het......nie na sy kasteel nie, hoor ons toe by meneer Green, iemand wat hier gewoon het as kind. Hy wys dit uit vir Barry wat op sy beurt sukkel om dit vir my te wys......maar nou weet ons ten minste.

Ons begin "woorde" kry so in die ry want elke keer as ek 'n piek uitwys vir Barry, ry hy deur 'n gat in die pad...en so kan ons nie by die regte perspektief uitkom van wat die probleem veroorsaak nie......die gat in die pad of die piek van die berg. Ons besluit toe dat elkeen liewer op sy eie iets moet konsentreer.

Kamberg lê soos iemand wat al gaan slaap het so tussen die sagvloeiende voue van die berg aan die voorkant van ons huisie toe ons laatmiddag daar aankom. Die mistigheid soos 'n duvet wat liggies oor jou lê en saggies warm maak.

Ek het altyd gedink iemand het 'n spelfout gemaak met die naam en dat dit eintlik Kampberg moet wees. Maar nee, mens se eie persepsie van dinge is gewoonlik, soos dit nou al duidelik blyk, verkeerd. Die berg is soos 'n laaaang kam met sy voue en reguit afwaartse stroke kranse wat soos 'n kam se tande lyk. Byna soos die kamme wat die mans destyds in hulle kouse gedruk het met hulle safariepakke aan.

Toe ons nader stap na die ontvangs sien ons dat daar alleen twee name van gaste op die bord staan. Van Jaarsveld en Green.

Barry is lig van voet, bly om daar te wees, moeg gery en lus vir 'n bier. In sy huidige staat van blyheid.....bestyg hy die trappies twee twee na die "ontvangs" toe waar 'n vrou agter die toonbank doenig is met administrasie. Hy stap soontoe en so in die stap sê hy: " Hallo There, I am not Green, but I want to sleep with you tonight"

.....Gelukkig is ek ook daar, want ek sien hoe die sommetjies in die vrou se kop optel vermenigvuldig en deel voor sy gelukkig by die regte getal uitkom...."Dié man bedoel iets anders as wat by sy mond uitgekom het", reken sy. Hy besef nie eers wat hy gesê het nie en gaan vrolik aan met die koop van 'n visvang lisensie en 'n blikkie konfyt vir ons broodjie by die forel wat ons by Millys gekoop het.

Kamberg StorieWhere stories live. Discover now