Winter 2042.
My kop ruk na links. 'n Brandpyn gloei op my wang en die smaak van yster vul my mond.
Ek hoor haar lag. Afgryslik.
Mý lag.
Ek lig my kop effens en loer deur my rastalokke. Haar te swart hare is te styf vasgemaak. Haar te grys oë glinster.
Mý glimlag. Mý oë.
"Waar is dit?"
Sy praat met geklemde tande. Ek kan haar frustrasie voel. My oë beweeg af na haar mond. Haar lippe is nog plomp en vol lewe, maar dis die lyne om haar mond, die fyn plooitjies, wat haar ouderdom weggee. Nie mý plooitjies nie. Ek is gemaak om langer as sy te lewe.
"Ek weet nie waarvan jy praat nie."
Ek speel dom. Ek sien die irritasie op haar gesig. Sy weet ek lieg. Natuurlik weet sy.
Ek is haar ewebeeld; gemaak uit haar vlees en bloed, gekloon om beter te wees. Iets wat sy steeds nie kan verdra nie.
Sy gryp my ken en forseer my gesig in haar rigting. Ek wil my hande lig en haar wegstamp, maar ek kan nie, die boeie kou deur my polse. Ek boor met my oë in hare. Sy kyk diep daarin, asof sy my siel soek. Het genmods ooit siele? Haar duim gly saggies oor my onderlip. Sy bewonder my gladde vel. Haar hand skiet na my rastalokke. 'n Uitdrukking van walg versprei oor haar gesig. Sy het nooit van my hare gehou nie. Ek ook nie, maar hulle is deel van my plan.
En dan spoeg ek: rooi spatsels van toe sy my geklap het. Dit beland op haar bors. Haar spierwit uniform gemerk met my bloed. Óns bloed.
My oog vang die borsspeld teen haar bors: 'n sirkel met 'n blaar daarin. Die simbool vir groei nuwe lewe: GroeiKorp.
Almal was gewaarsku dat die reën sou opdroog. Dat ons plante sou verdwyn. En ons kos... En toe kom GroeiKorp. Vanuit hulle yslike gebou en hulle spierwit uniforms met beloftes om die voedselprobleme op te los, om 'n nuwe en beter wêreld vir elkeen te skep. 'n Wêreld met kos.
Maar ek weet van beter. Hulle het alles beplan.
Sy kyk af na die rooi spatsels. As sy woedend is, versteek sy dit goed. Sy draai om na die oorkantste muur waarteen 'n ystertafel staan en druk 'n knoppie op 'n toestel wat ek vermoed 'n antieke radio is. 'n Vrou se stem kom kraken oor die luidspreker.
"Jy gee my dan nie 'n ander opsie nie." Haar stem is koud. Sy wuif met haar linkerhand op die maat van die musiek terwyl die linker rondsoek op die tafel.
Dis nou of nooit.
Die vingers van my linkerhand klem om my regterduim. My hand ruk af. Pyn skiet op teen my arm vanaf my gebreekte duim, maar ek maak nie 'n geluid nie. My hand glip uit die boei.
Met een beweging spring ek van die stoel af en kry haar hare beet. Ruk haar kop tot teen die tafel; hard. Sy krimp ineen op die vloer. Ek troon oor haar waar sy roerloos op die kouer vloer lê. Ek buk af en met my wysvinger streel ek liggies oor haar lippe, verwonder die fyn plooitjies 'n laaste keer.
Stadig kom ek regop tot by die glasdeur, met die groen GroeiKorp-embleem. Ek sien my refleksie in die neon lig. Saggies vat ek aan my rastalokke. My rastalokke met GroeiKorp se sade in gevleg. My rastalokke wat gaan kos voorsien vir die wêreld.
Ek lig my hand na die deur se handsensor. Die deur gly geruisloos oop.
Vaagweg hoor ek die geluid van reën.
YOU ARE READING
Groei
Science FictionIn 'n wêreld waar kos beheer word deur die elite, vind sy haarself in die gebou van GroeiKorp; die meesterbreine en skeppers van genmods en genetiese gemodifiseerde kossade wat natuurrampe kan weerstaan. Januarie 2024 Prompt: The Door - You/Your cha...