Groen

27 4 3
                                    


Februarie 2024

Prompt: Image

Word count: 1000/1000

Genre: Post-Apokalipties / Distopies

*Unedited*


Reën bots teen die dak van die verlate huis. Ek kruip in die skadu's, my hart klop wild.

Kai se warm lyf roer geluidloos langs my. Ek sit my hand liggies op haar rug; voel hoe die spanning verdwyn. Haar ore is kiertsregop gespits. Sy wag vir 'n teken van lewe; 'n geritsel van blare, veraf voetstappe of selfs dowwe stemme in die donker. Maar daar is net stilte. Doodse stilte wat my aan die grafte, die massagrafte oppad na die Moederstad toe, herinner.

Ek ontspan. Die hommeltuig is verby. Die voetsoldate met hul dowwe oë het nie gevolg nie. My knieë gee meteens in. Ek sak neer langs Kai. Die adrenalien verlore in my liggaam.

Kai roer tot op my skoot. Sy gaan lê tjoepstil, haar ore nogsteeds paraat. Die warmte van haar lyf laat my veilig voel.

Ek skuif my brille van my oë af en bekyk die vertrek waarin ons is terwyl my oë stadig gewoond raak aan die donker. 'n Rusbank waarvan die materiaal verslete is, staan in die middel van die vertrek. Die koffietafel lê op sy sy. Gebreekte fotorame lê orals op die vuil mat en 'n gebreekte vaas by my voete, die blomme al lankal uitgedroogte stokkies. Teen die muur is 'n ry gaatjies. Geweerskote.

Uit my baadjiesak haal ek 'n gevoude stuk papier uit. Ek vou dit oop en probeer sin maak wat daarop staan. Dis 'n padkaart. Een van die stokou kaarte wat gebruik was voor tegnologie alles oorgeneem het.

Ek druk my vinger op die rooi getekende oog, volg dan die rooi lyn suidwes na die kus toe; daar waar die groot berg is. Die plat berg wat se naam ek nooit kan onthou nie. Ek is skaars drie dae se stap weg van die Moederstad af - ek het nog vêr om te gaan.

My gedagtes dwaal na Eliam toe. Eliam met die dowwe bruin oë wat net die mooi in my kon sien. Eliam met die mooi hande wat die rooi pen gebruik het om my roete vir my te beplan. Elaim wat my uit die kamp help ontsnap het. Eliam wat inmekaar gesak het toe die skote afvuur...

Het die soldate darem sy lyk gesleep na die massagraf toe, om vergete te raak saam die res van die rebelle? Of het hulle hom net daar gelos, in die ooptes van die kamp, as 'n teken wat met jou sal gebeur as jy jou rug draai teen die Enklawe?

Ek vou die kaart presies op sy nate weer toe en bêre dit in my sak. Met 'n diep sug maak ek my oë toe...

'n Baba begin huil.

"Sjjjjt! Maak haar stil!"

Geweerskote weerklink in die verte.

'n Geskarrel klink oral. Voetstappe weergalm.

"Hulle gaan hoor! Maak haar stil!"

Tafelpote skuif teen houtvloer. 'n Glas val om, rol 'n ent van die tafel af, val en breek. 'n Valdeur kap toe.

Stilte.

My lyf ruk toe ek wakker skrik. Kai is meteens regop. Het ek iets gehoor? Het KaÍ iets gehoor? Nee, dis net my verbeelding. Dis altyd my verbeelding.

Ek het aan die slaap geraak; sonder om seker te maak die huis is veilig; sonder om 'n ontsnappingsroete te hê. Eliam se vierde reël. Hoe kon ek so dom wees?

My keel is kurkdroog. Wanneer laas het ek water gehad om te drink?

Ek haal Eliam se geweer uit die holster uit en kom gebukkend regop. Kai kruip 'n entjie voor my uit, neus op die grond, dan verdwyn sy die trappe op om die tweede verdieping te gaan verken, haar pote skaars hoorbaar.

Treë vir treë loop ek stadig na die kombuis, Eliam se geweer stewig in my greep voor my uitgehou. Die kans is skraal dat daar nog water in die krane sal wees, maar ek kan hoop.

Ek loop verby die yskas. Eliam se sesde reël: moet nooit die yskaste ondersoek nie. Ek het een keer daardie fout gemaak en kon vir dae lank nie die stank uit my neusgate uitkry nie.

Gebreekte glasstukke kraak onder my swaar stewels met elke treë wat ek gee. En dan vang dit my oog; teen die yskas, vasgesteek met 'n magneet; 'n foto. 'n Foto van 'n gesin voor 'n groot dubbelverdieping huis. Hulle glimlag.

Die magneet val na die grond toe ek die foto tussen my vingers neem. Ek staan vir 'n oomblik en kyk na hulle.

Die ma en pa hou hande vas. Haar blonde hare is vasgemaak in 'n vlegsel, haar kop rus op die man se skouer. Hy staan kiertsregop. Hulle dowwe oë kyk hartseer na die kamera. Hulle glimlagte is leeg. My oë val op hul wit jasse met die embleem van 'n oog teen hul bors geborduur.

En dan beweeg my oë af na die seuntjie; met die grootste glimlag en sy onskuldige oë. Dieselfde groen oë as myne. Dieselfde oë wat die Enklawe jag.

Hoe oud was hy? Ses? Sewe? Vir hoe lank was hy gelukkig? Vir hoe lank het hy sy mooi oë gehad voordat die Enklawe dit gesteel het?

Die agterdeur ruk oop. Ek spin om en gaan op my hurke. Ek rig Eliam se geweer op die indringer.

In een beweging stamp die indringer die deur toe, sluit die skuifslot en val dan neer op die vloer met sy rug teen die deur. Hy is uitasem. Hy vee sy lang hare uit sy oë. Sy hande skiet die lug in toe hy Eliam se geweer gewaar. Maar ek skiet nie. Hoekom nie?

Daar is 'n ongemaklike stilte. Nie een van ons weet wat om te doen nie. Dan breek sy stem die stilte. "Groen oë... jy't groen oë." My hand skiet na my brille wat om my nek hang. Eliam se eerste reël: moet nooit jou brille afhaal nie.

Sy linkerhand beweeg stadig na sy donkerbrille. "Moenie skiet nie." Sy pleit is bewerig.

Stadig haal hy sy brille van sy oë af. Dit neem my 'n rukkie om te besef wat ek sien.

Sy oë is groen.

You've reached the end of published parts.

⏰ Last updated: Apr 06 ⏰

Add this story to your Library to get notified about new parts!

GroenWhere stories live. Discover now