Vanuit die as

64 6 9
                                    


Hy voel die ongunstige reuk van die butaanmengsel in sy neus opstoot. Die vae gisgeluid fluister na hom in die donker. Sy regterhand soek na die aansteker langs die stoof terwyl sy linkerhand die knop wat die gasvloei beheer vasdruk. Die gas ontvlam en verhelder die kombuis soos 'n lamp. Hy plaas die aluminiumketel op die blouvlam. Hy haal 'n beker uit die kas. Twee teelepels suiker, twee teelepels koffiepoeier, genoeg melk. Sy hande ken die rympie. 'Koffie... Ja, koffie.' dink hy 'Ek kan reeds nie slaap nie - ek kan net sowel...'

Joshua vryf met sy growwe palms oor sy moeë oë. Hy strek sy arms dan wyd uit en voel hoe die stram spiere in sy rug trek. Hy leun teen die kombuisrak. Dit neem nie lank nie voordat hy hoor hoe die ketel 'n perfekte noot fluit. Hy neem die ketel en vul sy beker. Hy plaas die ketel op 'n ander stoofplaat. Sy beker koffie sit hy op die tafel neer. Hy draai dan die koperknop van die stoof en die ywerige vlam sterf 'n onmiddellike dood.

By die kombuistafel maak Joshua homself gemaklik. Hy drink stil-stil sy koffie in die donker. Alles, tot die krieke buite, is stil, behalwe die gebeure van vroeër die dag wat steeds in sy gedagtes maal. Elke beweging, elke woord, elke emosie is nog vars in sy geheue. Oor en oor voel hy dit afspeel en hy kan nie daarvan ontsnap nie.

Dit het so onskuldig begin. Hoe kon dit dan so verwronge uitgedraai het? Dit neem nie lank nie voordat die knaende herinneringe hom oorrompel en in 'n terugflits hom ontvoer na drie-uur daardie middag.


"Dankie. Die koffie was smaaklik." sê sy en tuit haar lippe soos wat haar gewoonte is.

"Ek wou jou nog vra..." sê Joshua. Hy maak sy keel skoon.

"Sjoe! Dit klink gewigtig!" Ané se helder lag weerklink in die stil koffiekroeg in Vierdelaan.

Hy glimlag flou. "My ma het ons weer volgende naweek genooi. Sy het gesê dat dit 'n jammerte is dat sy jou nie Saterdag kon ontmoet nie. Dit klink of sy jou baie graag wil sien." Hierdie keer is sy glimlag opreg en fyn lagplooitjies verskyn om sy oë.

Ané ignoreer sy tergende stemtoon. "Hoekom?" vra sy botweg. Haar groen oë se kleur verdiep.

"Sy wil seker weet wie die bokkie is wat haar seun so besig hou." terg Joshua verder.

"Nou as ek jou so besig hou dan kan jy mos alleen vir haar gaan kuier!" Sy is onmiddellik op haar perdjie. "Ek het jou gesê ek kan nie die werksfunksie mis nie toe jy my laas week saam genooi het!" Sy swaai haar vinger beskuldigend rond. "Ek kan nie net spring whenever jy of sy wil hê ek moet nie!"

Joshua se wind is uit sy seile. "Skatlam, ek het niks daarmee bedoel nie. Ek wou net hoor wanneer jy 'n tydjie het om saam met my na haar te gaan. Sy het volgende naweek voorgestel, maar ek het haar gesê ek sal by jou..."

"Jammer om te onderbreek." Die kelnerin verskyn langs hul tafel. "Hier is die rekening, Joshua." Sy plaas die piering met die rekening op die tafel.

"Vreeslik dankie, Emma. En dankie dat jy weer my regular spot vir my reg hou." glimlag hy.

"Natuurlik. Ek weet mos jy kom gewoonlik hierdie tyd van die middag hierlangs." Die meisie neem die leë koppies kombuis toe.

"Ek hou nie daarvan as jy my so ignoreer nie!" sê Ané vies. Sy vou haar arms.

"Ek ignoreer jou nie, ek dink net dat ons nie voor haar moet baklei nie. Wat tussen ons gebeur bly tussen ons."

"O, né? Ek weet jy ken die meisietjie al donkiejare. Moenie vir my kom sê dat jy haar nie vertel wat presies in jou lewe aan gaan as jy so gereeld hier by haar kom lê nie." spoeg sy.

Vanuit die asWhere stories live. Discover now