Eendag, nie so baie lank gelede nie, sommer net onlangs, was daar ‘n eendjie. Haar naam was Kwasi Kwaki. Sy was nie lelik nie en het ook nie ‘n swaan geword nie.
Nee, sy was anders. Sy het ‘n duikbril gedra wat nogal handig was as sy diep in die modder geduik het. Haar ma het vertel dat sy langer as ander eende gevat het om uit te broei. Kwasi Kwaki kon vir lang tye stilsit en droom terwyl sy staar na haar eie weerkaatsing op die water. Dit het vir haar soos ‘n maatjie-eend gelyk en dan het sy soontoe geduik — net om agter te kom die maatjie in die water is weer weg.
Bo-op haar stertvere het sy krullerige goue veertjies gehad en Kwasi Kwaki het altyd in die rondte geswem om dit te probeer raakgryp. As sy so swem het dit vir die ander eende gelyk of sy op die water loop. Hulle was sprakeloos en het later vir Kwasi Kwaki met jaloerse en agterdogtige oë aangekyk. Haar nek was lank en al was dit effens skeef het sy gewéét dat sy verder as die res van die eende kon sien.
Kwasi Kwaki het by die paddas geleer om te kwaak en sy wou nie saam in die eendekoor sing nie. Om te leer vlieg het sy die wildeganse dopgehou. Een van hulle het haar gewys hoe om sagter aarde toe te kom sodat sy nie elke keer ‘n noodlanding hoef te maak nie. Sy was nogal jammer toe hy weer weggevlieg het saam met die ander, dit was vir haar lekker om saam met hom in die water rond te plons.
Op ‘n dag het sy ‘n boot gesien wat op die rivier vaar. Oral op die boot was mense wat gelyk het of hulle met iets besig was, hoewel elkeen iets anders gedoen het. Kwasi Kwaki wou op die boot klim en deel word van hierdie lewendigheid. Maar hoe om bo te kom? Sy kon nie so hoog vlieg nie en ook nie roep om hulp nie. En toe gebeur dit: twee groot deurskynende spierwit handskoene het haar opgelig uit die water en op die boot neergesit. Sy was so opgewonde dat sy skoon vergeet het om dankie te sê. In elk geval het sy ook nie geweet vir wie sy moes bedank nie.
Op die bodek was ‘n paar mense wat haar genooi het om saam met hulle te eet. Maar sy het nie van die worsies gehou wat hulle vir haar op ‘n bord aangedra het en met ‘n lepel wou voer nie. Sy het verkies om self te pik in die modder, te duik in die dieptes om te soek vir haar kos en om haar eie sosaties te pak van wurmpies, saadjies en bessies.
In die slaapkajuit van die bemanning kon sy nie haar eie slaapplek vind nie. Sy wou graag met haar kop onder haar vlerk op die kaptein se hangmat aan die slaap raak, maar daar het almal haar weggejaag. Een keer het sy wel skelmpies in die hangmat gelê en ingedommel van al die boot se geskommel. Toe sy wakker word, het sy gesien hoe die kaptein met vriendelike donkerbruin oë haar aankyk voordat hy uitgaan en opklim na die uitkykpos. Kwasi Kwaki het gewonder wat hy daar bo doen en sy wou ook soontoe gaan. Maar hoe sou sy daar kom?
Sy was te skaam om die kaptein se hulp te vra, die ander bemanning sou haar uitlag en sy kon nie trappe klim nie. Vir lank het sy die trapleer bekyk en haar plan uitgedink om op te klim ten spyte van haar platvoete. Maar o wee, die eerste poging wat sy aanwend om met die hangende trappe na bo te klim, haak haar voet vas en sy het pardoems weer op die dek beland. Vasbeslote het sy weer probeer, maar hierdie keer het haar stertvere vasgehaak en sy het haar balans verloor.
Holderstebolder was sy terug op die dek, wat ‘n teleurstelling. Boonop het een van haar goue veertjies uitgeskeur en dit was nogal seer. Moedeloos maar desperaat wou sy weer probeer. Mirakuleus het die twee handskoene haar stewig om haar ronde lyfie vasgehou en op die uitkykpos neergesit. Hierdie keer het sy wel saggies “dankie” gekwaak, maar onmiddellik skaam gevoel omdat dit gevoel het of sy met haarself praat.
Uiteindelik was sy in die uitkykpos. Sy het rondgekyk en gewonder waarom sy hier wou wees. Sy het vir ‘n paar dae die kaptein dopgehou en het skelmpies geëet van sy oorskietkos voordat die matrose sy bord kom haal het. Daar was twee lang goed waardeur die kaptein gekyk het. As hy deur die lang ding gekyk het, het hy altyd ‘n frons gekry. Later het sy gehoor dat die matrose van die lang ding as die “teleskoop” praat, maar sy het nie geweet wat die kaptein eintlik daarmee doen nie. Soms as die son geskyn het en daar nie wind was om die boot aan te dryf nie, het die kaptein deur die korter dingetjie gekyk. Die bemanning het dit partykeer skelm weggedra en dan het die kaptein hulle ferm maar vriendelik gevra om sy kaleidoskoop terug te bring. As hy daardeur gekyk het, het die kaptein liggies in sy oë gekry en geglimlag.
Maar Kwasi Kwaki het gewonder hoe sy die twee goed sou kon oplig om daardeur te kyk? Sy het rond gekyk of sy nie die twee handskoene sien nie, maar het niks gewaar nie. Eers het sy met haar platvoete probeer om die groot ding op te lig, maar verniet. Met verbasing het sy van haar goue stertvere onthou. Met ‘n potsierlike poging het sy haar lyf gedraai. Haar een ogie het deur die groot kant van die lang ding gekyk. Die boot het bietjie meer as gewoonlik gewieg en sy kon eers niks sien nie.
Vir ‘n oomblik het sy egter gedink dat sy wel iets gesien het. . . dit het eintlik nogal vir haar gelyk soos die maatjie in die water. Maar hierdie ding was te swaar vir haar stertvere, sy sou liewer probeer om deur die ander korter dingetjie te kyk. Kwasi Kwaki het die kleiner ding opgelig, met haar ander ogie geloer en die wonderlikste kleure en vorms diep binne-in gesien wat in die rondte draai en beweeg elke keer as sy daaraan geraak het. Dít was dus wat die kaptein se oë en mondhoeke sag laat word het. Moeg van al die inspanning en opwinding het Kwasi Kwaki net daar aan die slaap geraak.
Toe sy later weer wakker word, was die kaptein weer besig om deur die lang ding te kyk. Daar was dus sowaar iets! En hy skree. Kwasi Kwaki het gewonder wat gaan aan, want dit wat sy gesien het, het haar opgewonde gemaak, maar niks om so oor te skree nie. ‘n Beroering op die bo-dek het haar versigtig ondertoe laat loer, want sy was eintlik bang iemand sien sy was hier bo. Netnou jaag hulle haar weer weg.
Van blote skok het Kwasi Kwaki net daar vir die eerste keer in haar lewe ‘n eier gelê en onthuts het sy vanself besef dat sy hierdie eier móés warm hou — sy kon nie ondertoe gaan om te kyk wat aangaan nie. Lank het Kwasi Kwaki so op die eier gesit om dit te laat uitbroei, en intussen het die lewe by haar verbygegaan … Sy kon nie anders as om maar die worsies te eet wat die matrose vir haar gebring het nie.
Net een keer was sy daarvan bewus dat twee hande haar na die kaptein se hangmat geneem het, haar saam met haar eier daarin gesit het en ook ‘n paar tarentaalvere wat die lêplek nog sagter gemaak het. Toe die eier uiteindelik kraak en oopgaan, was daar ‘n weerbarstige klein eendjie met goue donsveertjies wat in die lug staan, platvoetjies wat skop-skop — ‘n parmantige enetjie wat gou-gou waggel-waggel agter haar aangeloop het en saam met haar in die water rondgeplas het.
Vinnig het Kwasi Kwaki hierdie eendjie geleer hoe om te kwaak sodat selfs die paddas hom kan verstaan, hoe om in die rondte te swem, hoe om op die water te loop, hoe om te vlieg, hoe om te balanseer op ‘n touleer, hoe om sy eie sosaties te pak en wat die verskil tussen ‘n teleskoop en ‘n kaleidoskoop is.
