Dit is vir Ronnie n uitgemaakte saak hoe hy vandag gaan stem. Dit is tyd dat mense weer stemreg kry in hierdie wêreld. Dit word haas onmoontlik om die haglike toestande waarin mense bly mis te kyk. Die vestings bied min beskerming teen die elemente, terwyl die maghebbers hulleself verksans agter temperatuur-gereguleerde mure! Dit is n skreiende skande! Die onreg van die wanbalans stuit Ronnie voor die bors.
Hy het nie altyd so geredeneer nie. As blokman, het daar by hom geen grysgebied bestaan nie. Hy het geweet waar elkeen se plek was en hy het gesorg dat die skanse tussen die verskillende partye veilig gehou word teen enige aanvalle. Die saak was klinkklaar. Vanwaar dan hierdie nuutgevonde kennis dat die skanse onregverdig is? Ronnie is nie geprogrammmeer tot selfondersoek nie. Dit kom nie by hom op om hierdie vraag te vra nie. Sy bedrading is so opgestel dat hy n probleem identifiseer en dan soek na n oplossing om die probleem so effektief moontlik te elimineer. Dit is waarom hy weet dat vandag se stemmery pure oëverblindery is. Hy kan heel teenstrydig met sy eie besluite stem as hy wil. Die uitkoms van hierdie referendum is uitgemaak. Hy het self daarvoor gesorg. Ronnie pons sy stem in die sisteem in.
Nadat die blokman sy stem ingepons het, is daar by hom geen teken van skuld of tevredenheid te bespeur nie. Dis nie in sy vermoë om emosie te ervaar of te uiter nie. Hy is doelgerig, klinies en saaklik; die verpersoonliking van alles waarna Kunsmatige Intellegensie nog altyd gestreef het. Anders as die robotte wat geprogrammeer word om menslike emosies na te boots, die Estitika. Hierdie robotte besorg hom eindelose ongerief en probleme in sy werk.
Dit is grootliks te danke aan hulle dat daar voortdurend geld bestee moet word aan onsinnige sake soos kunsgallerye, dieretuine, musiek en vele ander voorbeelde wat hy met groot gerief uit sy lewe sou wou sny. As dit van hom afgehang het, was alle oorblywende mense lankal in dieretuine gevestig met behoorlike maatreëls in plek om getalle te beheer. Maar nee! Die Estetika Robotte veg vir die behoud van Retro-bewaring en wil dat mense steeds vryheid van beweging geniet tussen die robotte. Na alles, hou hulle geen gevaar in vir robotte nie. Hulle is skadeloos.
Skadeloos? As Ronnie geprogrammeer was om te snork, sou hy. As die Estetika spul maar geweet het waartoe mense alles in staat was! Maar hulle sit veilig in hulle estetiese waan van retro-bewaring en hoef hulle nie op te hou met die dag tot dag aanslae op die moederbord wat hulle wêreld beveilig nie. Dit is sy taak. Hy is die blokman. Hy moet keer dat die virusse nie deurglip en chaos in die geordende samelewing veroorsaak nie. Hiervan weet hulle niks nie.
As Ronnie geprogrammeer was om sinies te glimlag, sou hy dit nou gedoen het, maar hy is nie. Hy kan slegs klinies redeneer oor die vermorsing van energie en hulpbronne wat die Estetika gelukkig hou. Dis nie die eerste keer dat Ronnie oor hierdie sake redeneer nie. Nee, die eerste keer wat hy hierdie saak bekyk het, het hy dit as n probleem geïdentifiseer. Daarna het sy eie progremmering ingeskop en hy het die beste metode gevind om die probleem te hanteer. n Klein verstelling in die algoritmes was al wat nodig was. Die Estetika span is nie eens bewus daarvan dat hulle kreatiwiteit op n ses-maandelikse siklus roteer nie. Hulle is oortuig dat hulle kunswerke in gallerye en museums bewaar word, maar dit is slegs nodig om een kopie van elke werk te bewaar. Beskadigde werke word vervang en die res word verbrand. Die verstelling in die algoritme sorg dat hulle salig onbewus bly van die feit dat hulle elke ses maande oor en oor dieselfde werke produseer. Gerieflik, hanteerbaar, beperk, veilig. Dis soos hy van sy bestaan hou.
Stemdag is egter nie n gerieflike dag nie. Vandag kan hy verskeie aanvalle op die sisteem verwag. Hy gaan bontstaan.
Wanneer hy met ander robotte te doen het, is sy bestaan vervelig en voorspelbaar. Hy weet presies waartoe elkeen in staat is en hoe hulle sal optree. Hierdie voorspelbaarheid van sy ewe-knieë het meerderwaardigheid by hom geskep. Daar was besluit om hierdie kennis tot die blokman te beperk om sodoende verhoogde bestaansgehalte vir die res van die robotte te verseker. Dit bevredig hom om te weet waar hy staan met ander robotte. Tog is daar iets in sy programmering wat net genoeg ruimte laat vir 'n behoefde aan mededinging. Dis waarom hy die interaksie met die mense geniet.
YOU ARE READING
Die Blokman
Science FictionDis stemdag. En almal wag in spanning om te sien wat die blokman gaan doen. Die wêreld is oorgeneem deur robotte en mense is gereduseer tot onderdane van die tegnologie. Een man het egter voorsien wat in die toekoms kon gebeur en die nodige voorsorg...