Dit voel soos 'n oomblik terug dat ek my oë toegemaak het, tog is dit daglig wat my wakker gemaak het. Die bed is nogal ongemaklik knap vanoggend. Ek maak my oë werklik oop en kyk om my rond, vroulief lê nog rustig in droomland en die kinders is nog vas aan die slaap. Hulle het seker iewers in die aand tussen ons kom lê. Ek gaan kombuis toe en ek begin met my oggendritueel. Skakel die ketel aan, en begin oefen terwyl die water kook, haal twee sakkies tee uit die glas vles en plaas hulle in die teepot met 'n teelepel heuning en 10 druppels suurlemoensap, sodra die ketel kook word warm water oor die mengsel gegooi sodat dit kan trek. Op my foon sien ek daar is 'n e-pos wat wag. 'n Vryskutaanbod; iemand in die parliment is besig om moeilikheid te maak. Ek is mal daaroor om met politici te werk, jy hoef nie skuldig te voel nie. "Vertel my meer." stuur ek terug terwyl ek die tee in my beker gooi en studeerkamer toe gaan. "Sy naam is mnr J Gordan. Indiese man, 56 jaar oud, ongetroud. Hy ry 'n groen Audi A3 RPK724FS elke oggend 9 uur stop hy vir koffie by Mugg, ons dink nog altyd sy liefde vir spoed in die stad gaan hom laat verongeluk." Ek glimlag, ongelukkig is altyd so lekker. In die studeerkamer sluit ek die kluis oop en haal 'n vuurhoutjieboksie met 'n antenna uit. Dit wil voorkom ek gaan bietjie koffie drink vanoggend. Ek drink my tee en gaan gee my vrou en die kinders 'n soen voor ek by die huis uitgaan. Vandag voel soos 'n motorfiets dag. Ek klim op die swart Ninja en ry by die stad in. Daar is iets bevrydend daaraan om op die rug van 'n ysterperd te sit en lekker deur die verkeer te weef terwyl die res van almal gefrustreerd sit en wag.
Nodeloos om te sê ek was lekker vroeg by Mugg & Bean, gelukkig ken hulle my al as die vryskut- skrywer wat elke nou en dan 'n beker swart koffie kom drink en op my mini skootrekenaar skryf; 'n bekende, maar nie iemand wat uitstaan nie. Ek twyfel of enige een my sal kan herken as meer as net 'n 'regular'. Vir 45 minute sit en skryf ek baie lekker aan my nuutste roman. Hopelik verkoop die een goed genoeg dat ek bietjie minder tyd hoef te spandeer aan my "ekstra" werk. Die groen Audi stop voor Mugg & Bean, nogal in 'n parkeerplek vir beweginsbeperkte mense, maar soos verwag makeer die bestuurder niks fisies nie. Ek betaal rustig my rekening en loop by die winkel uit. Langs die Audi maak ek my veter vas, ek het dit natuurlik in die winkel los gemaak juis vir die doel, terwyl ek dit vasmaak plak ek die vuurhoutjie boksie teen die binnekant van die wiel vas. Volgens die inligting verskaf spandeer hy nooit meer as 15 minute hier nie, ek tik 25 op my selfoon en druk stuur.
Ek ry rustig terug huistoe. Ek maak ontbyt vir my gesin wat lekker laat geslaap het op die Saterdag.
My vrou kom soos haar gewoonte is met die foon in die hand kombuis toe, elke oggend eerste ding wat sy doen is om NetNuus te lees en dan of ek wil hoor of nie vir my te vertel wat sy dink belangrike gebeure is. Helga skud haar kop toe sy by die kombuis inkom. "'n Politikus het weer gedink hy is bo die reëls vanoggend. Die man het glo 150 op die snelweg gery en beheer van sy voertuig verloor. Dis 'n genade dat niemand anders dood is nie." vertel sy. Nog 'n jaar se huispaaiment en die kinders se skoolgeld en naskool is die jaar betaal. Gaan deur my gedagtes toe die sms op my foon die inbetaling bevestig. "Soms werk God op vreemde manier, dink jy nie liefie?" vra ek half spottend.
Dit is Maandag en die huis is stil na Helga en die kinders gery het. Ek stap net voordeur toe om die koerante te gaan optel en berê hulle in die studeerkamer terwyl ek gaan koffie maak.
Maandae begin my werksweek amptelik met al die nasionale koerante en 'n beker filter koffie in my studeerkamer, dit is nou natuurlik na vroulief en die kinders gery het skool toe. Die Oom en Tannie wat my koerante kom alfaai het al telkens voorgestel ek moet eerder by Kaboedel inteken as ek so baie koerante wil lees, die realiteit bly wel daar is net iets anders daaraan om 'n nota op papier te maak of om met 'n merkpen 'n gedeelte op 'n gedrukte koerant uit te lig. Ek lees ook meer met aandag as ek die koerant in my hande vashou en die papier tussen my vingers voel wanneer ek lees. 'n Vruskutjoernalis en -skrywer moet konstant op datum bly met wat in die land en wêreld aan die gang is. Vir die res van die wêreld beteken 'n brokkie nuus wat misgelees is amper niks nie. Wanneer jou inkomste kom uit die verspreiding en uitbreiding van nuus of verhale daarop gebaseer, kan jy nie bekostig om enige iets te mis nie. Wat vandag gepubliseer is, vertel mens ook wat mense wil hoor en wat die nuutste gier van die week is. Jy sal jou verbaas watter verskil dit maak hoe 'n joernalis 'n storie skryf. Op bladsy drie van The Times is 'n kort berig van 'n NN politikus wat met sy motor verongeluk het oppad werk toe, feitelik, droog en amper sonder emosie geskryf. Op bladsy vyf van die Oggendblad is 'n berig oor politici wat dink hulle is bo die reëls met ene raadslid van die NN as voorbeeld genoem, geskryf as 'n aanval teen die man. Die voorbladartikel van die Standard het 'n helder foto van 'n ongelukstoneel en vertel die tragedie van 'n opkomende leier wat die land sou verander wie se lewe kortgeknip is in 'n fratsongeluk op die N1 - alles heeltemal net 'n sameloop van omstandighede wat met enigiemand kon gebeur, ek vermoed die familie gaan die artikel hou.
Elkeen van ons skryf vir ons gehoor. Ek het al gewonder of ek nie eendag 'n roman moet skryf oor die werk wat ek doen nie, maar enige inligting wat 'n goeie storie sou maak, is te na aan die werklikheid en kan die skrywer kniediep in die mis laat beland. Behalwe vir die ongeluk en politici wat nie verander, maak nie saak watter party hulle van deelmaak nie, is die wêreld maar dieselfde as verlede week. Ek maak 'n paar nota's oor berigte en artikels wat moonltik uitgebrei kan word; hetsy dit nou 'n perspektief van die ander kant af is of bloot die kwessie duideliker maak, sowel as die wat opgevolg kan word en 'n reeks kan word.
Rondom tienuur begin ek 'n reeks e-posse stuur na die verskillende koerante en pitch idees. My inbus is ongelukkig dolleeg - behalwe vir die gemorspos. Die ekonomie maak dit moeilik om 'n vryskut te wees, maar die druk en strooi wat mense moet opvreet om permanent aangestel te wees, is net te veel.