Santie ry af in die besige straat in haar splinternuwe kar, met haar splinternuwe voorkoms. Sy voel soos 'n miljoen dollars!
Haar oog vang 'n bordjie voor 'n eksklusiewe reisagentskap. Sy maak net daar 'n onwettige u-draai onder luide geblaas van toeters.
By die agentskap sit 'n blonde bom agter die lessenaar en lyk vreeslik besig om inligting in die rekenaar te voer. Sy ignoreer Santie heeltemal. Met 'n geïrriteerde getik met haar nuut gemanikuurde naels op die lessenaar kry sy uiteindelik aandag van die blondine.
Die vrou kyk twee keer na Santie en spring byna op aandag en salueer toe sy haar sien.
Kan ek help mevrou?
Ja asseblief, as dit nie inbreek maak op jou kosbare tyd nie. Ek wil 'n twee weke lange vakansie boek na die Griekse eiland Santorini. Sommer so gou moontlik. Daarna twee weke na Disneyland in Amerika vir vier mense. Santorini net vir een persoon asseblief.
En hoe beplan u om te betaal mevrou?
Kontant natuurlik. Geld is glad nie 'n kwessie nie.
Santie het haar twee weke in Santorini beplan. Sy sou alleen gaan. Daarna sou sy terugkom om haar kinders op te laai en dan na Disneyland te neem.
Die reisagent het die 5-ster hotel bespreking gedoen by een van die eksklusiewe hotelle op die pragtige eiland. Santie wou nie saam met 'n toergroep gaan nie, maar wou alles op haar eie verken.
Santie het gewapen met die reisplan en kaartjies in haar bloedrooi motor geklim en daarna na Sandton City gery.
Sy het haarself daar en dan belowe om nooit weer by PEP-stores of A.C.Kermans klere te koop nie.
Verstom het sy van winkel tot winkel geloop. YDE, Vertigo Clothing, Sissy Boy, Rage clothing, Nicci......... almal het 'n deel van die Lotto-geld gekry. Sy het vakansieklere, stylvolle aandrokke, informele klere, bikini's, sonbrille, reisbenodighede, nuwe grimering, alles wat haar oë gesien en begeer het, gekoop.
Twee trollies vol klere en benodighede later, het sy voor die kinderklere winkel ook gestop. Haar kindertjies wat klere van die familie moes dra, het darem ook ietsie gekry. Sy was byna by die deure uit, toe die Gucci reistasse en handsakke haar aandag trek. Nog 'n vol trollie!
Gelukkig het 'n sekuriteitswag haar penarie raakgesien en gehelp om die trollies kar toe te stoot. Hy het die R200 footjie met groot wit mieliepit tande verwelkom. Vannaand kon sy kinders KFC eet!
Santie het al die klere in haar spinternuwe motortjie gepak, haar hare oor haar skouer gegooi, die Gucci's sonbril reggeskuif oor haar neus en agter die stuurwiel ingehop.
Met die snelweg langs het sy haar gehaas na haar ou klein huisie. Die kinders was mos nie by die huis gewees nie! Sy het besluit om hul nog 'n aand by haar ouers te laat oorslaap.
By haar huisie, het sy al haar nuwe klere weer aangepas. Sommer haar eie modeparade gehou vir wie ook al wou sien op die maat van die Beatles se musiek!
Daarna het sy alles sorgvuldig in die nuwe reistassie ingepak, haar vliegtuigkaartjie, paspoort en al die benodighede in haar nuwe handsak neergesit en uitgeput op haar bank neergesak!
Sy was sommer vinnig in droomland!
YOU ARE READING
Ek Sou Kon Doen Met 'n Miljoen
Short StoryWat sou jy met een of vyf miljoen rand of liewer dollars doen?