My Gunsteling Sprokies Verhale - 2

7K 6 0
                                    

My Gunsteling Sprokies Verhale

-deur Leonie Ferreira-

Voorwoord

Hier volg die volgende hoofstuk en natuurlik moes ek wik en weeg, want daar is so baie wat my gunsteling sprokies is. Wie kan nou hierdie een weerstaan? Dit is immers lekker om dit oor te vertel, met propvol aksies en oorgawe!

Hoofstuk 2

Die Drie Varkies en die Nare Groot Wolf deur Joseph Jacobs

Eendag lank, lank gelede was daar drie klein varkies wat by hulle ma gebly het. Die drie varkies was vrolik en avontuurlustig en het elke dag rond gehardloop en gespeel. Mettertyd het hulle ma vir hulle elke dag takies gegee om te doen, sodat hulle kan leer om eendag na hulle self te kan omsien.

Die eerste varkie was nooit lus vir werk nie en het altyd die takies half klaargemaak, sodat hy so vinnig as moontlik kan gaan speel en baljaar in die warm son. Die tweede varkie was altyd opgeruimd en lus vir werk, totdat hy uitvind hoe lank dit vat en dan gee hy moed op. Hy los die werk half klaar en gaan speel en baljaar in die warm son saam met die eerste varkie. Die derde varkie was 'n harde werker en het die takies altyd klaar gemaak in 'n opgeruimde bui en as daar tyd oor was het hy ook gaan baljaar en speel in die warm son.

Op 'n dag sê die drie varkies se mamma vir hulle: "Julle is nou groot genoeg en moet nou op julle eie uit gaan in die wonderlike groot wêreld. Mamma sal altyd lief wees vir julle en onthou - Pasop vir die nare groot wolf!" Sy gee elkeen 'n bondeltjie met kos daarin en gee hulle 'n soentjie op elkeen se voorkop. Die drie varkies neem die kos en stap saam met die grondpad langs.

Na 'n paar uur stap hulle verby 'n groot plaas met goud geel hooi daarop. Die eesrte varkie is alklaar moeg gestap en bedink 'n slim plan om 'n huisie te bou van hooi. Hy groet sy broers en woerts warts is die huisie van hooi kant en klaar. Die varkie speel en baljaar lekker.

Na nog 'n paar uur later stap die broers verby 'n plaas, wat rye en rye hout daarop het. Die tweede varkie groet dadelik sy broer en maak vir hom 'n huisie van hout. Dis stewiger as die huisie van hooi en neem 'n klein bietjie langer om klaar te bou. Maar ai! Was die varkie verheug en speel alte lekker daar buite in die son.

Die derde varkie loop verder en kom later by 'n plaas aan wat bakstene maak. Die varkie kry vir hom 'n hele paar bakstene en begin vir hom 'n huisie daarvan bou. Dit vat hom baie lank om die huisie te bou en teen laat aand was dit klaar. Die varkie is moeg en het nie eers tyd gehad om te speel nie. Hy maak vir hom lekker kos en gaan slaap.

Die volgende dag kuier die drie varkies lekker saam en baljaar. O wee, daar vêr in die agtergrond stap daar 'n nare groot wolf aan. Hy hoor die geraas en sien die drie varkies wat lekker speel. Hy kruip weg agter 'n boom en laat die middag volg hy die eerste varkie na sy huisie van hooi toe.

Die nare wolf klop aan die deur - Doef Doef Doef!

"Wie is dit?" vra die eerste varkie.

"Maak oop die deur varkie! Ek is honger!" sê die wolf.

"Nee, ek gaan nie!" sê die varkie.

"Nou maar goed varkie, dan gaan ek blaas en blaas totdat jou huisie plat is!" sê die nare wolf.

Hy blaas en hy blaas en in 'n japtrap is die huisie plat. Die varkie hardloop so vinnig soos wat sy kort pienk voetjies hom kan dra, na sy broer se huisie van hout.

"Maak oop broer!" gil die varkie. "Daar's 'n nare groot wolf agter my en hy wil my op eet!"

Die tweede varkie maak oop en sluit die deur en sê: "Toemaar ons is veilig hier binne. My huisie is baie sterker as die hooi!"

Die wolf wat nie vêr agter die varkie is nie, kom by die huisie van hout aan.

Die nare wolf klop aan die deur - Doef Doef Doef!

"Wie is dit?" vra die tweede varkie.

"Maak oop die deur varkies! Ek is honger!" sê die nare wolf.

"Nee, ons gaan nie!" skree die varkies gelyk.

"Nou maar goed, dan gaan ek blaas en blaas totdat die huisie plat is!" sê die wolf.

Hy blaas en hy blaas. Hy neem weer 'n diep asem in en blaas en blaas. Kaboem! Daar val die huisie plat. Die varkies hardloop so vinnig soos die wind, na hulle broer se huisie wat van bakstene gebou is.

"Maak oop my broer!" gil die varkies. "Daar's 'n nare groot wolf agter ons en hy wil ons op eet!"

Die derde varkie maak oop en sluit die deur. Die twee varkies gil en sê: "Ons moet vinnig hier weg hardloop, die nare groot wolf gaan ook jou huisie plat maak."

"Wees gerus my broers. My huisie is van bakstene en is baie sterker as die hooi en hout!"

Die wolf, wat kort op die hakke van die twee varkies is, kom by die huisie van bakstene aan.

Die nare groot wolf klop aan die deur - Doef Doef Doef!

"Gaan weg jou nare groot wolf!" skree al die drie varkies gelyktydig.

"Nou maar goed, dan gaan ek blaas en blaas totdat julle huisie plat is!" sê die wolf.

Hy blaas en hy blaas. Hy haal weer diep asem in en blaas en blaas. Die wolf blaas en blaas weer, maar niks gebeur nie. Hy is al moeg geblaas. Hy sien dat daar rook uit die skoorsteen kom. Hy klim vinnig op die dak. Die varkies hoor dit en sit 'n lekker pot water op die vuur sodat dit kan kook. Die wolf gly by die skoorsteen af tot binne in die warm pot water. Dit was die einde van die nare groot wolf.

Nou kan die drie varkies lekker speel en gelukkig saam woon, vir ewig en vir altyd.

Die Einde.

x-x

Julle kommetaar en stemme is baie welkom. Sal graag wil hoor van julle. Dankie!

My Gunsteling Sprokies VerhaleWhere stories live. Discover now