My Gunsteling Sprokies Verhale
-deur Leonie Ferreira-
Voorwoord
Sjoe, die derde hoofstuk al! Kan jy nou meer. Die tyd vlieg vinnig verby. Ek het nog nie stemme of kritiek gekry oor die vorige stukke nie. Maar dit gaan my nie van stryk afbring nie. Ek geniet dit en dis goed vir my siel. Ek het darem een nie-amptelike aanmerking gekry van die liefde in my lewe. Hoekom skryf ek nie my eie stories nie? Eendag op 'n reëndag............
Hoofstuk 3
Rooikappie en die Wolf deur die Grimm Broers
Eendag lank, lank gelede was daar 'n klein dogtertjie met lang rooi bruin hare, blink groen ogies en oulike sproete op haar wangetjies. Sy bly in 'n klein huisie naby die woud saam met haar ouers.
Sy is lief vir speel, stap en lees graag stories vir haar ouma wat in 'n naburige dorpie woon. Die dorpie is geleë aan die ander kant van die woud in die noorde. Wanneer sy vir haar ouma gaan kuier, stap sy op een van die paadjies deur die woud. Haar ouma het vir haar 'n mooi rooi jas met 'n kappie op vir haar gegee en van daar het almal haar begin Rooikappie noem.
Eendag roep haar ma haar en sê: "Rooikappie, neem asseblief die mandjie vol eetgoed na Ouma. Sy is siek in die bed en kan nie vir haarself kos maak nie."
"Goed, Mamma, ek sal dit doen en sommer vir Ouma ook 'n baie mooi storie lees, sodat sy gou beter kan word." antwoord Rooikappie.
Rooikappie is baie opgewonde en gaan haal een van haar gunsteling storieboeke. Sy trek haar jas aan, neem die mandjie en groet haar ma.
"Wees versigtig Rooikappie en pas op vir vreemdelinge!" sê haar mamma.
Rooikappie stap versigtig deur die bos en besluit om blomme te pluk vir haar siek ouma. Sy sien 'n klomp mooi blomme wat sy nog nooit tevore gesien het nie en gaan van die paadjie af om die blomme te pluk.
Ag nee, 'n nare wolf sien vir Rooikappie, wat besig is om blomme te pluk en volg haar.
"Dis mooi blomme." sê die wolf. Rooikappie steur haar nie aan hom nie en stap verder aan.
"Vir wie is die mooi blomme?" vra die wolf weer. Rooikappie stap al hoe vinniger om weg te kom van die wolf.
Rooikappie hou stil ewe skielik by 'n vurk in die pad, wat sy nog nooit te vore gesien het nie. Watter kant moet sy nou gaan? Die blomme wat sy gepluk het haar laat verdwaal.
Die slinkse wolf het haar stadig agterna gevolg en sit in die veld langs die pad. Sy sien die wolf en weet sy mag nie met vreemdelinge praat nie, maar sy moet die regte pad neem na ouma se huis toe.
"Kan jy asseblief vir my sê watter pad na die dorpie in die noorde toe gaan?"
Die ou karnalie van 'n wolf; wat elke boom, blom en pad van die woud ken; sê vir haar dat die regter pad die kortste en vinnigste is na die dorpie. Ai tog, wat 'n leuen het die wolf net nie vertel nie sodat hy vinnig kan jaag na ouma se huis toe.
Hy klop aan die deur. "Kom binne." fluister ouma.
Die wolf hardloop binne in, gryp vir ouma en sluit haar toe in die kas.
Die wolf trek een van ouma se nagrokkies en 'n mussie aan en klim in die bed.
Rooikappie kom later daar by ouma se huisie aan en gaan binne in, sit die mandjie op die tafel. Die blomme rangskik sy in 'n glas water en laat dit in die vensterbank staan.
Sy kom by die bed en sien dat daar iets aardig fout is met ouma.
"Ouma,..." vra Rooikappie "Hoekom is ouma se ore so groot?"
Die wolf antwoord in 'n skril stemmetjie: "Dis om jou beter te hoor my kind."
"Ouma, hoekom is ouma se oë so groot?" vra Rooikappie.
"Dis om jou beter te kan sien, my kind." sê die wolf.
Rooikappie vra weer: "Hoekom is ouma se neus so groot?"
Die wolf antwoord: " Dis om die blomme beter te kan ruik, my kind."
"Maar ouma, hoekom is jou mond so groot?" vra Rooikappie.
Die wolf grom en sê: "Dis om jou op te eet!"
Rooikappie hardloop vinnig weg en skreeu vir hulp. 'n Houtkapper, wat daar naby besig was om hout te kap, hoor vir Rooikappie. Hy hardloop vinnig na ouma se huisie toe en kom tot haar redding. Hy slaan die wolf oor die kop en maak swaer klippe om sy voete vas en gooi hom in die rivier totdat die nare wolf verdrink.
Hulle hoor vir ouma mompel in die kas en maak dit oop vir haar. Rooikappie en ouma is bly die nare wolf is weg en nooi die houtkapper vir koek en tee.
En almal woon gelukkig in al die dorpies saam vir ewig en vir altyd.
Die Einde.
x-x
Julle kommetaar en stemme is baie welkom. Sal graag wil hoor van julle. Dankie!