Meer as reën

71 4 6
                                    

Sy het nog altyd die reën liefgehad, dink sy.  Nog altyd.  En deeglik ook.  Sy weet hoe belangrik dit is; dit bring lewe, les die aarde se dors, was skoon, vernuwe...  Miskien was dit omdat sy as 'n boer se dogter grootgeword het en besef het hoe oorgelewer die mens is aan die natuur.  Hoe dit ook al sy, sy weet reën is 'n genadegawe en sy is ongelooflik lief daarvoor.

Die gedruis van die stortreën bo op die sinkdak is vir haar mooi.  Selfs al verdoof dit die klank van haar kêrel se bakkie en deurweek sy klere sodat hy sopnat op die stoep kom staan, sal sy steeds nie genoeg van die reën kry nie.

Deur die kombuisvenster sien Esmari hoe hy die modder van sy skoene af skud.  Sy swaai die deur oop voordat hy kan klop.

"Kom in, voordat jy weg spoel!" juig sy.

Verbaas groet hy haar.  "Ek het nie geweet jy is hier nie.  Sou jy nie vandag op die dorp wees nie?"

"Dit reën al heel nag só.  Die rivier behoort enige oomblik af te kom en ek wil nie aan die anderkant gestrand wees nie.  Ek het liewer my planne gekanselleer."

"O."  Hy tree die vertrek binne en maak die deur agter hom toe.

"Staan net so, ek gaan 'n handoek haal."

Hy neem die handoek by haar en vryf oor sy nat hare voordat hy dit oor sy skouers drappeer en die res van die water uit sy klere probeer vryf.

"Hallo liefste kind.  Goeiste, jy is papnat!" groet Esmari se ma.  "Kon jy darm deur die rivier kom?"  Haar stem is vrolik en opgewek.

"Ja Tannie, maar as dit so aanhou is ek dalk vasgekeer hier by Tannie-hul."

'n Gedagte flits deur Esmari se brein.  "Wat maak jy hier vandag?" vra sy.

Hy frons.  "Ek... Ek het iets by jou pa kom hoor."

Dis haar beurt om te frons.  "O, wat het jy kom hoor?"

Dewald maak sy, mond oop om te praat maar Esmari se ma praat eerste.  "Toenou, Es, gaan soek vir die arme man 'n stel droeë klere.  Hy gaan koue vat as hy hier aanhou staan en drup."

Sy maak gedwee soos haar ma versoek.  Sodra sy die gang bereik hoor sy haar ma iets saggeis vir Dewald sê.  Sy is net te ver om te hoor wat die gesprek behels, maar sy is oortuig dat Dewald – en duidelike haar ma ook – iets vir haar wegsteek . Esmari spring heel eerste na die ergste.  Miskien het iemand iets oorgekom en hulle wil haar teen die nare waarheid beskerm, dink sy.  Sy haal een van haar pa se t-hemde uit die kas.  Sy skud die gedagte uit haar kop; haar ma sal nie so iets van haar weerhou nie.  Sy sal in elke geval mettertyd moet uitvind wat aangaan as daar so 'n voorval was.  Uit 'n laai haal Esmari 'n broek wat Dewald op 'n vorige besoek daar vergeet het. Miskien is dit 'n verrassing, wonder sy.  Sy tel vining.  Dis vier maande voor haar vier-en-twintigste verjaardag en enige ander spesiale dae is reeds verby.  Sy stoot die laai toe.

In die donker gang loop sy hom amper onderstebo.  Hy mompel 'n verskoninng, neem die klere by haar en bedank haar terwyl hy in die badkamer in verdwyn.

"Waarom frons jy weer so?" praat haar ma van agter die tuimeldroeër.

"Dewald is vreemd vandag, weet Ma miskien hoekom?"

Esmari se ma se hande raak stil waar sy knoppies op die masjien se panel druk.  Sy draai haar kop stadig na haar dogter.

"Ek het nie so opgemerk nie." glimlag sy en vroetel verder met die verstellings.  "As hy sy nat klere bring kan julle dit net byvoeg en die deur toe druk."

"Ma is ook vreemd."  Sy skuif 'n stoel by die kombuistafel om te gaan sit.

"Miskien verbeel jy jou."  Haar ma vee na die woorde in die lug met haar hand.

Meer as reën    (More than rain)Where stories live. Discover now