Sy was ‘n lelike blêrrie ding. Sy had ‘n neus so krom, die snot drup in haar mond met ‘n moes daarop so groot soos ‘n bosluis op ‘n Albertinia skaap se uier. Daar het hare uitgegroei, langer as die’ in James Small se kieliebakke en haar ken was so skerp soos ‘n pofadder se agterend. Haar lippe was so dun soos ‘n vlentergat se skoenveters en deur hul gleuf het drie geel tande vir jou geloer soos my ouma se ou telefoon nommer op Rooi Els – twee kortes en ‘n lange. Sy was krommer as ‘n verlepte komkommer, meer benerig as ‘n kameel geraamte, meer onheilig as ‘n Kaapse Biskop en sy’t gestink, erger as ‘n pisbossie op ‘n koue Karoo oggend op die van Rijn’s-vallei-vlakte. Die eelte op haar vingers was soos knope in ‘n tou en haar vingernaels was vlym-skerp, geel en giftig.
Niemand het geweet waar sy vandaan gekom het nie of hoe oud sy was nie. Sy was net altyd daar. Sommige het bespiegel sy was die vrou van ‘n Kaapse heer wat lank gelede gatvol geraak het vir haar dinge en geite en haar daar afgegooi het oppad terug van ‘n belangrike jaars vergadering in Johannesburg. Ander sê weer sy kom uit die Noordpool en is dieselfde Heks wat Scott se skip in die ys vasgetoor het. Nog andere reken hoogdrawend dat sy is beslis ‘n arbitrêre oorblyfsel van die steen-tydperk, ‘n intelligensie wat agtergebly het nadat die res van haar soort uitgesterf het. Ander weer het geglo sy was die spook van ‘n non van die ou Hepzibah sendelinge wat hulle daar in 1814 gevestig het. Hoe dit ook al sy, sy was ‘n enema.
Die storie was dat vir dekades lank het sy die kinders van Koolsberg gesteel en geëet. Gestop, gestoom en gebraai, het diegene gesê wat oorblyfsels van haar gruwel dade in die heuwels rondom Koolsberg gekry het. Huis en haard het sy nie gehad nie, sy’t net altyd verdwyn in die heuwels en die dorpenaars het gereken sy bly iewers in ‘n grot of ‘n gat onder die grond, die ponder Towerberg. Maar daar was al verkeie jag partye in die verlede uitgestuur om haar lê-plek uit te snuffel en die ou Heks van kant te maak, maar niemand kon ooit enige tekens kry van waar sy wegkruip nie. Die skoolhoof het gesê sy bly in ‘n ander realm, die dominee het gesê sy bly in die dieptes van die Hel en die ou by die garage het gesê hy gee nie ‘n fok om nie, solank sy net sy kinders uitlos. Hy’t hulle nodig vir petrol pomp en parte was.
Nee, neimand het geweet waar die ou uitvaagsel haar nes gemaak het nie, maar wat wel ‘n feit was, is dat kinders het verdwyn, en die grootmense wat haar pad gekruis het, het sleg daarvan afgekom. Sy wou hulle klaarblyklik nie eet nie, seker te seningrig of te stowwerig. Sommige het waansinnig van vrees geraak en in die malhuis beland, in ‘n toestand verval soortgelyk aan bomskok wat veroorsaak het dat hulle nooit weer hul huis verlaat nie en koes-koes by die venter uitgeloer het waneer die familielede besluit dit is tyd dat hulle ‘n slaggie die buite wêreld sien, of, hulle het net eenvoudig spoorloos verdwyn.
Die eerste keer toe ek haar gesien het, was in ‘n droom. Ek sê jou, dit was weird en scary. Ek was nie eens in Koolsberg nie! Ek was in my bed agter in my Pa-hulle se karavaan, in ‘n oornag-kamp net buite Beaufort Wes, oppad na Die Eiland vir ‘n Junie skool vakansie. Sy het my letterlik die grillies gegee. Met middagete het die hare op my lyf nog pen-orent gestaan en die geringste skaduwee het my laat spring soos ‘n bok-kapater wat weet hy soek niks in die Antie se groente tuin nie. Ek was maar net tien. Die volgende aand het ek weer van haar gedroom. In my droom het sy krom-krom en waggel-waggel maar met mening in haar stap ‘n bult uitgeklim. Dit was ‘n styl bult, die voete van ‘n klein bergie met ‘n plat kop, amper soos Tafelberg. Oor haar skouer was ‘n gooiing sak en in daai sak het iets gewriemel; iets so groot soos ‘n kind. Dan kom sy tot stilstand and loer oor haar skouer voor sy agter ‘n groot klip verdwyn. Sekondes later weergalm ‘n roerende, vreesbevange kreet deur die koppies wat uitgetrek lê oor ‘n dorre vlakte….
En so het dit aangegaan die hele vakansie deur. Elke nag, dieselfde droom. Ek het dit naderhand so goed geken ek kon die ou teef amper met die hand groet. Tenspyte van die feit dat ek die droom verwag het elke aand as ek my kop op die kussing sit, het sy my nog steeds die grillies gegee. En ek het gewonder hoekom droom ek van haar. Inteendeel, ek het nie eens geweet wie sy was, voordat ek nie my Pa van my drome vertel het nie. Hy tel my toe op sy skoot en druk my kop teen sy bors vas en sê,