Soms moet mens tussen die lyne lees. Al die name in die verhaal is mense in die regte lewe wat almal mekaar ken. Die letters van hul name is egter geskommel om ander name te vorm, bv. Hippil van Philip. Die verhaal self is egter fiktief.
_______________________________________
Lilloe stap by haar werk in en maak die deur agter haar toe. Sy werk al 'n paar jaar by die krediet-afdeling van Staanderde Beperk en het al gevorder tot kredietbestuurder. Vanoggend is sy in 'n besondere goeie bui. Dit voel of sy almal kan soengroet, maar dán sal hulle dadelik iets bemerk. Opgewonde, maar tog duidelik, uiterlik kalm, gaan sit sy by haar lessenaar en bêre haar handsak in die onderste laai.
Kan dit nóú nog nie glo nie! Sit Saterdagaand rustig en televisie kyk, die hele land se gunsteling program, Road to Riches. Sowaar, daar rol hulle al SES haar nommers uit, die een na die ander. Eers 19, 40, 13, 42, toe 3 en....10, en een of ander nommer vir die bonus. Sy probeer nie eers onthou wat dit was nie. Hoe het sy dit nou weer uitgepluis? Troudag, 3 Oktober 1982. Die getal 82 word opgedeel in 40 en 42. Omdat sy ALTYD so ongelukkig is met kompetisies, 13 vir geluk!
Sy en haar man Hippel, speel elke Saterdag elkeen EEN stel nommers, 'n volle uitgawe van VYF rand. Oorlede Pa het hoeka gesê mens mag nie dobbel nie! Hoe vang mens nou 'n vis as jy nie lyn, hoek, aas en sinker in die dam gooi nie? Hippel het terug gekeer van die die kafee af met twee kaartjies, apart gespeel en haar kaartjie oorhandig. Syne het hy ongeërg bokant die televisie, bo-op sy ander Lottokaartjies op die muureenheid neergesit. Sy het, sonder om voorop te kyk, haar details agter op die kaartjie ingevul, dit opgevou en in haar beursie langs die tjekboek gesit.
Sestien miljoen rand! Hoeveel nulle is daar? SES! Megabucks! Dit is nou al Woensdag en die hele land gons en wonder waarom dit nog nie opge-eis is nie. Sy giggel in haar enigheid oor haar geheim. Hippil sou 'n dubbele agteroor salto uit sy leunstoel gedoen het, as sy dán vir hom sou sê dat sy die Lotto gewen het. Só lank al tob sy oor die dag wat sy die GROOT een sou slaan.
'Wag twee weke voordat jy die geld gaan eis,' het sy vir haarself gesê. Dit gee jou genoeg tyd om rasioneel en met oorsig die geld aan te wend. Belê 'n paar miljoen, nog 'n paar miljoen vir aandele, oorsese aandele en 'n paar miljoen op die effekte trust. Stig 'n Trustfonds in die familie se naam en laat die rente en dividende soontoe gekanaliseer word. Die inkomste uit die beleggings kan gebruik word om eers die huis, dan die twee motors af te betaal. Daarna die uitstaande skuld, die familie so bietjie help en..... die hoogtepunt. 'n Reis oorsee saam met haar man. Sy droom al lank hieroor. Hoe sy by die venster van die straler uit staar en sien hoe die liggies van Parys, Frankryk, soos 'n diamant halssnoer onder hulle verby skuif. Tyd gaan haar voldoende kans gee om die wonderlike werklikheid te aanvaar en te verwerk.
Waar is haar Lottokaartjie nou weer? O, ja, sy het dit Saterdag sorgvuldig opgevou en agter in haar beursie, langs die tjekboek ingedruk. Die kosbare kleinnood, waarop haar naam, Lilloe Ramzit, identiteitsnommer en handtekening reeds aangebring is, ingeval dit mag weggraak, word met haar lewe bewaak. Sy besit 'n sluitkassie vir veilige bewaring, maar het niks anders waardevol genoeg om daarin toe te sluit nie.
Die plan tref haar teen die agtermiddag voor sluitenstyd. Met die tjekboek en Lottokaartjie in die handsak afgetrippel Juweliers toe. Dadelik 'n lieflike halssnoer vol 'diamante' gaan koop, op rekening. Die Cubic Zirconias kan later vervang word met die ware Jakob, solank dit in veilige bewaring lê, sal niemand weet nie. Baie versigtig word die Lottokaartjie onder die watte en halssnoer ingeskuif. Die kosbare spulletjie word sorgsaam in die sluitkas by die werk beveilig.
"Nog net tien dae, dan kom haal ek jou," fluister sy geheimsinnig vir die kassie, voordat sy omdraai en loop.
Maandagoggend, nog net ses dae oor. Saterdag is die groot dag, die dag wanneer AL daardie verruklike miljoene haar eiendom word. Sy en Hippil het die naweek weer Lotto gespeel, sy vir die bluf, maar dit was nie meer so opwindend nie. Op haar gemaklike manier beweeg sy deur die kantoor na haar lessenaar en haar oog vang die opskrif van die oggendblad.

YOU ARE READING
Kortverhale
Short Story'n Versameling kortverhale in die trant van ' Lag met 'n traan', maar tog soms koddig snaaks!