Troue van die jaar

31 0 0
                                        


Daar sluit ek uiteindelik by die geledere van disko joggies aan. Dit is die jar 1990. Met my karige Poskantoor bonus, koop ek vir my die nodige toerusting aan. 'n Tweeling draaitafel (platespeler) en twee hoëtrou luidsprekers, moet vir eers doen. Dit is al wat ek kan bekostig. Wat tot my voordeel strek, is dat Ma en Pa honderde langspeel plate van toeka se tyd Boeremusiek tot die nuutste Popmusiek oor die jare aangeskaf het.

Eers speel ek by huis-partytjies agtergrond- en dansmusiek. Die woord loop egter haastig oor my musikale vermoëns en ek gradeer op na bokjolle en danse. My grootste begeerte is egter om by troues musiek te speel. Ek hoor dit is 'n jol! Intussen doen ek maar die Mickey muis partytjies vir ondervinding want die geld is goed.

Dan bel meneer Barko Janse van Rensburg met sy versoek:" Ek soek iemand om by ons onthaal musiek te maak. Ons trou volgende Saterdag!" My hart klop drasties vinniger en ek moet keer om nie oorgretig te klink nie. Na 'n lang verduideliking hoe besig my skedule is en.... ek moet eers my dagboek raadpleeg, willig ek in. Ons kom ooreen vir die betaling. Die onthaal is by die Nelspruit Botaniese tuin, neem ek kennis.

Opelug partytjies is nie my gunsteling tydverdryf nie. Die arme klankstelsel gaan heel aand vol oop moet blêr. Die naaste mense aan die tuine is kilometers weg en sal dus nie gesteur word nie. Vrydagaand begin ek al die plate kies en uit sorteer. Luistermusiek dié kant en dansmusiek anderkant. Veertig plate behoort genoeg te wees vir die aand. 'n Verskeidenheid van agtergrondmusiek gemeng met voetjeuk dansmusiek word in 'n koeldrank krat gepak.

Saterdag breek aan en ek moet die oggend nog werk. My opgewondenheid laat my vir 'n verandering my werk geniet. Die agtermiddag pak ek al die musieke saam met Pa se opvou kamptafeltjie op die agter sitplek van my Volkswagen kewer. Die rit na die Botaniese tuin neem net tien minute. Met my aankoms by die klein geboutjie waar die kantoor is, besef ek hier gaan nog niks aan nie. Ek sorg altyd dat ek 'n halfuur voor die tyd opdaag. Miskien het ek die datum heeltemal verkeerd! Volgende Saterdag kon dalk "volgende" Saterdag beteken het!

Tien minute voordat die onthaal moet begin, bemerk ek die oneindige stofstreep op pad na die Tuine toe. Hier kom heelwat karre aangejaag. Ek begin solank die klank toerusting opstel en die plate uitpak. Omtrent twintig karre stop in 'n stofwolk in die skadu onder die bome. Die gaste peul soos miere uit 'n oopgeskopte nes en swerm oor die plaveisel. Opvou tafels verskyn uit die niet en word betafeldoek, versier en gedek. Kerse, blomme, glase en servette word opgetower. Kos en drank vir 'n weermag word op elke tafel gestapel. Elke gas bring 'n opvoustoel en gaan sit by hul tafels. Eensklaps gebeur daar 'n party. Ek wag in spanning!

Statig en stadig kom die troukar aangery om nie te veel stof op te skop nie.'n Silwer-blink 1965 Chrysler met witwand bande kom aan gewieg, toegespan onder goue linte wat wapper in die wind. As die troupaar uitklim, speel ek Mendelsohn se troumars. Die draaitafel vang 'n spoed hobbel en die lied klink meer nostalgies as wat dit moet. Die bruid straal aan die arm van haar trotse bruidegom as hul tussen die gaste gaan sit. Dan eers sien ek dat daar geen troutafel of troukoek is nie.

Die verrigtinge gebeur baie vinnig. Die seremoniemeester is 'n man wat spaarsamig met woorde omgaan. Al die heildronke word in een asem gedoen en gedrink! Hy noem terloops dat hierdie, die troue van die jaar is. Die dansbaan (plaveisel) moet ge-open word.

Die bruid het vroeër kom vra of ek 'Are you lonesome tonight' van Elvis Presley het. Ek draai die plaat en die paartjie skuifel huiwerig en uit pas oor die hobbelrige dansvloer. Daarna haal ek als uit, van ruk-en-rol tot 'underground' musiek, Boeremusiek en Country. Die gaste sit egter net en eet en rook sigarette wat jy nie in die kafee koop nie. 'n Soet rook walm wat op die aandlug aangedra word wil-wil my oorweldig. Ek het nog niks vanaand geëet nie!

"Lees die gehoor!" sê die mense wat 'beter weet' altyd. "Fokus!"

Hoe gemaak as niemand dans nie? Ek hou maar aan eksperimenteer.

Later die aand bekruip twee verlore karakters my so skeef-skeef uit die donkerte. Anders as die ander gaste, het die twee lang hare en hippieklere aan. Hoe kon ek hulle gemis het, die spreekwoordelike seer duim! Hulle versoek 'alternatiewe' musiek. Ek het die term nog nooit van tevore gehoor nie. My gedagtes jaag terug na my kinderjare. Iewers tussen al veertig die plate moet daar één wees, met die mees eentonige snit op. Ek grawe deur die plate en herken dadelik die voorkant. Vinnig plaas ek die plaat op die draaitafel en doof die ander plaat uit.

Die musiek begin oorverdowend en die sanger gil op sy hardste:" Flashlight, flashlight!!" Daarmee saam speel die musiek "Tenderen, tentenderen!!" in dieselfde akkoord. Die vreemde wesens betree die dansvloer versigtig asof dit hul gaan aanval. As hul begin dans, lyk hulle soos motte wat gif ingekry het. Hul bene ruk spasties op en af en hul arms is uitgestrek en fladder vorentoe en agtertoe. Vir nege minute aanmekaar, tot vervelens toe, is al wat mens hoor," Flashlight, flashlight, tenderen, tentenderen!!"

Net toe ek dink dat hul dans nie erger kan raak nie, draai die twee om met hul agterkante teen mekaar. Hul buig voor-oor en, asof aan mekaar verbind, begin hulle in die rondte draai. "Flashlight, flashlight!" teem die musiek voort op maat van die stroboflits. Nog steeds rukkende en skuddende lyk die twee kompleet soos sywurm motte wat paar! Hul voete trap koorsagtig vinniger en hoër soos die tempo versnel. Die twee tol duiselendwekkend in die rondte!

Skielik stop die musiek en die paar syg neer op die dansvloer. Ek dog eers hulle het beswyk van uitputting. Dan bespeur ek lewe en kruip die twee moeg gedans terug na hul sitplek. Behalwe vir die troupaar, was dit die enigste ander dans vir die aand. 'n Swaar donderweer het intussen oor die berge aangerol en grom dreigend. Ek bedank Ma in haar afwesigheid vir haar voorsienigheid. Plan B vir as dit reën, noem sy dit. Die swart asblik sakke is op standby onder die tafel. Teen halftwaalf, voor die eerste druppels val, verdwyn die versierings en die tafels weer terug in die karre en almal vertrek. Eensklaps is die party verby! Ek sit verdwaas vir 'n rukkie na my musiek en luister. Die bruidegom het darem onthou om na hul dans die betaling lomp in my hand te stop met 'n vinnige:"Dankie!"

Die dreigende blitse laat my in 'n kits oppak. My maag grom en ek ry langsaam in die reën huis toe. Vir my heel eerste troue was dit voorwaar die 'troue van die jaar'.........

(Met dank aan Jaco Faurie)

You've reached the end of published parts.

⏰ Last updated: Aug 23, 2017 ⏰

Add this story to your Library to get notified about new parts!

KortverhaleWhere stories live. Discover now