Die Swartskaap

29 3 0
                                    


Oom Servaas tel bewerig sy laaste paar sente af en sit dit terug in die verflenterde ou beursie. Dan stryk hy met moeite al langs die grootpad aan. Hy is oppad dorp toe om brood en melk te gaan koop. Sedert die Spoorweg hom ge-'board' het, gaan dit maar swaar. Sy vrou is twee jaar gelede skielik oorlede aan kanker. Die karige medies kon nie die koste vir haar behandeling dek nie. Hy het ook geen polis in haar naam gehad nie. Dit sou darem kon help met die uitgawe vir die begrafnis. Sy laaste spaargeld moes noodgedwonge aangewend word daarvoor.

Sy twee dogters, wat reeds groot en getroud is, woon saam hulle mans, nog kinderloos, in een of ander hoi-poloi buurt in die stad. Hulle gee nie veel om vir die sukkelende pa nie. Sy enigste, jonger seun bly egter nog saam met hom. Die nederige spoorweg-huisie staan langs die spoor, net buite die plattelandse dorpie.

Berhardus werk op die myn buite die dorp, in die teenoorgestelde rigting waarnatoe oom Servaas nou loop. Hy ry die vyf-en-twintig kilometer werk toe met sy fiets om die pot aan die kook te hou. Gewoonlik sal hy vanaf die werk eers gou by die dorp aan gaan. Die daaglikse inkopies word dan behartig, maar vandag moes hy oortyd werk. Die ekstra geldjies help om die koue kliphuis warm te hou deur duur antrasiet vir die koolstoof bedoel, ook in die kaggel te gebruik.

By die kafee groet oom Servaas die winkel eienaar vriendelik, soos altyd:" More Santos."

"More oem Servaas, hoe gaan dit vandag," groet mnr. Dos Santos joviaal terug.

"Waarmee verneuk ek vandag?" wil hy grappenderwys weet.

"Net brood en melk, dankie. Het nie geld vir iets anders nie," antwoord hy moedeloos.

"Nie eers 'n 'two-rand-fifty' vir die Lotto nie? Die 'jackpot' is 'thirty million' vanaand," benadruk hy só aanloklik dat geen suinige vrek dit kon weerstaan nie.

Oom Servaas krap in sy verslete beursie rond en 'n klomp kleingeld kom te voorskyn. Hy tel dit sorgvuldig op die toonbank af. Net genoeg vir die brood en melk. Maar daar is nog 'n paar kopermunte oor. Hy tel dit een-een met 'n geëelte wysvinger:"Een, een-vyftig, twee, twee-twintig,veertig, ja, hier is genoeg."

Santos gee vir oom Servaas die Lottostrokie. Dit word tydsamig met 'n stomp potlood voltooi. Die oom bekyk die nommers eers 'n keer voordat hy die strokie oorhandig. Die masjien tjir.

"Mag die 'best man win' oem" sê Santos toe hy die strokie oorhandig. Hy glimlag skelm, so asof hy iets weet wat die oom nie weet nie.

"Dankie Santos. 'Bye-bye', " groet die oom.

Seervoet verlaat hy die winkel, plastieksakkie in die hand. Die lewensmoeë mens beur moeisaam huiswaarts. 'n Koue windjie pluk aan sy baadjiepante.

Die naweek is dit bitter koud. 'n Vriesende wind waai reg deur die koue kliphuis. Daar is weer 'n koue front op pad, het die weervoorspelling gesê. 'Hierdie dorp is so koud, ons het nie 'n koue front ook nodig nie!' dink oom Servaas waar hy siek in die bed lê.

Berhardus bring vir hom 'n smaaklike ontbyt, maar hy is nie honger nie.

"Moet ek nie maar die dokter laat kom nie, pa, pa lyk nie te goed nie.

"Bel liewers jou twee susters. Hulle was jare laas hier om my te sien," kom dit swakkies van die afgeremde ou man.

Berhardus bel die twee susters. Hulle laat weet dat hulle, met so 'n besige skedule, miskien Sondag na kerk sal kom besoek aflê. Indien hulle hul pad oopsien om hul pa te vereer met hul teenwoordigheid. Hy wonder egter in die stilligheid of hul wel sal opdaag, maar hy deel dit nie met sy pa nie. Die twee het die laaste tyd nie veel liefde of simpatie vir hom of sy pa nie. Die 'ryk' susters voel dit is die twee se eie skuld dat hul so sukkel. Pa en seun moes vroegtydig voorsiening gemaak het. Dalk sou Ma dan ook 'n beter begrafnis gehad het, want die susters kon nie 'n sent bydra nie.

Teen Sondag-oggend gaan dit baie sleg met oom Servaas. Sy pa lyk so sleg dat Berhardus besluit het om die dokter én die predikant te laat kom. Hierdie twee het opsluit die prokureur saam gebring om die oom se testament in orde te kry. Die susters en hul mans het intussen ook opgedaag. Die twee 'lang slap skulde', soos oom Servaas altyd die luukse motors beskryf het, vertoon uit hul plek langs die ou klip huis. Die susters staan ongeërg om die bed terwyl hul mans fluisterend besigheid praat in die voorhuis.

"Wel, oom Servaas," sê die prokureur op sy saaklike manier, "kom ons kyk na oom se sake terwyl almal nou hier is." Hy hou 'n pen en papier gereed om die oom se laaste wens en testament af te neem, aangesien daar nooit voorheen daaraan gedink is nie. Almal se oë is op die oom gerig.

"Stiena, jy en Liesbet moet maar sê wat julle graag wil hê. Daar is nie veel om met Boetie te deel nie."

Sy twee dogters krimp ineen by die aanhoor van dié name.

"Ons soek niks nie, gee alles vir ou Swartskaap!" voer Liesbet die woord.

"En dit is 'Christine en Elizabeth'" voeg Stiena snedig by met 'n gemaak Engelse aksent.

'n Ongemaklike stilte hang in die kamer.

"Dan skryf ek dat Berhardus Le Grange, identiteitsnommer.....," en hy skryf neer wat Berhardus opsê, "al u aardse besittings erf. Die huis en alle likiede bates wat u nalaat soos op Sondag, die dertiende Julie 2005?" vra die prokureur half retories.

Oom Servaas knik net sy kop instemmend terwyl die twee susters agter hulle hande grinnik. Hulle wis mos goed dat die versukkelde ou man geen 'likiede bates' oor het na hul Ma se begrafnis nie.

Dit lyk of oom Servaas iets wil sê, maar dan bedink hy hom. Hy vroetel onbehendig met sy regterhand op die lendelam tafeltjie langs die bed rond. Stadig hou hy die opgevoude Lottokaartjie na die prokureur toe uit.

"Voeg hierdie by die inhoud van die testament."

Die prokureur vou die kaartjie oop en skryf haastig op die papier. Hy hou die papier uit sodat oom Servaas dit kan teken. Met sy laaste bietjie krag beur hy vorentoe en teken die dokument. Die dokter en predikant is dadelik by en teken as getuies, want dit blyk dat die oom se tyd om is.

"Dít, is die wennommers van gister se Lotto, dertig miljoen rand," sê oom Servaas en blaas sy laaste asem uit.

Stiena en Liesbet was al klaar besig om die slaapkamer te verlaat. Die laaste woorde kon hul net-net hoor. Beide verstar skielik in hul posisies, asof hul dalk verkeerd gehoor het. Met skreiende gille storm hulle op hul pas afgestorwe vader af. Stiena stamp die oorblufte dokter uit die pad uit en die twee huil onbedaarlik. Hul smeek en skud hul pa asof hy weer sal begin lewe! Miskien sal hy sy oë oopmaak en sy besluit herroep.

"Pa! Die skuldeisers was weer die week by ons," kerm Liesbet. "Volgende week word ons motor terug geneem omdat ons nie kan voorbly met die paaiemente nie!" Sy is van alle finesse gestroop.

"Jy kan dit nie aan ons doen nie! Brendon (weer daardie aksent) het sy werk verloor. Ons weet nie of ons met my klein salarissie kan klaar kom nie!" gil Stiena. Sy pluk nog 'n paar keer onverpoosd aan haar pa se skouers.

Die twee skoonseuns storm verskrik die kamer binne. Hulle is wasbleek van skrik. Die predikant en prokureur het hul hande vol met die twee histeriese vrouens. Die susters kan en wil nie glo wat so pas met hulle gebeur het nie. Die vier mans vergesel met moeite die onkeerbare, ontroosbare vrouens voorhuis toe. Almal is verstom oor die skielike verandering in dié twee se optrede.

Berhardus sitdoodstil oorkant die dokter langs die bed. Hy neem teer sy pa se hand in syne.Dan kyk hy na sy pa se ou, verrimpelde gesig. Verbeel hy hom of is daar 'n breëglimlag om sy mond? Die trane loop vryelik oor Berhardus se wange, maar sy mondglimlag bly. 'n Volle dertig miljoen rand.........! Vir die eerste keer dieoggend, sedert hulle om sy pa se bed gaan staan het, spreek hy sy gedagtes uit:"Pa het altyd beter geweet. Hy was altyd regverdig en vandag, het hy ditbewys."    

KortverhaleWhere stories live. Discover now