Die Barmhartige Sandtoniaan

58 3 2
                                    


Haastig is nie die woord nie. My bloed kook. Ek staan behoorlik op een toon van ongeduld en jy kan die hele Hillbrow se eiers jy-weet-waar kook. Die een agter die Lottotoonbank neem haar tyd, en dit is byna sluitingstyd! Dit val my dadelik op dat die mense in die tou groot bedrae geld spandeer. Daarom neem al die transaksies so lank.

'Almal in dié ryksmanbuurt het hope geld,' dink ek in die stilligheid, 'niemand het regtig nodig om die Lotto te speel nie, wat nog te wen!' My gedagtegang word onderbreek.

"Kan ek help meneer?" vra sy uiteindelik, gemaak vriendelik. Haar oë is neergeslaan na die papiere voor haar op die toonbank.

Vinnig oorhandig ek die blaadjie met my kombinasie-nommers op en sê ter selfdertyd:"Veertig rand 'Quick Pick Plus', twintig rand 'Quick Pick Plus' en tien rand 'Quick Pick Plus' asseblief," my vriendelikheid ook gedwonge.

Sy voer die blaadjie in die masjien en pons die inligting vir die 'Quick Pick Plusse' daarop in. Met 'n blikkerige getjirts-tjirts, wip die gedrukte Lotto-blaadjies aan die bo-kant uit. Die pakkie blaadjies word oorhandig en ek betaal die bedrag wat vertoon word, R107-00.

"Dit kan nie reg wees nie!" roep ek verontwaardig uit. My opdrag was mos duidelik, al die 'Quick Pick' kaartjies moes ook die Lotto-plus gedek het. Is sy dan doof?

"Moet dit nie honderd en tien rand wees nie? Ek speel dit elke Saterdag só," rammel ek terwyl ek die boonste kaartjie fynkam. Die tien rand kaartjie is net vir die Lotto!

"Ek is j-j-jammer m-m-meneer," stamel sy 'n binnensmondse verskoning.

Hierdie is 'n vooraanstaande voorstad van Johannesburg en boonop een van die hoog aangeskrewe kettingwinkels. Kan hulle dan nie die personeel behoorlik oplei nie?

Dit is al reeds laat en die rugby kan enige oomblik begin. Die nommers op die kaartjie brand in my geheue in: 2, 5, 19, 30, 35, en 45. 'Hoe ironies,' dink ek. 'Dit is op die nommer my eks se geboortedatum en ouderdom. Sy verjaar die 2de Mei en is in 1965 gebore (30 + 35) en het verlede maand vyf en veertig geword.' Dit kan net onheil beteken, besluit ek op die oomblik. Die tweede stel nommers registreer nie eers nie.

"Los maar die regstelling, ek neem dit net so."

Goed omgekrap draai ek om en storm by die winkel uit. 'n Snerpende Junie-luggie laat my die dik alpakka jas stywer om my wikkel. In die parkeerterrein soek ek na my rooi sportmotor, wat heel onsigbaar is tussen al die ander luukse vierwiel-aangedrewe motors.

'n Gehawende vrou, wat lyk of sy jare laas goeie tye geken het, kom skeef-skeef na my toe aange-skuifel. Die verslonste pantoffels aan haar voete hou lankal nie meer die koue uit nie. Beide haar groot potblou tone loer deur gaatjies aan die voorkant. Die dun truitjie om haar blaaie het ook die stryd teen die snerpende wind verloor.

"Asseblief meneer, ek het dae laas geëet en my kinders het nie kos nie. My man het sy werk verloor en ons kry baie swaar," bibber sy in een asem, bevrees dat ek sal antwoord voordat sy haar rympie kon afhandel.

Ek dink aan al die vlymskerp antwoorde wat ek al geleer het om te gee op die frase 'ek het dae laas geëet' soos byvoorbeeld:"Forseer jouself," of "Jy het nie my toestemming nodig nie, eet!" Ten spyte van die grys onweer en my donker gemoed, kry ek myself nie so vêr om dit te uiter nie. Iets aan die vrou laat my vir 'n oomblik huiwer. Daar is iets bekends aan die gesig, of is dit maar net een van die vele wat ek daagliks raakloop en onbewustelik onthou? Die gedagte neem dadelik die wyk, want vir verlore vriende en familie het ek nie krag nie.

Die tien rand kaartjie lê nog vlak in my gedagtes. Die feit dat dít nie is wat ek wou gehad het nie, noop my om so gou moontlik daarvan ontslae te raak. Dit is nou wel nie geld nie, maar ten minste 'n goeie kans om te wen.

"Moet nie snaaks dink nie," hoor ek myself sê, heeltemal buite my natuur, "maar kontant dra ons mense nie hier rond nie. Ons word te maklik beroof. Neem die kaartjie, dalk wen jy iets daarmee."

Met bewende vingers prop ek die kaartjie sonder seremonie in haar hand. Voordat sy kan antwoord, bemerk ek my motortjie skuins agter haar. Ek druk vinnig by haar verby en haas my soontoe.

"Laat stop tog die gate in jou pantoffels," roep ek oor my skouer.

"Die Here seën jou, meneer Smit!" skree sy agterna.

Halsoorkop klim ek in die vaartbelynde motortjie en trek met fluitende bande weg. Die persoonlike nommerplaat 'SMITTIE' moes vir haar die leidraad gegee het. Gou is die vrou in die parkeerterrein vergete. Al wat nou saak maak, is dat ek betyds by die woonstel sal opdaag om die afskop van die rugbywedstryd te sien.

Die rugbywedstryd was teleurstellend. Die drie bottels 1984 Pinotage het gehelp om die 'pyn' van die nederlaag te verlig terwyl ek die Saterdag fliek kyk. Ontspanne knaag ek aan 'n wig koue pizza van die vorige aand. Na die fliek verskyn die aanbieder wat asemrowend vertoon in 'n silwer-groen aandrok, met 'n baie lae hals. Dit laat my nog regopper sit.

"Wat 'n groot geleentheid vir die land, die aanbieders van die Lotto en die uitsenders," babbel sy aanmekaar om uiteindelik by die formaliteite uit te kom. Die masjien word geaktiveer en die balle vry gelaat. Die balle bons en die arms swiep, dan raak alles stil. 'n Arm in die middel lig die eerste balletjie uit en dit rol tot op sy plek.

"Die eerste nommer i-i-is, 35," kondig sy aan. Daarna volg die nommers 5, 2, 45, 30 en 19. My kop swymel nog 'n bietjie van die baie wyn en die bonus bal raak verlore in die newels. Iewers lui daar 'n klokkie! As my benewelde sinne tog net die nommers in die korrekte volgorde wil plaas, maar die gawe uitsenders doen dit namens my.

"Wat!" gil ek en strompel orent. "Dit is die kaartjie met die nommers wat ek vir daardie armsalige drommel van 'n bedelaarvrou gegee het in die parkeerterrein!" roep ek tevergeefs na niemand in die besonder nie. "Sy verdien dit nie, dis myne," snik ek in half-dronkverdriet en sink op die rusbank neer. Hoe lank ek daar bly lê het, weet ek nie, maar toe ek wakker word, pyn my lyf en my kop voel soos 'n oorryp waatlemoen voor Kersfees.

Nadat ek gestort en skoon aangetrek het, voel ek stukke beter en sien met nuwe moed uit na die dag. Met die Sondagkoerant onder die arm en 'n louwarm pastei in die hand, vlei ek myself op die rusbank neer. Ek vou die koerant stadig oop sodat die binneste tydskrifte nie uitval nie. EN DAAR STAAN DIT!

"Vrou van Braamfontein wen R30 miljoen met geskenkkaartjie," lees ek onnadenkend.

Ek voel hoe my nekhare kriewel en 'n naar gevoel op my maag vorm.

"'n Moedelose, bankrot ma van vier, met 'n sieklike man, het uit nood vir die eerste keer in haar lewe die strate ingevaar om te gaan bedel," lees ek verder, maar ek ken reeds dié verhaal.

"Met haar laaste paar rand het sy met 'n minibus taxi na Sandton gereis, menende dat ryk mense makliker sal jammer kry en help. 'n Welgestelde besigheidsman in die rykmansbuurt, het blykbaar uit barmhartigheid en omdat hy nie kontant aan hom gehad het nie, die Lottokaartjie vir die vrou gegee. Sy het spesiaal voor druktyd die koerant gekontak om haar storie van die weldoener met ons lesers te deel.

By verdere navrae het ons die oorstelpte vrou gevra vir enige kommentaar.

Haar antwoord:'Onsdank aan die Hemelse Vader, dat Hy gisteraand, my lang verlore broer op my padgestuur het. Dankie Boetie vir die tien rand wat jy op ons gesin spandeer het.Dit sal al die nodige gaatjies toestop!' "    

KortverhaleWhere stories live. Discover now