Een.

468 16 5
                                    

"Jou glimlag gee my vlinders,
Jou stem sleur my mee.
Maar die afwesigheid in jou oë
Skeur my siel in twee."

Dit was 'n storm wat lank op die horison gebroei het. En die eenvoudige werklikheid was dat ek nooit gedink het die storm sou kom nie. Maar nou is dit hier.
Ek het koue geken. Ek het in 'n hotel in die Drakensberge groot geword. My ouers, die eienaars, het my vertel van hul sprokiesberg en al sy wonders en geheime. Ja, ek het gedink ek het koue geken.
Soos ek ouer geword het, het die wonderverhale verander. Dit het nie meer oor die Wonderberg gehandel nie, maar eerder ons Hochsberg: dié plek om vakansie te hou, die skielike toerismemagneet. Die hotelbedryf was nog nooit so belowend nie en ek, as enigste erfgenaam, moes op 15 al verstaan hoe om eendag oor hierdie koninkryk te heers. Die ontvangsportaal was my tweede huis. Tot my ouers se ontsteltenis, egter ook my tweede liefde. Bedags, terwyl my brein vir die syfers en sleutels agter die toonbank gesug het, het my hart tussen die kombuiskaste gedans. Ek kon nooit lank genoeg op die kliënte fokus nie. Maar wie kan nou as daar eindelose onontdekte skatte in die kombuis wag?
Kos.
Bak en brou en meng en invou.

Dít was my eerste liefde.
My enigste.

Totdat ek hóm ontmoet het.

-----------------------
(Foto: tumblr.com)

TranetrekkerWhere stories live. Discover now