"Ek wonder of jy wonder,
Ek wonder of jy weet
Hoe moeilik dit is
Om van jou te vergeet."Dit was net voor my 16de verjaarsdag wat hy in my lewe ingeval het. Die trappe in die portaal was daarna nooit weer net trappe nie. Ek was haastig op pad na die toonbank en hy was haastig op pad na sy gesin se nuwe woonstel op die eerste vloer. Ons was egter, onbewustelik, ook op pad na mekaar. En ons paaie het gekruis. Letterlik.
"Eina..."
Ek het met my agterstewe op die grond beland nadat 'n onbekende lyf teen myne gebots het.
"O, vrek!" Hy steek 'n hand na my uit. Ek neem dit en kyk op. Dis iets waarop ek glad nie voorbereid was nie, want sy donker, donkerbruin oë gooi my so van balans af, dat ek amper weer op die grond beland. "Ekskuus, ek was bietjie haastig!" Hy glimlag skaam, asof hy gewoond is aan jammer sê.
"Dis ok." Stel ek hom glimlaggend gerus. Sy wange word ligpienk en hy kyk af, net om te besef dat my hand steeds in syne is. Hy los my vingers vinnig. Hy glimlag, weer so skaam en stil.
"Ek is Thalia, by the way."
Hy glimlag weer, maar nie meer skaam nie. Vriendelik en warm.
"Thalia..." herhaal hy my naam.
"Of net Thali!"
Hoekom het ek dit gesê?! My simpel kleuterskoolbynaam! Dis seker sy oë, ek sweer hulle doen iets aan my...
"Ek is Pierre. En ek is ook baie jammer dat ek jou omgestamp het." Ek giggel - onverklaarbaar - en hy glimlag breed. Breed genoeg dat elke skitterwit tand vertoon word.En op daardie oomblik, daar op die trap, het ek twee baie belangrike dinge oor Pierre Mouton ontdek:
1. Hy glimlag baie meer as enige ander mens wat ek ooit in my lewe tegemoet sal kom.
2. Daardie breë, skitterwit glimlag was my gunsteling.Dit was egter eers jare later dat ek sou besef dat sy donker, donkerbruin oë en skitterwit glimlag nie altyd is wat 'n mens sou verwag nie.
Maar, ek was nie op 16 toegerus vir enige ongerieflike waarhede nie. Ek het nooit te veel vra gevrae nie. Ek het nooit te diep gedelf nie. Want wie sal dan nou so 'n pragtige glimlag wil bederf?

JE LEEST
Tranetrekker
RomantiekThalia se lewe was nog altyd, soos sy dit stel, 'n tipe 'low budget feelgood comedy.' Dag in en dag uit, in die voorportaal van haar ouers se hotel met die interessanthede van mense om haar te vermaak. Skrywer, dinker, 'n bietjie skaam en baie nuus...