"Ek wou nie val nie,
ek was okei.
Ek was doodreg,
toe kom jy my hart verlei."
"Wel gedaan, julle twee!" Oom Jean vou sy servet op en skuif sy nageregbakkie weg,
"Ja, dit was baie lekker," las my pa by. "Pierre, lyk my jy's knap in die kombuis!"
Skitterwit tande flits.
"Nee, Oom, ek is maar hopeloos, Dis Thalia se leiding wat my laat goed lyk!"
"Dis regtig ongelooflik, Thalia," sê Tannie Edene. "Jy't 'n talent, 'n natuurlike aanvoeling!"
Ek glimlag breed en bedank haar, maar toe sê my ma: "Ja, kosmaak is 'n groot stokperdjie van Thalia. Sy slaan gereeld vir ons 'n poedinkie aanmekaar!"
My glimlag word effens halfhartig, maar dis steeds daar. Die gaste het die mousse geniet. Dis die bevrediging en waardering van ander wat enige skepper - skrywer, skilder of kok - werklik najaag.
---
Na ete gaan sit die grootmense weer op die stoep om 'n koppie koffie te geniet. Hulle het tydens ete ontdek dat hulle 'n liefde vir een of ander Afrikaanse radiodrama uit die 80's deel, so natuurlik moet hulle eers daaroor klets. Ek en Pierre sak op die sitkamerbank neer en ek skakel die TV aan. My vingers blaai deur die kanale, maar dis al laat, wat beteken dis daardie tyd van die aand waar al die goeie programme (saam met die meeste kykers) al in droomland is.
"Daar is niks op die TV nie," sug ek en laat val die afstanbeheer langs my op die bank.
Pierre tel dit op en skakel oor na die Discovery Channel.
Hy sien hoe ek vir hom frons en hy verduidelik: "Daar is altyd iets op die TV."
Ons kyk How It's Made en ek leer hoe motorbande en olyfolie gemaak word, maar toe dis toe die program begin praat oor akoestiese kitare dat Pierre die klank harder stel en regop sit. Ons kyk hoe die hout gebuig en gesny en uiteindelik gesnaar word.
"Speel jy?" vra ek toe die program klaar is.
"Ag, 'n bietjie."
Die aand se ligte gesprekke en grappe het bevestig dat Pierre 'n nice ou is en ek voel skielik baie gemaklik. Dis seker daardie valse laataand-selfvertroue wat my skielik so voorbarig maak, want ek staan woordeloos op en gaan haal my pa se ou kitaar van sy kerkorkesdae uit die studeerkamer. Op pad terug na die sitkamer, sien ek hoe die grootmense nogsteeds gesels en lag op die stoep. Pierre se oë rek effens toe hy sien wat ek dra, maar ek stop dit in sy arms.
Hy wil nog protesteer, maar ek keer: "My geheime talent is my chocolatte mousse. Jy weet dit nou, so nou is dit net reg dat jy joune vir my wys."
Hy maak sy mond oop on iets te sê, maar maak dit vinnig weer toe en haal die kitaar uit. Hy pluk aan die snare en probeer dit instem voordat hy sy keel skoonmaak en saggies 'n melodie begin speel. Ek herken dit as Voshaarnooi. Hy speel net 'n paar mate, dan sit hy sy arms oor die kitaar en druk dit vas. Hy glimlag, maar dis nie hierdie keer 'n verblindende skitterwit nie. Dis klein en skaam, asof ek hom nounet betrap het terwyl hy in sy kamer met sy haarborsel gesing het. Dit voel of sy senuweeagtige oë vir 'n ewigheid verwagtend na myne kyk.
"Dit was flippen mooi," sê ek uiteindelik.
"Ag, dis..." Hy maak nie sy sin klaar nie.
"Regtig. Jy kán duidelik kitaar speel, jy hoef nie so versigtig te lyk nie." Ek is verbaas dat die rolle skielik omgeruil het. Aan die begin van die aand was ék skaam en ongemaklik, nou moet ek vir hóm gerusstel.
"Dankie." Dit lyk of hy die kitaar nog stywer teen sy bors druk. "Ek speel nie eintlik voor ander mense nie, net in my kamer of partykeer vir my ouers."
"Wel, jy mag maar weer voor my speel." Whoa, Thalia. Chill 'n bietjie uit.
Maar ek kan nie myself behoorlik aanspreek nie, want hy glimlag weer breed en ons oë ontmoet weer vlugtig. Op daardie oomblik kom die grootmense laggend deur die skuifdeure gestap. Hulle kom die sitkamer binne en Pierre bêre die kitaar in die sak. Niemand sê eers iets oor die kitaar nie. Die Moutons sê net herhaardelik baie dankie vir die heerlike aand en hoeveel hulle daarna uitsien om saam met die Breytons te werk.
Na almal vir almal omhels het asof ons nie weer môre-oggend mekaar gaan sien nie, beweeg ons na die voordeur.
"Dankie, Thali," sê Pierre vir my, "sommer vir alles vanaand. Ek dink ons gaan nog goed oor die weg kom."
Toe is dit my beurt om te glimlag.
"Ek ook."
"Sien jou môre?"
Ek knik my kop soos die Moutons almal by die deur uitbeweeg en waai vir die donkerkopseun.
---
Later, in my bed, speel ek die aand weer oor in my kop. Die kosmaak, die grappies, die TV-kyk en die kitaarsessie - alles was heel... aangenaam. Pierre was heel aangenaam.
Ek raak aan die slaap met 'n laaste analise oor die aand: Miskien, net miskien, kon daardie skitterwit glimlag 'n regular in my lewe word.
Môre sou ek weet.

DU LIEST GERADE
Tranetrekker
RomantikThalia se lewe was nog altyd, soos sy dit stel, 'n tipe 'low budget feelgood comedy.' Dag in en dag uit, in die voorportaal van haar ouers se hotel met die interessanthede van mense om haar te vermaak. Skrywer, dinker, 'n bietjie skaam en baie nuus...