Hoofstuk 4

13 0 2
                                    

In die lang weke wat volg word Celestina 'n uitstekende matroos, tot Kaptein Marko se verassing, en kaptein Adriano se onsteltenis. Na daardie eerste paar dae waarin sy soms bang was sy gaan dood, het sy haar seemansvoete gevind en was die seesiekte iets van die verlede. Verveeldheid het die oorhand begin kry en sy het haar tyd liewer spandeer deur soveel as moontlik van die seemanskuns te leer. Dit was nie lank nie of sy het net soveel van die seelewe geweet as die twee kapteine. Maar een ding het hulle gehad wat sy nie het nie; ervaring. "Slegs jare se ervaring maak van jou 'n goeie seeman," het kaptein Adriano haar vertel een aand tewyl al drie van hulle saam geëet het.

Maar Celestina het haar nie laat afsit nie en het die bemanning van albei skepe, met hul kapteine, gewys dat sý ook 'n goeie matroos kan wees. En die Signorita het daarin geslaag om die harde seemanshart van hul eregas om te koop met spesiale geregte wat sy vir die kapteinstafel op getower het.

Die seereis vorder ook wonderbaarlik rustig en voorspoedig, en kaptein Adriano vergeet byna dat die dame se teenwoordigheid op Marko se skip teen sy hele beterwete is. Maar jare van lewe op die wye oseaan en sy gevare het die seemansintuïsie in hom verskerp. En hoewel alles in die blote oog kalm en rustig is, weet kaptein Adriano dat hierdie stilte net die kalmte voor die storm is.

Bedags is elke kaptein natuurlik op sy eie skip, maar saans kuier hulle beurtelings om die etenstafel, in mekaar en Celestina se geselskap. Nog 'n aandete is agter die rug en die finale dag breuk aan; die dag waar die twee skepe afskeid neem. Die Orchestra gaan nou reguit noord beweeg terwyl die Sinphonia Noord oos toe gaan. Celestina het klaar totsien gesê aan kaptein Adriano en het besluit om na haar kajuit toe te gaan om die twee vriende 'n bietjie alleen tyd te gee.

"Wel my ou maat... Ons was tot dusver baie voorspoedig," merk kaptein Marko op, en voor hom kyk kaptein Adriano onrustig rond. "Ja. Dit voel te goed om waar te wees. Ons het lankal die gevaarwaters bereik, maar tog nêrens is 'n teken van gevaar nie. Ek vertrou beslis nie die vrede nie." Marko laat ook sy kennersoog om die see om hulle dwaal. "Dink jy ons is al gewaar?"

"Jy ken nie hierdie waters nie, Marko. Maar ek doen en ek sal al my jare se ervaring daarop verwed dat iemand besig is om ons af te loer. Ek ken hierdie waters baie goed en net die feit dat mens niks gewaar nie – nie eens een seil op die kim nie – laat my dink ons word lankal in 'n lokval gelei. Kaptein Marko is glad nie so bekend met seerowers nie, maar tog het hy nog nooit probleme gekry nie. "Wat dink jy hou hulle weg, hoekom bly hulle dan uit ons pad?"

"Hulle is verward oor hoekom ons skepe so saam vaar. Dis twee groot vragskepe wat langs mekaar vaar, en hulle is nie ape nie Marko. Hulle vermoed seker dat ons as een skip vaar omdat ons dieselfde vrag het. En dit trek natuurlik nog meer aandag na jóú skip." Marko frons: "My skip? Hoekom sal daar meer aandag op my skip wees?" Kaptein Ariano gee hom 'n alwetende kyk, "Raai jy maar, ou vriend. Die Orchestra is heelwat kleiner as die Sinphonia en as ons twee nou ons aparte weë gaan, sal hulle agter jou skip aangaan. Hulle sal klaar weet my skip is oppad Spanje toe en Engeland is nog 'n week se reis van hier af. Die Orchestra sal vir die seerowers 'n baie makliker prooi wees om op te pik." Marko se gesig word wit as hy aan daardie seerowers dink. Hulle is heeltemal genadeloos teenoor 'n skip en sy bemanning. Hulle sal nie twee keer dink om hom saam met sy skip te laat sink nie.

Maar Marko wil nie hê dat kaptein Adriano moet weet dat hy bang is nie. "Wel kaptein, dan gaan Signorita Mariano maar 'n regte seerower geveg moet meemaak. En elke seerower sal lelik op hul neuse kyk. Hulle gaan nié die Orchestra roof nie. Oor my dooie liggaam!" Kaptein Adriano kyk terleurgesteld na sy mede-kaptein. Dinge kan so maklik skeefloop en wat erger gaan wees, is dat hy Celestina se lewe ook in gevaar gaan stel. Hy word skoon yskoud as hy daaraan dink dat sy in die hande van seerowers moet beland. Feit is, 'n man bly 'n man, en daar sal geen genade wees vir 'n skoonheid soos Signorita Mariano nie. Die dood sal verkiesliker wees. Maar tog lyk dit of kaptein Marko baie selfversekerd is dat hy hulle veilig in Engeland sal kry. Kaptein Adriano skud sy kop en groet dan finaal sy ou maat voordat die Sinphonia wegvaar.

Dit is drie dae nadat die twee skepe afskeid geneem het en alles was tot dusver nog redelik kalm. Dit is 'n stil aand en Celestina en Marko sit in die kajuit en speel 'n kaart speletjie. Op daardie oomblik klink die geroep van die wag op die kraaines op in die donkerte. "Hooo-laaa! Iets op die see! 'n Skaduwee wat groter word!" Celestina verstil in haar spore, ook elkeen wat daardie roep hoor. Binne rekordtyd is sy en Marko terug op die dek, haar oë is speurend gerug op die groot, swart skaduwee wat duidelik besig is om direk op hul af te pyl. Celestina voel hoe die benoudheid in haar opstoot, maar sy besluit om haarself nie daaraan oor te gee nie. Dit kan niemand anders as seerowers wees nie, en daar sal beslis vanaand geveg moet word.

Die Seerower KoninginOpowieści tętniące życiem. Odkryj je teraz