Die Donker Muse

19 1 0
                                    

Oops! This image does not follow our content guidelines. To continue publishing, please remove it or upload a different image.

Die oomblik toe hulle die Oniks Labirint binnetree knik Ruhan vir haar en gaan sy eie weg. Daphne gee nie om nie. Die tyd wat sy saam met hom spandeer het om die Feetjie Katte te jag en Kaye aan die dood af te staan was nie een van haar beste herinneringe nie.

Hulle het reeds hul kommandant als laat weet wat sy moet deur hul gedagtes met haar te deel toe hulle naby genoeg was om dit te doen. Nou moet Daphne net nog haar goed uitpak en haar kop skoon kry van al die dinge wat so lelik verkeerd gegaan het in die Labirint. Veral as sy nog haar gedagtes weg wil hou van die ander Beskermers – veral dié wat haar dood kan beteken.

Die Oniks Labirint laat nie toe dat sy direk na haar kamer gaan nie. Dit stuur haar deur die tuine. Nie dat sy omgee om die lewendige steen se speletjies te speel nie. Sy kan die tyd gebruik om haar gedagtes in orde te kry.

Brandon se blonde hare glinster in die kunsmatige son. Daphne snak na asem; dit maak amper seer. Sy het amper na hom uitgeroep voordat sy onthou het dat hy die Hertog is en sy maar net 'n Beskermer. Buitendien, 'n beeldskone rooikop met foutlose melkwit vel staan langs hom. Sy dra 'n ysblou chiffon rok wat skaars die grond raak voordat dit agter haar uitsweef.

Jaloesie maak dat Daphne op haar tande kners. Die manier waarop Brandon na die vrou kyk... Sy sluk. Miskien is dit die prinses, sy aanstaande. Daphne het haar nie op die aand van die verlowingsparty gesien nie. Al was sy saam met Brandon in hierdie tuin daardie aand... Sy onderdruk die herinnering van hul soen; die herinnering wat haar lewendig gehou het nadat die Feetjie Kat haar aangeval het.

Brandon se sorgvrye lag maak dat Daphne se kop opruk. Hy klink 'n biejtie waansinnig. Die vrou se tingelende lag sluit by syne aan.

Die laggende paartjie verlaat die tuin.

'Iets is baie verkeerd,' sê 'n Elfie in 'n huilstem langs Daphne.

Sy draai om en sien die kneg se vreesbevange oë.

'Wat bedoel jy?' dring sy aan.

'Die Muse Feë is nie veronderstel om mag oor ander Feë te hê nie,' sê die Elfie, haar fosforglimmende oë groot met vrees.

'Die Muse Feë?'

'Toe ek in 'n ondergrondsestad van die Donker Feë gewerk het, het ek baie van haar soort gesien. Gewoonlik gebruik sy net haar mag oor kunstenaars – en altyd net mense. Haar betowering is nie veronderstel om op 'n ander Fee te werk nie.' Die Elfie se punterige ore bewe.

'Weet jy meer oor haar?'

'Nee. Net dat sy haarself as Leanne voorgestel het voordat sy die Hertog bekoor het.'

'Het jy enigiemand anders vertel?'

'Nee.'

'Kom saam met my. My kommandant moet dit van jou hoor.'

Daphne was nie meer moeg nie. Haar tuiste was in gevaar – enigiemand wat soveel beheer oor die Hertog kan uitvoer is 'n bedreiging. En sy weet dat haar kommandant dit van iemand anders as sy moet hoor – omdat sy weet van haar geheim kan haar kommandant dalk dink dis jaloesie wat praat.

Verhale van die Oniks LabirintWhere stories live. Discover now