Die Begin van die Einde

31 1 0
                                    

Bewend trek Daphne Beskermer-leer aan. Tussen die belaglike koue en die verskriklike nagmerries wat sy nie kan ontsnap nie, was haar nag absoluut aaklig.

Soos sy deur die Oniks Labirint loop sien sy, ten spyte van die koue wat haar nogsteeds beet het, dat die steen mooi herstel het na die aanval deur die groumolle 'n week tevore.

Kwaai fluister woorde vul die Labirint, maar wetende dat dit te doene het met die vreemde temperature maak dat sy nie veel aandag daaran skenk nie. Veral omdat die lewende steen nie met haar speel soos gewoonlik nie. Sy kon direk na prinses Calliope se kamer gaan.

Vreemd, dink Daphne soos sy die deur oopmaak.

'Goeie more, prinses,' groet sy.

'Goeie more, Daphne,' groet prinses Calliope. Sy staar na die verskeie blommerangskikkings, borde en ander goed wat die bruilofbeplanners gelos het vir die groot dag.

Daphne maak seker dat haar gesig, selfs haar oë, emosieloos bly. Sy moet veral versigtig wees na haar idiotiese ineenstorting toe Brandon amper saam met die oniks steen dood is. Al het albei oorleef, het sy steeds beheer oor haar emosies verloor. Gelukkig het net Ruhan, die Beskermer wat alreeds van alles weet, dit gesien.

Die prinses lyk 'n bietjie afgehaal.

Miskien is dit die koue, dink Daphne toe 'n ysige briesie deur die vertrek waai. Sy onderdruk 'n gaap en weet dat sy ondersoek sou ingestel het as sy beter geslaap het.

Twee elfies, Shahnaz en Cola, bring hitte saam met hulle die vertrek binne.

'Ons vra om verskoning vir die koue.

'Dis 'n newe-effek van die Labirint wat herbou word.'

'Moenie daaroor bekommer nie,' sê prinses Calliope en trek haar pels mantel stywer om haar skouers.

Die elfies gaan deur die vertrek en vryf die oniks steen. Daphne kan sien hoe toorkrag van hulle af in die mure inbeweeg. Sy kyk weg, omgekrap oor alles wat sy kan sien. Dinge het baie verander tussen haarself en die lewendige steen van die Oniks Labirint.

Iemand klop hard aan die deur. Een van die elfies maak dit oop.

Vier Beskermers in donker grys mantels staan buite die deur. Hulle is nie van die Oniks Labirint nie.

Daphne sluk swaar. Hulle is van die Hoë Hof.

Selfs die hitte wat die vertrek begin vul kan nie die koue vrees wegvat wat sy voel nie. Sy hou hulle dop.

Hulle is die Bekermers van die Heerser van die hele Labirint. Hulle maak seker dat almal die reëls volg.

Sy kan nie besluit of sy kwaad of bekommerd moet wees nie.

'Julle moet almal saam met ons kom.'

'Hoekom?' vra Calliope.

'Die Hoë Koningin se Beskermer beveel jou.'

Selfs 'n prinses kan nie daarteen stry nie.

'Los jou wapens,'sê een van die Grys Beskermers vir Daphne.

Sy weet dat sy moet doen wat beveel word, maar dit gaan teen alles wat sy as 'n Beskermer geleer is.

Prinses Calliope knik en Daphne verwyder al haar wapens. Sy los hulle op die tafel en volg die prinses uit die vertrek uit, die elfies agter haar aan.

Sy probeer die verstand-skakel om die Kommandant van die Beskermers te laat weet wat aangaan, maar sy kan niemand anders vind nie.

Daphne hou die ander Beskermers dop en hou haar gedagtes vir haarself. Sy voel agterdogtig jeens hulle omdat sy nie met haar Kommandant in aanraking kan kom nie. Veral omdat dit verbode is vir Beskermers om in te meng met die beskerming van vorste.

Verhale van die Oniks LabirintOù les histoires vivent. Découvrez maintenant