Dis ʼn egte Afrikaanse onthaal. In die kerksaal, op opvoustaaltafels met ʼn dun wit doek oorgetrek staan daar bakke, borde en staanders vol vingerhappies. Brosgebraaide worsrolletjies, taaigemarineerde hoendervlerkies, blokkies souttert, spinasiepasteitjies, kaas happies en gepiekelde uitjies op tandestokkies geryg. Hoekom is daar ʼn onthaal na ʼn begrafnis? Dit maak tog sin om so iets met ʼn voorstelling en ʼn troue te doen, maar ʼn begrafnis? Die arme weduwee wil net huis toe gaan en treur en die buurt se seuntjies verwag van die hartgebroke kinders om saam te speel op die grasperk asof niks fout is nie. Al die "ek is so jammer vir jou verlies'e" en "as daar enige iets is wat ek kan doen'ne" kan nie eers ʼn glas volmaak nie, hoe hol moet dit klop teen ʼn verskeurde hart? Maar nou ja, dis die Afrikaner manier, so kom ons gryp ʼn wit piering, ʼn wit servet en vreet die tafeldoeke leeg. Want daar is nie ʼn man afwesig nie, daar is nie ʼn vriend, pa, man en kollega in koue, dooie sand begrawe nie. "Heerlike melktert mevrou Leroux, jy moet asseblief vir my die resep gee, dis té lekker."
Dit werk mos so dat net as jy ʼn lekker groot hap van die tunapastei vat, iemand jou vra hoe dit gaan, dink Pieter. Dis die superintendent. Dan sê mens maar met jou tande vol tuna: "Nee, dit gaan goed dankie, en met u?"
"Goed, man, goed onder die omstandighede."
"Ja, dis ʼn moeilike tyd vir almal, veral vir die gesin. Proe die melktert, dis heerlik."
"Dit is waar, ja. Arme mevrou Leroux wil net ʼn traantjie kap dan praat die dominee weer moed in. Waar is die melktert, ek het dit misgeskep."
"Ja, die dominee is op sy stukke vandag, ʼn goeie diens gewees. Hy het so mooi gepraat oor Leroux se lewe. Daar op die tafel met die malvapudding en peppermint-crisp tert. As Soep malvapudding skep, pasop vir die vla, dis bitter."
"Dit was inderdaad ʼn mooi diens gewees, jy't net vrouens sien sit en trane afvee. Dankie vir die waarskuwing, ek sou nou weer ʼn bak vol vla geskep het as jy my nie gesê het nie."
"Dis so hartseer, die stomme kindertjies verstaan nog nie mooi wat aangaan nie. Ek het gehoor hoe die dogtertjie vir mevrou Leroux vra hoekom haar pappa in die kis is. Ja en dan sit jy met ʼn mond vol tande en ʼn piering vol vla wat jy nie kan eet nie, want wat doen jy met dit. Dis nie asof jy dit kan weggooi nie. Dan kom die koster se vrou na jou toe en vra of jy hou van haar nuwe malvapudding resep en jy oé en á maar net."
"Die arme bloedjies. Eks bly ek het daardie slag nou misgetrap. In elk geval, ek wil graag met jou praat oor die posisie wat nou vakant is."
"Leroux se ou pos?"
"Ja, as hoofinspekteur."
"Is dit nie ʼn bietjie onsensitief om nou daaroor te praat nie?" vra Pieter en skuif die tunapastei ongemaklik op sy piering rond. Kan hy dit eet of is dit nie goeie maniere nie? Eerder nie, dis seker nie goed vir geselskap as jy kos in die ander party se tande kan sien nie.
"Nee ag ek dink nie so nie, Naudé. Dis tog ʼn geleentheid om iets positiefs na hierdie aaklige affêre te bring. Man maar hierdie melktert is voortreflik, weet jy wie dit gebak het? Ek moet my vrou sê om die resep te vra."
"Nou goed, Soep, vertel maar asseblief. Mevrou Leroux het die melktert gebak, dit is lekker, is dit nie?" Die superintendent het sy melktert geëet so hy kan seker sy pastei ook eet, dink Pieter. Hy steek ʼn kleinerige hoek uit die pastei en druk dit vinnig in sy mond wanneer die superintendent nie kyk nie.
"Kyk, ek wil hê jy moet aansoek doen vir die werk," sê die superintendent en kyk om Pieter se reaksie te sien. Op sy vurkie balanseer hy ʼn skeppie melktert. Pieter verstik amper soos hy die pastei byna heel insluk.
"Ek? Jammer superintendent, maar ek?" Die superintendent lag en neem die stukkie melktert tussen sy lippe op wanneer hy die gewenste reaksie by Pieter kry.
"Ja, jy Naudé," sê hy tussen koue. "Jy is perfek vir die eenheid."
"Ek is jammer, Soep, maar ek het nie naby aan genoeg ondervinding nie, ek werk maar nog net ʼn paar weke hier."
"Dit is waar," sê die superintendent en skep nog ʼn blokkie melktert. "Maar, Leroux het jou aanbeveel en sy aanbeveling dra gewig."
"Hy het wat?" vra Pieter en keer net betyds voor sy pastei uit die piering gly.
"Hy was van plan om binnekort af te tree sodat hy meer tyd met sy vrou en kinders kon spandeer. Hoe is daai tunaslaai?"
"Ag dis tragies dat hy moes sterf net voor sy aftrede. Heel lekker, Soep. Dis op die tafel met die miniatuur frikkadelle."
"Inderdaad, tragies, tragies. Maar dis hoe die lewe werk; een se dood is die ander se brood. Ag kan ek nie sommer eers by jou ʼn stukkie proe voor ek opstaan om te gaan skep nie?"
"Ekskuus?"
"As een mens sterf, kry die begrafnisondernemer en sy hele span geld en natuurlik, soos nou, is sy posisie in die polisie vakant."
"Nee, uhm, ek bedoel die tuna." Pieter skuif ongemaklik op sy stoel rond. Die man wil sy tunapastei proe, daar moet een of ander konvensie of wet wees wat sê dat dit onvanpas is. Dis iets wat jy met jou vrou doen, by die huis, nie by ʼn begrafnisonthaal met jou kollega nie. Maar die Soep is sy soep en dit klink hom word ʼn verhoging aangebied, so hy kan seker nou nie nee sê nie.
"Ja ag, net ʼn klein happie," sê die Soep en steek ʼn stukkie pastei af met sy skerp vurk voor Pieter nog die bordjie na hom kan uithou. Die man is darem wragtag baie anders as wat hy daai nag met Leroux se dood oor die foon geklink het. Dalk was dit net oor die aard van die oproep en die feit dat dit in die middel van die nag was. Mense is anders by begrafnisonthale en troues as wat hulle in die werksplek is. Dis asof hulle in die nabyheid van ʼn kerktoring van wese verander. Dit lyk asof die superintendent van die tunapastei hou, hy lek eintlik sy lippe af. "Op watter tafel het jy gesê staan die pastei?" vra hy en kyk oor sy skouer of hy dit kan sien.
"Die een met die dwergfrikkadelle, ek dink dis die derde tafel."
"Dankie, ek gaan net gou vir my ʼn stukkie van daardie fantastiese tunapastei kry, kan ek vir jou ook iets skep?"
"Nee dankie, ek is reg," sê Pieter vinnig.
"Ag kom nou, ek dring daarop aan."
"Weet jy Soep, ek dink ek kom eerder saam. Ek kan doen met ʼn frikkadelletjie of twee." Daarmee staan Pieter dan op en stap saam met die superintendent na die derde buffettafel toe.
"Daar is natuurlik ander mense met meer ondervinding as jy wat ook in ʼn ry staan vir die pos," sê die superintendent terwyl hy die pastei wreed met ʼn mes deurkerf. "As jy nie die posisie wil hê nie is ek seker ons sal iemand kry."
"Nee, Soep, ek stel definitief belang. Ek wonder sommer net hoekom u my so sterk oorweeg. Ek weet Leroux het my aanbeveel, maar ek het steeds nie die nodige ervaring nie," sê Pieter terwyl hy probeer om ʼn frikkadel met sy vurk te steek sonder om dit te krummel.
"Naudé, ek gaan nou baie reguit met jou wees," sê die superintendent terwyl hy ʼn happie tunapastei in sy mond steek. Hy maak sy oë toe en rol sy kake saam asof hy wyn oor sy tong spoel. "Heerlik, voortreflik, ek moet die resep kry." Wanneer hy weer sy oë oopmaak is dit asof hy uit ʼn trans ontsnap. "Kyk, Naudé, dis oor jou ma, oor die manier hoe sy vermoor is."
"Ek verstaan nie, wat het dit met my ma se moord te doen?"
"Kom nou Naudé, moenie vir my sê jy het nog nie die lyn getrek tussen haar en Leroux se moorde nie?" Pieter dink terug aan die nag by Leroux se motor, hoe die gat in sy kop hom siek gemaak het. Hy het wel besef dat dit eenders lyk, maar die superintendent kan tog nie voorstel dat die twee deur dieselfde persoon vermoor is nie.
"Ek het ʼn konneksie gesien, Soep, maar daar was nie genoeg bewyse om dit te staaf nie."
"Kyk, ek het die forensiese verslag van altwee moorde vergelyk en ek is van mening dat dieselfde wapen gebruik was. Jy sien, verskillende wapens en patrone maak verskillende wonde en daardie twee wonde plus die feit dat dit albei redelik op dieselfde plek was lei my tot die gevolgtrekking dat dit deur dieselfde persoon gedoen is."
"Ek sien, maar waar kom ek by dit alles in?"
"Ek het gehou van wat ek in jou oë sien, Naudé?"
"Ekskuus-tog?"
"Jy lyk soos ʼn gedrewe mens, nie net iemand wat weet wat aangaan nie, maar iemand wat nie sal ophou soek voor hy ʼn antwoord gekry het nie. Veral nie as jy ʼn antwoord oor jou ma se moord kan kry nie."
"Dit is waar, Soep."
"Sommiges glo dat emosionele betrokkenheid ʼn mens se vermoë nadelig beïnvloed, maar ek glo dit kan ook ʼn dryfveer wees, soos vir jou. Daarom dan wil ek hê jy moet die pos aanvaar en sommer volgende week aan die werk spring. Ek verwag van jou om hard te werk."
"Ek sal, Superintendent, ek sal."
"Ek weet jy sal, Naudé. Maar wag laat ek gaan, ek moet nog gaan inkopies doen voor die winkels toemaak." Hy vat ʼn worsrolletjie in die hand, en loop dan doodsluiters by die deur uit. Snaakse man daai, dink Pieter. Die manier hoe hy oor sosiale konvensies gly. Wel, die kos was heerlik, nou is dit seker tyd vir ʼn koffietjie of ʼn teetjietjie.Die wind waai alweer in die Kaap, die wolke is wreed donker gekleur en dis asof Pieter die vors kan voel waarmee die branders teen die kus vasslaan. Buite sien hy twee verdwaalde seemeeue skuiling soek teen die hael. Sy kantoor is warm en sy leerstoel sit gemaklik, net op die regte hoogte teen die donkergevlekte houtlessenaar. Links teen die boekrak staan ʼn paar bokse half uitgepak en op die rusbank teen die oorkantste muur lê ʼn paar foto-rame wat hy nog hangplek voor moet kry. Sy lessenaar is uitgesorteer, alles wat hy nodig het om te werk op hul plek en dit wat miskien mag nodig kom in die toekoms in die onderste laai verpak. Die telefoon lui en Pieter tel op. "Meneer Naudé?"
"Dis reg, met wie praat ek?"
"Dis Jan, meneer, Jan Geldenhuys van die tegniese afdeling."
"Meneer Geldenhuys, baie dankie dat jy teruggekom het na my. Het jy toe iets kon uitrig met die informasie wat ek aangevra het?"
"Ek het, meneer Naudé, ek moet u net attent maak daarop dat dit nie baie spesifiek is nie, maar die parameters van die soektog wat ek moes uitvoer was baie breed. Ek het egter ʼn verslag saamgestel van vier en neentig ander moorde wat korreleer met die twee wat u ondersoek. Ek het die verslag na u rekenaar gestuur en u behoort dit in die gedeelde lêer-gids te sien. Ek wil net vir u noem dat een en tagtig van die moorde ʼn uitsonderlike konneksie het, hulle is almal binne die afgelope veertig jaar gepleeg. Daar is egter ʼn onderbreking van sowat vyf jaar tussen die een-en-vyftigste moord en die twee-en-vyftigste wat tussen geen van die ander moorde gevind kan word nie."
"Baie dankie Geldenhuys, jy sê die verslag is reeds op my rekenaar?"
"Ja meneer, dit is, en dis ʼn plesier. Totsiens meneer Nel." Al die gemeneerery is vreeslik aardig en ongemaklik, maar dit werk seker maar altyd so aan die begin. Hy klik ʼn paar keer met sy rekenaar se muis en lees dan die verslag deur. Die man het omtrent wyd gesoek, van almal wat hy gevind het val net die een-en-tagtig wat hy in die telefoongesprek genoem het werklik binne die parameters. Behalwe vir die wyse waarop hulle vermoor is, is daar eintlik net een ander faktor wat hulle almal saambind en dit is dat meeste van hulle ʼn kriminele rekord het. Anders as dit is daar nie regtig iets wat ooreenstem nie. Die moorde is nie beperk tot die Kaap nie, dis regdeur die land versprei en onder die slagoffers is mans en vrouens van uiteenlopende ouderdomme. Dit skree nou nie juis reeksmoordenaar nie.
ʼn Vlaag hael kletter teen die venster. Hy het gehoop die weer sal kalmeer, maar dit raak net erger. As dit so aangaan sal hy sy planne vir aandete moet kanselleer. Dit kan darem nie lekker wees vir ʼn vrou om in sulke hael en reën uit te gaan nie. Solank die hael net sal stop sal dit ook al beter wees. Pieter staan op en loop na die venster. Hy wonder of die hael so erg op die grond ook is en of dit dalk net so erg hier op die vierde vloer is. Onder op die teer sien hy ʼn wit laag hael lê. Kyk maar, net môre is dit in die koerant. Hy gaan sit langs die fotorame op die rusbank. Wat is die konneksie? Wat is die konneksie? Is daar ooit ʼn konneksie? Pieter tel een van die foto's op en hou dit voor hom op. Dis van hom en sy ma met sy matriekafskeid. Dis die eerste keer wat hy ooit ʼn pak gedra het en die eerste keer wat hy sy ma met so baie grimering gesien het. Daar was foto's van hom en die meisie saam met wie hy gegaan het, maar sy was onbelangrik, sommer net iemand om iemand te hê. Soos sy ma op daardie foto glimlag sal hy haar onthou, gelukkig, ten spyte van al die ongeluk. Hy sit die foto neer, met sy gesig na onder. Mag daardie foto tog maar net die een van sy ma in die hospitaal vervang. Soos oom Hanri vertel het dat hy elke aand daardie verminkte tante sien voor hy gaan slaap, so is dit vir hom met sy ma. Daardie saamgeklamde haartjies, die swartdroëbloed wat teen haar wang geplak sit. Die gat, die oop gat, die goed wat daar moet wees maar nie is nie. Hare, vel, skedel, brein, uitgeplof deur duiwelslood. Hy moet die konneksie vind, hy moet die moordenaar vind en hom... Hy het sy ma vermoor, gaan hy hom werklik in hegtenis kan neem? Pieter gaan sit in die leerstoel en trek die lessenaar se boonste laai oop. Daaruit haal hy ʼn swart stuk staal en plof dit op die lessenaarblad neer. Hy druk die knoppie om die magasyn te laat uitkom. Sy wysvinger trek een van die patrone uit die ry grys tande. Hy rol die koeël tussen sy duim en wysvinger rond, gryp dan met sy wysvinger om die koperdoppie en streel oor die ronde kop. Die gladde metaal voel koud tussen sy vingers. Dan sit hy sy slaaf terug in sy hok. Wanneer hy hom eendag sal ontbied gaan hy sy meester gehoorsaam en getrou sy merk vind, want hy het nie ʼn wil van sy eie nie. Sy baas is sy meester, sy koning, hy sal doodmaak vir hom. Pieter aarsel voor hy die pistool weer in die laai bêre, sal hy dit nie saamneem nie? Hy is tog gelisensieerd om dit te mag dra. Ag, dis net aandete, besluit hy en bêre die geweer. Hy is seker hy kan Coco hanteer sonder ʼn vuurwapen.

YOU ARE READING
Eenslag
ActionMisdaad is nie toevallig nie. Rowe, inbrake, moorde; niks hiervan is toevallig nie. Bendes en dwelm-netwerke ontstaan nie uit die nut uit nie. Alles is georganiseer en agter alles sit Tiaan; die slinkse baas van 'n onsigbare kriminele organisasie wa...