Hoofstuk 4

167 8 0
                                    

Pieter se grys motor is vol modder gespat. Die grondpaaie lyk maar sleg na groot reën, dit is vol sinkgate en slote gespoel. Die boere skraap gewoonlik die paaie na sulke weer, maar dan spoel dit maar net weer vol gate met die volgende reëns. Die GPS koördinate wat Pieter ontvang het lei hom van die N7 hoofweg af op ʼn smal grondpad tussen lemoenboorde deur. Hy draai sy ruit af en snuif die bekende reuk in van vrot lemoene wat op die grond tussen die klam gras blou muf en pap vergaan. Kodlingmotte, die duiwels. Dis hulle wat die lemoene so laat afval. Stadsmense ken mos nie die boer se vyand nie, die mot wat eiers lê onder die skil van die lemoen. As hulle een van die motte se wurmpies in ʼn lemoen vind is dit gewoonlik genoeg om hulle vir maande van lemoene af te kry. Maar die boer ken hierdie wurms en hy haat hulle. Die spuitkarre loop deurnag, die spuite dreun en die dorp se mense hoes van die gif wat soos reën op hulle vensterbanke neerdaal.
Die pad loop afdraand en gou vang sy voorwiele die kenmerkende wit sand waarin dit diep spore tussen walle sand agterlaat. Pieter weet hy sal nie meer ver kan ry voor sy motor gaan vassit in die los sand nie. Dis nou vir skaduwee soek om sy voertuig onder te parkeer en dan moet hy maar te voet verder loop. Hy parkeer onder ʼn Wattelboom met sy donkergroen, smal blare en bruin groeisels wat swaar aan sy takke hang. Dis ʼn tipe swam wat die boom doodmaak, het sy ma aan hom verduidelik toe hy haar as kind daarna gevra het. Voor dit het hy gedink dis een van die plaaskinders wat in die boom gepoef het. Dis snaaks hoe ʼn kind hom dinge kan voorstel.
Dis goed hy het stewels gebring, die sand is bloedig warm van heeldag in die son bak. Hy sluit sy motor en sit die alarm aan, dan begin hy met die paadjie aan te loop. Kort daarna hoor hy ʼn motor se enjin hard dreun soos die revolusies opgejaag word. Iemand sit vas. Hy draf agter die spore aan oor die sand wat nou duintjies word met ʼn bos riete hier-en-daar. Soos hy draf gaan hy nou en dan van die spore af om droë takke op te tel. Uiteindelik is die sukkelende motor voor hom. Dis een van die polisie se Chevrolets, nugter weet wat hulle besiel het om hier met hom te kom in neuk. Hy wys vir die bestuurder om te stop, hy grawe net ʼn groter gat deur die wiele so te spin. Die motor se onderlyf lê al etlike sentimeters van die grond af, so diep het die man al gegrou. Pieter hoop maar die takke help soos hy dit agter die agterwiele plaas. Dan beduie hy vir die bestuurder om terug te ry. Die bande klou aan die stokke vas en kom eers geleidelik agteruit en wanneer dit weer vastrapplek kry skiet die motor sommer gemaklik terug. Die buffer van die motor vat ʼn hap sand soos die neus in die gat afsak, maar ook die voorwiele kry vastigheid op die takke. Pieter stap na die bestuurder te kant toe en beduie vir hom om die ruit af te draai. "Jy sal moet teruggaan, vorentoe gaan jy net weer vassit. Kyk uit vir ʼn boom waaronder my grys Volkswagen staan, dan parkeer jy daar. Sluit maar goed en dan kom jy te voet verder. Die sand is te los vit ʼn motor, selfs bakkies sal hier vassit as die bestuurder nie kophou nie."
"Dankie meneer," sê die konstabel in sy blou uniform en draai weer die ruit op waarna hy in sy spore terugry. Pieter stap aan met die pad na die rivier toe. Die sonbesies skreeu in die rooipitjiebome. Die hitte is nes hy dit onthou, die son bak op die sand neer. Hy moes sommer sy swembroek gebring het. Hoe lekker het hy en sy vriende nie naweke in die rivier kom swem nie. Hy het sy Oupa se ou rooster geleen en dan het hulle beurte gemaak om ʼn pak wors saam te bring. Iemand anders sou weer broodrolletjies gebring het en na ʼn uur of wat was die kole uit en hulle mae vol. Dan het hulle soos seekoeie op die rivieroewer gelê en bak in die son.
"Is dit nou die tyd om hier aan te kom?" vra Johan wat van agterop ʼn bakkie se kap orent kom. "Jy is laat, weet jy dit?"
"Ek is bewus daarvan meneer Leroux, maar ek het goeie rede, ʼn polisievoertuig het hier anderkant..."
"Ek stel nie belang in verskonings nie, jy is laat en dit laat my sleg lyk," raas Johan met sy wysvinger op Pieter gerig.
"Dis net twintig minute, dis mos nou nie asof die lyk kan wegloop nie, meneer."
"Dis nie die punt nie, jy's nog maar ʼn maand in dié pos. Jou eerste moord-ondersoek en jy kom laat hier aan. Dit lyk sleg man en dit laat my sleg lyk. Jy sal nooit, ooit, weer laat kom nie, het jy my?" Pieter sug.
"Dis reg meneer Leroux, eerste, laaste keer."
"Goed so, nou spring aan die werk. Ek het vir jou merkers geplaas waar ek bewyse gesien het, skryf dit op en plaas hulle versigtig in die sakkies wat jy hier agter in die bakkie in die groen kis sal vind. Gebruik handskoene. As ek een van jou vingerafdrukke, ʼn haartjie of selfs net ʼn spoegdruppeltjie op een van die bewysstukke sien sit ek jou agter tralies tot jy vrot. Verstaan jy?"
"Ek verstaan."
"Reg, die vorms is voor in die bakkie. Begin." Pieter kry die vorms en sakkies uit die bakkie en loop na waar die lyk op die rivieroewer lê. Sy bene is nog half in die water. Rondom hom is daar klein pennetjies in die grond gesteek. Sorgvuldig plaas hy elkeen van die gemerkte items binne ʼn plastiese sakkie en merk dit. Die laaste merker is in ʼn stuk tou wat om die lyk se middel gebind is. Hy pluk aan die tou om dit van die lyk af los te kry sodat hy dit in ʼn sak kan wegsit. "Wat de hel doen jy?" gil Johan en kom op hom afgestorm.
"Ek kry die tou onder hom uit, meneer."
"Is jy mal in jou kop?"
"Ekskuus meneer?"
"Dis ʼn lyk, nie ʼn ou stuk hout nie, jy hanteer dit met respek."
"Jammer meneer, maar ek moet die tou onder hom uitkry."
"Jy't nie die hele tou nodig nie, sny die punt af en merk watter kant jy afgesny het."
"Goed, meneer, dankie."
"Ek dog jy was by die akademie?"
"Ek was, ja."
"Jy het seker gesit en snot grawe tydens jou klasse nè?"
"Nee meneer."
"Nee meneer. Ha! As jy geluister het in die klas sou jy geweet wat jy verkeerd doen, maar jy het nie eers ʼn benul nie. Hoe oud dink jy is die lyk?"
"Ek skat so vyftig, meneer."
"Vyftig?" Johan sug. "Hoe lank is hy al dood dink jy?"
"O, jammer. Seker ʼn goeie dag of twee. "
"En waarom dink jy was daai tou om sy lyf vasgebind? Om sy broek op te hou?"
"Nee, meneer, ek weet nie meneer. Ek het nog nie daaroor gedink nie."
"Natuurlik het jy nie, dis wat gebeur wanneer jy laat by ʼn misdaadtoneel opdaag. Die tou is gebruik om hom onder die water te hou, seker vasgebind aan ʼn rots of iets."
"Goed meneer, dit maak sin."
"Natuurlik doen dit. Sê my, wat is die inspekteur se eerste leidraad wanneer dit kom by ʼn moord?"
"Die moordwapen, meneer."
"Nee, verkeerd! Die slagoffer," sê Johan en stap na die lyk toe. Hy buk oor die lyk se middel en lig die tou effens op. "Kyk wat jy gedoen het. Die tou het nou ʼn sloot in die man se vel gesaag. Die merke wat die tou daar gelos het is dus nou vernietig."
"Ek is jammer meneer, maar ek weet nie wat so verkeerd is daaraan nie."
"Elke merkie aan die liggaam kan vir jou iets leer. Hoe diep die tou gesny het kan ʼn aanduiding gee of die moordenaar ʼn man of ʼn vrou was, ʼn man sal natuurlik die tou stywer vas kan maak as ʼn vrou. Verder sou dit ook vir ons ʼn meer akkurate idee kon gee rondom die tydsperiode waarin hy vermoor is."
"Ek is jammer meneer, ek het nie geweet sulke goed is moontlik in Suid-Afrika nie. Gedog dis net in eerstewêreldlande waar hulle sulke goeie tegnologie het."
"Man, dis nie tegnologie nie. Dis mense wat al vir jarre daardie werk doen. Ons forensiese span ken hulle werk, anders as jy."
"Ek is jammer meneer, ek besef ek het ʼn fout gemaak. Al die bewysstukke wat u gemerk het is geprosesseer, wat moet ek volgende doen?"
Johan sug en staan op van waar hy langs die lyk gekniel het. "Kry vir jou ʼn paar waterstewels agter in my bakkie, jy lyk soos ʼn tien of ʼn elf."
"Elf, meneer." Pieter trek ʼn geel plastiese krat uit die agterste kajuit van die bakkie, daaruit haal hy vir hom ʼn paar swart waterstewels en ruil hulle met sy leerskoene. "Reg, meneer, hulle is aan, wat nou?" Johan kom om die bakkie gestap met ʼn winkelsak in die hand.
"Right, hier is vir jou ʼn kaart, ʼn potlood, ʼn kompas en ʼn bottel water. Ek neem aan jy het jou selfoon by jou?"
"Ja meneer," antwoord Pieter terwyl hy die sak by Johan neem en daarin rondvroetel.
"Mooi so, as jy iets vind kan jy sommer daarmee ʼn foto neem."
"ʼn Kaart en ʼn kompas, waarna soek ek meneer?"
"Ek wil weet waar die man vermoor is so jy gaan in die rivier teen die stroom oploop en soek na ʼn kuil wat diep genoeg is vir die moordenaar om die man daar onder die water te kon vasmaak. Tel jou treë af soos jy loop en merk elke kuil af op die kaart."
"Maar, meneer, hoekom ʼn kaart? Is daar nie eerder ʼn GPS nie?"
"GPS? Nee-a kêrel, net eerstewêreldlande se polisie beskik oor sulke tegnologie. Toe-toe, opskud, daardie kuile gaan nie hulself op die kaart plot nie." Net toe Pieter omdraai om na die rivier toe te loop roep Johan hom terug. "O-ja, amper vergeet ek. Vat hier," beveel Johan en hou ʼn mes na Pieter uit. "Hier loop ʼn storie dat ʼn krokodil uit die Kruger wildtuin ontsnap het en al met die Olifantsrivier afgeswem het tot hier. Hy lê glo in die kuile en wag vir bokke om te kom water drink dan gryp hy hulle. So wees maar versigtig wanneer jy voel hoe diep die kuile is." Johan neem die mes en glimlag maar net want hy weet die man praat tjol. Hy kom immers van hierdie area af en het in hierdie einste waters geswem toe hy ʼn kind was. Van krokidille was daar geen teken nie, net nou-en-dan ʼn grys slang wat oor die water swem. Die Olifantsrivier loop nie eers deur die Kruger wildtuin nie, of doen dit? Die man het hom net probeer bangmaak, maar dit was ʼn fout om vir hom sy mes te gee. Wat kan hy wat Pieter is nou help as die mes in die kake van ʼn yslike krokodil wegraak?

EenslagOnde histórias criam vida. Descubra agora