Hoofstuk 5

89 6 0
                                    

"Het die spannetjie die plek gekry?" vra oom Hanri van waar hy in ʼn rottangstoel op die stoep sit.
"Ja oom, ek het hulle net gou gaan wys waar om te parkeer, hulle ken mos nie die los sand nie." Pieter kom oor die grasperk aangestap. Dit is donker en hier en daar sing ʼn kriek. Die lug is oopgetrek, geen wolkie in sig nie. Die maan gooi ʼn helder lig oor die landskap. Pieter klim die paar trappies uit tot op die stoep.
"Kry daar vir jou ʼn bier in die yskas en dan kom sit jy."
"Dankie oom," sê Pieter en gaan deur die swaaideur in die kombuis in.
"Terwyl jy nou daar is, bring sommer vir my ook nog ʼn enetjie," roep oom Hanri deur die sifdeur. Kort daarna kom Pieter uit die kombuis met twee biere in die hand. Voor hy een aan Oom Hanri oorhandig, aarsel hy ʼn oomblik.
"Slaap die vroumense al?"
"Ja, jong, moenie so bekommerd lyk nie, dis net ʼn tweede bier."
"Dis reg oom, dis net dat die tannie so besorgd is oor oom se gesondheid. Ek dog maar net ek vra eers." Pieter gee die bier aan vir Oom Hanri wat die doppie sommer teen die tafelblad wat langs hom staan oopkap.
"Man, die tante is so besorgd oor my gesondheid dat ek dit nie meer kan hou nie. Dis nie gesond om te gesond te wees nie. Dis nou kwansuis om langer te lewe, verbeel jou, twee oumense allenig op die plaas. Hoe lank tot iemand hier inbreek, my vrou verkrag en my martel vir ʼn tv en ʼn selfoon. Hierdie land van ons, ou Pietman, hierdie land," sê Oom Hanri en vat ʼn groot sluk van sy bier. "Snags slaap ek met my vrou in my linkerarm en my haelgeweer in die regter. Die loop is koud teen my tone, maar dis al wat ek kan doen. Die polisie... Ekskuus man, ek het effe vergeet dat jy ʼn polisieman is."
"Nee, dis reg Oom, ek begryp."
"Net nou-die-dag het vier kaffers ʼn ou vrou op die plaas hier langsaan ons met ʼn besem verkrag. Ek het eers laat daarvan gehoor, maar ek was steeds voor die polisie daar. En nou Pieter, nou sien ek haar flenterliggaam elke nag as ek my oë toemaak en bid om bewaring."
"Dis verskriklik Oom, ek het nie besef plaasmoorde vind nou al so diep die land in plaas nie."
"Man, oral. Ek sê jou, waar daar kaffers is, daar loop die bloed."
"Ek weet nie, Oom, die moordenaars is darem nie almal swart nie." Oom Hanri lag droog in sy keel en verdrink die lag in ʼn laaste sluk bier. Dan staan hy op en vryf sy hande saam.
"Nou ja, laat ek maar gaan inkruip, die tante is seker al bekommerd dat ek nie uitkom nie," sê hy terwyl hy na die kombuisdeur toe loop. Hy maak die deur oop, maar voor hy ingaan, draai hy om na Pieter. "Ek moet jou darem sê, Pietman, dit laat my baie meer op my gemak voel as hier ʼn jongmens of twee in die huis is. Dis hoekom ons die kamers vir gaste verhuur. Lekker slaap jong." Daarmee stap hy dan die kombuis binne en na ʼn paar sekondes doof sy loop op die ou plankvloere uit. Dis hartseer dat die mense so in vrees moet lewe, dink Pieter. Dis so ʼn mooi en rustige omgewing, maar as mens eers begin vermoed dat mense in jou struike wegkruip tot jy gaan slaap, is al die mooiheid ook daarmee heen. Plaasmoorde is tragies, maar net so is dit dat ʼn ou man nog swartes kaffers noem. Apartheid is miskien verby en witmense het wel baie aangepas, maar jy sal nooit al die haat tussen ou plooie kan uitkrap nie. Maar wie is hy om te oordeel, hy ken nie die vrees van ʼn hulpelose ou man nie. Hoe dit moet voel om met ʼn haelgeweer teen jou sy te slaap, weet hy nie en bid om dit ook nooit te voel nie.
Skielik klou twee koue hande van agter sy rug om sy oë. Dit voel asof sy hart wil gaan staan, hier praat hy en die oom nou net juis oor plaasaanvalle. Dan kom die stem: "Raai wie dit is."
"My moer, Coco, is jy mal?"
"Dis net ʼn speletjie," verdedig sy. "En jy is reg in elk geval."
"Ek is jammer, ek het net groot geskrik. Ek dog jy slaap al lank." Coco kom sit in die oop stoel langs Pieter.
"Nee, ek het hare gewas en drooggeblaas. Daar is allerhande gaga goed in die rivierwater wat mens moet uitwas."
"Ek en Oom Hanri sit nou net en praat oor plaasmoorde en aanvalle en goed, en toe kom gryp jy my hier van agter af. Jy kan bly wees ek het jou nie bygekom nie."
"Jy? My bykom?" terg sy. "Dit sal die dag wees, meneer Piet Skiet. Daai armpies van jou is gans te maer om my onder te kry."
"O, nogal. En hoe weet jy dit nogal?"
"Jy vergeet, ek het jou sonder ʼn hemp gesien. Ek weet wat in daai spiertjies van jou steek."
"Jy gaan my nooit ophou terg nie, nè?"
"Nie sommer gou nie, nee. Waar is Oom Hanri, ek dog jy sê julle was besig om te gesels?"
"Ons was ja, maar hy het gaan slaap net voor jy uitgekom het."
"So ons is alleen?"
"Ons is." Vir ʼn oomblik is daar stilte. Die krieke kriek en ʼn wind suis sag deur die neutbome se takke.
"Wanneer gaan jy terug Kaap toe?" vra Coco na ʼn rukkie.
"Seker more nadat die moordsaak afgehandel is. Hoe weet jy ek kom van die stad af?"
"Net stadsmense loop in die rivier rond in ʼn volle pak klere," terg Coco.
"Jy het seker ʼn punt beet. Van waar af kom jy?"
"Vredendal oorspronklik, maar ek het Kaap toe getrek toe ek jonk was en bly nou al vir ʼn paar jaar daar."
"Nog ʼn Kapenaar. En dan durf jy om my te spot oor my keuse van swemklere. Jy behoort tog te verstaan hoe belangrik dit vir ʼn professionele persoon is om altyd goed aangetrek te wees."
"Miskien. Dis ʼn mooi aand nè?"
"Dis so rustig hier, geen verkeer of sirenes nie. Dis net soos wat ek dit onthou."
"Ek is mal oor die krieke se musiek, dit bring ʼn tipe kalmte oor jou siel. En dan kyk jy op en jy sien hoe helder die naghemel is," sê Coco en gaan sit op die rant van die stoep, "duisende sterre kyk op ons neer. Weet jy wat hulle is?"
"Wat wie is?"
"Die sterre."
"Rots seker maar, of gas of iets wat gloei."
"Nee, dis die siele van ons voorgeslagte wat in die hemelruim oor ons wag hou."
"Siele? Hoekom verskiet hulle dan?"
"Ag, mans tog. Hulle moet altyd ʼn romantiese atmosfeer vuil vat met hulle ghrieshande."
"Ghrieshande? Nee kyk, jy het my nou heeltemal verloor. Ek dink ek gaan eerder slaap voor my oupagrootjie se siel op my kop val." Coco bly net stil sit sonder om enigiets te sê. "Jy moet ook maar inkom, dit word koud." Steeds bly Coco roerloos sit. "Goed dan," sê Pieter en staan op om in te gaan. "Onthou net om te sluit wanneer jy inkom. Goeie nag." Daarmee gaan hy by die sifdeur in en loop katvoet oor die gang se plankvloere. Sy kamer in die tweede een na regs. Hy moet tog net in die regte bed klim, netnou klim hy in Coco se bed en dan kom kruip sy onwetend langs hom in. Sterre as siele, wat makeer haar? Sy bed is netjies opgemaak, hy voel aan die kussing. Dis een van daardie ou verekussings. Hy haal die kussing af en sit dit op die bedkassie, hy is allergies vir verekussings. Hy sal maar ʼn handdoek oprol, besluit Pieter, maar hy moet net onthou om more vroeg dit weer om te ruil. Hy wil nie die tannie aanstoot gee nie. Die Oom het vir hom ʼn stel ou klere geleen om in te slaap. Hy trek dit aan en gaan borsel sy tande. Vanaand gaan hy lekker slaap, dit is so rustig hier; baie goed vir die siel.

Pieter skrik wakker, sy selfoon lui. Hoe laat is dit, wonder hy, dis nog stik donker. Sy selfoon vibreer op die bedkassie. Dis ʼn onbekende nommer wat bel, hy antwoord.
"Pieter hier."
"Naudé, ek het vir jou koördinate gestuur, sorg asseblief dat jy daar uitkom. Binne die volgende dertig minute."
"Ekskuus, maar met wie praat ek?"
"Superintendent van Eden. Naudé, Leroux was in ʼn motorongeluk. Die persoon wat dit ingebel het sê Leroux was opslag dood, daar is blykbaar geen teken van ʼn ander voertuig nie, so hy kon nie vasstel wat gebeur het nie."
"Dood, maar hoe? Hy is by die huis sover ek weet."
"Nee, volgens sy vrou is hy vier ure terug uit die Kaap uit onderweg na Citrusdal. Dit was net nadat hy ʼn telefoon oproep ontvang het. Ons probeer nog vasstel met wie hy gepraat het."
"Waar het die ongeluk plaasgevind, superintendent?"
"Soos ek reeds gesê het, die koördinate is aan jou gestuur. Dis êrens op die N7, maak dat jy daar uitkom. Nog ʼn ding, die man wie dit ingebel het wag daar vir jou, neem ʼn verklaring af. Totsiens Naudé, voorspoed." Daarmee druk die superintendent die telefoon dood.
Leroux is dood. Dood. Hy het hom net gister nog gesien, nog net gisteraand het hy met hom gepraat. Daar is nie nou tyd om te treur nie, keer hy homself. Hy moet op die pad kom. In ʼn halfuur moet hy by die ongelukstoneel wees. Hy kyk op sy foon vir die koördinate, kry dit in ʼn SMS en sleutel dit by sy GPS in. Die ongeluk het net na die Piekenierskloofpas plaasgevind. Hy spring in sy klere en gryp sy sleutels. Ligvoet draf hy in die gang af, maak die deur oop en sluit dit weer agter hom. Hy gooi die sleutel deur ʼn oop venster en spring in sy motor. Dis koud in die voertuig, die ruit is effens geryp, hy sal die verwarmer op die voorruit moet laat blaas sodat hy in die pad kan sien. Soos hy wegtrek sien hy hoe Oom Hanri op die stoep uitkom met sy haelgeweer. Die stomme oom het seker gedink iemand breek in.
Die pad is leeg, daar kom hier en daar net ʼn vragmotor van voor af. Sowat ʼn kilometer van die ongeluk af, kom daar weer ʼn vragmotor van voor af wat sy ligte vir Pieter flits. Dis dan wat hy besef dit is waar, daar is werklik ʼn ongelukstoneel en Leroux is werklik dood. Sy voet trap vaster op die petrolpedaal en die motor gly om die draai. Sowaar, daar voor in die pad staan Leroux se motor. Sy neus is platgeduik teen die rotsmuur aan sy linkerkant. Pieter hou voor sy hoofspeurder se motor stil en aktiveer sy gevaarligte. Hy klim uit en skakel sy selfoon se flits aan. Voor hom is die motor, maar dis al. Daar is niemand anders nie, die persoon wat die ongeluk aangemeld het, het seker maar gery. Hy stap nader, die kar hang vorentoe in ʼn stormwatersloot. Die skade aan die motor is erg, maar as Leroux sy veiligheidsgordel gedra het, behoort hy dit maklik te oorleef het. Behalwe vir die ingeduikte neus, lyk dit nie asof daar enige ander skade aan die voertuig is nie. Pieter skuur verby die enjinkap om by die bestuurderskant se deur uit te kom. Toe hy sy flits oplig en deur die oop venster skyn, sien hy Leroux se kop teen die deurpaneel lê. Sy oë is oop, sy klere en ken is rooi gevlek. Pieter hardloop na die passasierskant toe. Die venster is stukkend gekraak, deur ʼn gat in die glas sien Pieter Leroux se lyk. Sy kop, die gat in sy kop. Pieter sak neer op die teer, sy kop klop van die pyn en hy veg om sy bewussyn te behou. Die gat, die hare wat nat aanmekaar vasplak. Die rivier van harsings wat teen sy wang af oor sy nek gevloei en begin uitdroog het. Leroux is geskiet, ʼn skoon kopskoot. Dis hoekom hy dan van die pad af gery het. Dit moes iemand in ʼn motor of op ʼn motorfiets gewees het wat hom in die verbygaan geskiet het. Hy het nog nooit so ʼn moord gesien nie, nog nooit eers van so iets gehoor nie. Dit was ʼn sluipmoord en die moordenaar weet wat hy doen.
Kort daarna kom die polisie aan met twee vangwaens. Dit is waar wat Oom Hari gesê het, die polisie vat lank om te reageer, hy mag dalk voor hulle geweet het van die voorval, maar hulle was baie nader gewees as hy. ʼn Middeljarige man klim uit die vangwa en kom na Pieter aangestap. Hy is in uniform geklee, met ʼn koeëlvaste baadjie oor sy uniform. Wat die doel van die koeëlvaste baadjie is, weet Pieter nie. Die man se bierpens is so groot dis ʼn wonder die baadjie se gespe pas om sy maag. Die enigste koeël wat deur daai baadjie gestop kan word is een wat reg van voor af kom. Sodra daar een skuins van voor af aankom, staan hy nie ʼn kat se kans om te oorleef nie. Hoe die man sy fiksheidstoetse slaag, weet hy ook nie.
"Wat maak jy hier? Jy mag nie hier wees nie. Dis ʼn ongelukstoneel," sê die man en wys vir Pieter om weg te gaan.
"Jy is laat meneer," sê Pieter sonder om te beweeg.
"Ekskuus? Laat vir wat?"
"Die moord, meneer. Jy is laat, ek moes verder ry as jy en ek is voor jou hier."
"Is jy een van daai hoog-op speurders van die Kaap wat die riviermoord ondersoek?"
"Ek is."
"Nou kyk, die man is dood, hy sal nie omgee dat ek laat is nie."
"Wat is jou naam, meneer?"
"Jaco Nel, konstabel Jaco Nel, Citrusdal," sê die man en haal sy identifikasie wapen uit sy sak wat hy voor hom uithou vir Pieter om te sien. "En wat is jou naam nogal?"
"Pieter, maar vir jou meneer die konstabel is ek die waarnemende hoofinspekteur aan die Kaapse metropolitaanse polisie. Die man wat dood is, sy naam was Johan Leroux en dis in sy skoene wat ek nou moet staan en laat ek jou sê, hy verpes dit as mense laat is. So meneer die konstabel, gaan klim jy asseblief vir my terug in jou wa en stuur vir my iemand wie bereid sal wees om met my te werk."
"Maar, jy kan nie..."
"Dit sal al wees dankie, jy mag nou maar gaan." Die man staan eers vir ʼn paar oomblikke geskok staan, maar draai dan om en loop terug na sy voertuig toe. Kort nadat hy ingeklim het hoor Pieter hom op iemand skree en dan klim ʼn jongerige vroutjie uit. Haar hare is styf op haar kop vasgebind in ʼn klein bolla. Sy is netjies in uniform geklee en haar koeëlvaste baadjie pas nou.
"Goeiemôre meneer, hoe kan ek vir u van diens wees?"
"Môre juffrou, wat is jou naam?"
"Serah Cloete, meneer."
"Goed, my naam is Pieter Naudé. Ek gaan hierdie ondersoek lei en sal graag wil hê dat jy mooi moet luister na wat ek vra en dit dan moet doen. Is dit reg met jou?"
"Dit is reg, meneer. My superior sê u het die slagoffer geken?"
"Ek het ja, hy was wat jou superior vir jou is. En net so was hy ook maar nie altyd vreeslik aangenaam om mee saam te werk nie, maar hy was die beste in sy veld en hy was ʼn goeie mens. Maar vir nou moet ons fokus op wat ons moet doen. Hy was ʼn belangrike speurder en is deur ʼn professionele sluipmoordenaar vermoor. Dit is van kardinale belang dat ons hierdie ding reg doen. Dit is my eerste keer as hoofspeurder en ek raai dis jou eerste keer ook."
"Nee, ek was al baie uit op roep."
"Jou eerste keer as speurder."
"Speurder?"
"Ja, ek het iemand nodig om my hier te help, so hou jou oë oop en luister goed."
"Ek sal so maak, meneer."
"Vat jou flits dan loop jy so driehonderd meter terug in die pad. Skyn die lig op die teer in die baan aan jou linkerkant. Ek wil hê jy moet soek vir ʼn plek waar bande teen die teer afgeskuur het. Dit sal ons ʼn idee gee van watter tipe voertuig die moordenaar gebruik het. Voor jy dit doen, gaan vra die beamptes in die ander vangwa om solank die toneel af te span en noodweerkaatsers uit te sit."
"Goed so, meneer. Ek maak so," sê die vrou en draai om na die vangwa om haar taak af te handel. Dit voel vreemd om die persoon in beheer te wees en bevele uit te deel, maar dit is definitief iets waaraan Pieter kan gewoond raak. Die arme vrou is so sag en gedweë, sy sukkel seker maar onder daardie vent van ʼn konstabel. Mens kry mos nog oral mans wat glo dat vrouens nie op hulle vlak kan dink nie. Soms giet mans in professionele okkupasie of selfs in huislike verband vrouens in die vorm van hulle ontwerp. Maar die verkeerdste ding wat ʼn man kan doen is om ʼn vrou te onderskat.

Die forensiese span het sowat ʼn uur later opgedaag en die lyk verwyder nadat al die nodige bewyse en inligting versamel is. Die motor is ook intussen weggesleep en die pad weer oopgestel. Die enigste herinnering aan die tragedie van die vorige nag is die glasskerwe wat in die sloot ingevee is. Pieter het by ʼn uitkykpunt geparkeer en stap nou langs die pad op soek na rubbermerke op die teer. Nie hy of die jong polisievrou kon dit die vorige nag in die donker vind nie. As daar was het die donkerte en die growwe teer dit ingesluk. Hy soek nou maar in die hoop dat die daglig dit weer uitgespoeg het. Sy blik gly oor die teer en dan vind hy waarna hy soek. Twee rye skaafmerke wat skuins van die linkerbaan na die aankomende baan gly. Die merke is verder as wat hy verwag het, kan dit wees dat Leroux se motor so lank nog nadat hy dood is op die pad gebly het? Die merke is donker en klein stukkies rubber steek aan die swart klippers vas, dit is redelik nuut. Dit mag nou wel nie die akkuraatste bewysstuk in die hof maak nie, maar dit is ʼn goeie leidraad. Dit beteken die moordenaar was nie noodwendig die bestuurder nie, of dalk tog; dit mag wees dat hy met een hand aan die stuur gepluk het terwyl hy met sy ander hand korrel geneem het. Hy neem ʼn foto van die merke en wanneer hy tevrede is met die kwaliteit, stap hy terug na waar hy parkeer het. Citrusdal en die omliggende plase lê voor hom oopgevlek met die Olifants wat soos ʼn ruggraat deur die vallei strek. Die bloekombome het ʼn lekker skadu oor sy motor gegooi sodat dit nie te warm kon bak in die skerp son nie. Dit is nie buitengewoon vir hierdie omgewing om so warm te word in die winter nie. Dit lei gewoonlik tot ʼn laagdrukstelsel en donderweer; nou nie donderweer soos wat mens in die Hoëveld kry nie, maar hewig genoeg om ʼn mens met elke slag te laat skrik. Pieter klim in sy motor, sy werk is nou klaar in die dal. Hy moet terugkeer Kaapstad toe op bevel van superintendent van Eden, maar eers moet hy sy klere en ander bagasie op die plaas gaan optel. Hy wonder of Coco nog daar is en wanneer sy gaan terugry Kaap toe. Dalk sal hy haar nommer vra en haar gaan opsoek in die stad. Daar is ʼn goeie restaurant wat hy haar na toe kan neem.

EenslagTempat cerita menjadi hidup. Temukan sekarang