"Sal dit al wees, meneer?" vra die kelnerin. Haar hare blink geel in die warm laatmiddag son.
"Ja, dankie, net die koffie asseblief," antwoord Johan. Sy blik dwaal van die blondekop se goue krulle weg deur die venster na die blou lug buite.
Die koel seelug spoel deur die klein koffiewinkel se oop vensters na binne. ʼn Paar seemeeue sirkel bo die winkel se stoep en kom nou en dan afgesweef grond toe met hulle vlerke oopgesper asof hulle die lug omhels en die wind hulle dra. Teen die stoepie af oor die strand breek die branders teen rotse en spoel oor die fyngemaalde skulpepulp.
"Kalm, is dit nie?" merk ʼn manstem. Johan teug sy longe vol asem soos wat sy gedagtes terugkeer na die winkeltjie waarin hy sit. 'Kalm... kalm.'
"Ek sê, dit is kalm, is dit nie?" kom die stem weer. Johan draai sy kop na die tafel links van hom waarvan die stem afkomstig is.
"Kalm?" vra hy asof hy nie reg gehoor het nie.
"Ja, kalm. Die see, die branders, die wind; dis so sielsrustig."
"Daar is vrede in die kalmte; dis waarvan ek hou," antwoord Johan die vraag wat onbeantwoord in die lug bly hang het soos die vrugtevent buite die venster se goedkoop tabakrook.
"Ek kan verstaan hoe mense met ʼn baie stresvolle beroep so sal voel," sê die man en vou die oggendblad wat voor hom oop was op. "Sal jy omgee as ek by jou aansluit? Jy het immers die tafel met die beste uitsig."
"Glad nie, kom sit gerus," nooi Johan. Die man staan op en bring sy koerant saam met ʼn aktetas wat hy op die stoel langs hom neersit.
"Dankie, dis gaaf van u meneer Le Roux." Hy gaan sit en buig sy liggaam effens na vore om sy stoel in te skuif.
"Geen probleem, ek wag net vir my..." Johan kyk skielik fronsend op, reguit in die donker oë van die man oorkant hom. "Hoe, hoe ken jy my naam?" Die man staar stip na Johan sonder om ʼn woord te sê. Dan glimlag hy en sit effens terug in sy stoel.
"Weet jy, Johan, dit is darem ʼn dom vraag wat kelners jou altyd vra. 'Sal dit al wees, meneer?' asof jy van iets vergeet het. Jy kom al vir ses maande na hierdie koffiewinkel toe en sy het jou nog elke keer bedien want dis haar tafel. Sy weet al dat jy warm melk verkies en om die flessie heuning te bring, maar steeds vra sy of dit al sal wees. As of jy in ses maande al iets anders as een koppie rooibostee bestel het."
Johan skuif sy stoel effe terug. "Hoe ken jy my naam, vra ek. En hoe weet jy dit?"
Die aktetas se knip klap oop en die man haal ʼn opgerolde swart serp daaruit wat hy voor hom op die tafel plaas. "Dis koud hier teen die strand in die namiddag, dink jy nie?" Hy steek sy regterhand tussen die lae materiaal van die serp in.
"Ek het nie tyd vir grappies nie. Ek dink ek sal nou gaan, tot siens." Johan staan op en neem sy beursie van waar dit op die tafel gelê het. Die man lig die serp op wat nou om sy regterhand gerol is.
"Ag nee meneer Le Roux, sit nog ʼn bietjie, toe. Ek begin nou eers lekker gesels."
"Ek is nie lus om te gesels nie, dankie." Johan wink die kelnerin nader.
"Sit meneer Le Roux, ek dring daarop aan." ʼn Harde klikgeluid kom vanuit die serp. Johan word bleek en val terug in sy stoel.
"Natuurlik sal ʼn speurder soos jy weet wat daardie klank beteken, nè meneer Le Roux? Mense vra my gedurig hoekom ek nog met ʼn eenslag rewolwer sukkel; dubbelslag pistole en masjiengewere is soveel meer effektief, sê hulle. Maar meneer Le Roux, hulle begryp dit nie, jy sien. Ek is ʼn eerbare man in ʼn eerwaardige professie. Daar is ʼn tipe kode waarvolgens ek lewe, meneer Le Roux, en deel daarvan is dat ek niemand in die rug skiet nie. Jy moet hulle in die oë kyk voor jy die sneller trek, jy is dit aan hulle verskuldig, want jy neem hulle lewe. Glo my meneer Le Roux, ek kan elke paar oë onthou van die mense wat ek al geskiet het met hierdie geweer. Die pyn, skok en vrees soos hulle voel hoe die lewe hulle verlaat. Maar dis die spyt wat ek die beste kan onthou. Spyt, en elkeen van hulle het dit gevoel. Spyt dat hulle nie gedoen het soos ek verlang het nie. Spyt dat hulle na die koeël in my loop gevra het. So, meneer Le Roux, moenie iets doen waaroor jy sal spyt kry nie."
"Wat wil jy van my hê?"
"Dis jammer dat dinge nou so ongesellig moet wees, maar dis seker maar wat gebeur wanneer jy ʼn geweer op iemand rig. Jy het die kelner geroep, as sy kom vra jy vir ʼn glas water, gebottelde water, enige soort. En glo my meneer Le Roux, jy wil nie hê dat sy iets moet agter kom nie." Hy steek sy hand in die aktetas en bring ʼn bruin koevert te voorskyn. Dié skuif hy dan oor die tafel na Johan toe. "Dis ʼn geskenk vir jou meneer Le Roux." Johan kyk hom net aan sonder om te beweeg. "Ag toe nou, meneer Le Roux, dis nie nodig vir etiket hier tussen ons nie, jy kan dit gerus oopmaak, asseblief." Johan sug en skeur dan die koevert langs die kort naat oop. Daaruit haal hy ʼn paar foto's. Die boonste foto is ʼn skoolfoto van ʼn jong seun en ʼn dogter. Johan laat val die foto's op die tafel, maak sy oë toe en sug.
"Jou bliksem, jy's ʼn f..."
"Ag toe nou meneer Le Roux," val die man hom in die rede. "Dis ook nou nie nodig om jou maniere heeltemal by die deur uit te smyt nie." Die kelnerin kom by die tafel aan en stryk haar voorskoot met haat hand plat.
"Ekskuus dat ek so lang gevat het meneer, gaan bietjie dol vandag u weet. U tee is besig om geskink te word, ek sal dit nou-nou vir u bring."
"Nee-nee, dis; kan ek nog iets bestel asseblief?" vra Johan en steek die foto's vinnig terug in die koevert in.
"Sekerlik meneer, wat sal dit wees? Ietsie om te eet?" vra die kelnerin terwyl sy ʼn notaboekie en ʼn pen uit haar voorskoot haal. Sy klik die pen se punt uit, reg om te skryf.
"Net ʼn glas water as jy het."
"Reg so, meneer, ek kry gou vir u." Sy steek weer die boekie en pen weg in die voue van haar voorskoot en draai om, om te loop.
"Voor jy gaan, roep asseblief vir my die bestuurder, die tee het darem wragtag nou te lank gevat," sê Johan. ʼn Grynslag vorm op die gesig van die kelnerin. "Hoekom sou sy grynslag op so ʼn versoek?" wonder Johan, "dit is vir haar tog ʼn klap in die gesig."
"Dit was dom meneer Le Roux, wat het jy gedink sal die bestuurder dalk teen my kan doen? Duidelik weet jy nie met wie jy te doen het nie."
"Ag kom nou jong, jy't nie ʼn idee met wie jy te doen het nie. Jy maak my nie bang nie," kap Johan terug.
"Nie? Jy was dan netnou so bleek gewees toe jy hoor hoe my rewolwer se hamer terugtrek. Dis net die adrenalien wat begin pomp, meneer Le Roux. Jy is bang vir my, skytbang, want jy weet ek hou jou lewe en jou kinders se lewens in my hande. Kom ek stel u gerus, meneer Le Roux. Jy mag maar bang wees vir my, daar's geen skaamte daarin nie. Ek is nie soos enige van die mense wie jy al in hegtenis geneem het nie. Wanneer ek vanmiddag by die huis kom gaan ek die eerste drie patrone uit my magasyn haal en onder my kopkussing bêre, want jou naam staan op een en die name van jou kinders op die ander. Dis nou te sê as ons tot ʼn ooreenkoms kan kom en ek nie die eerste koeël hoef te gebruik nie."
"Jy dreig so maklik, maar hoekom dan net my kinders, hoekom nie sommer my vrou ook nie? Wat van my ma en my hele blerrie familie, gaan jy almal uitmoor?"
"Ek wil nie jou hele lewe verwoes nie, meneer Le Roux. ʼn Man met niks om te verloor nie is ʼn gevaarlike man en ek is nie lus vir ʼn groot storie nie."
"So jy sal ʼn vrou se man en kinders van haar afneem en haar met niks los nie?"
"Ag kom nou, meneer Le Roux, dis nie nodig om my moraliteit te toets nie."
"Nee, dis net, dan het sy niks om te verloor nie. Dan is sy ʼn gevaar."
"Slim, meneer Le Roux, slim. Dis hoekom ons hier is, u sien, dis oor u slimheid. Ek het jou nodig. En wat jou vrou betref, ek glo nie Sandra se hart sal ooit weer heel genoeg wees om agter my aan te kom nie."
"Jy is siek, weet jy dit?"
"Die lewe is siek, meneer Le Roux, ek maak slegs maar ʼn lewe." ʼn Wit beker tee klink teen die staaloppervlak van die restaurant tafel.
"Liewe land, maar julle tweetjies is darem warm om die kraag," sê die kelnerin terwyl sy ʼn lang glas water van haar skinkbord af na die tafel verplaas. "Julle moet afkoel menere, netnou doen een van julle iets onverskillig."
"Poplap, vat jou voorskootjie en trap hier weg asseblief. Gaan terug na jou kombuis toe voor ek iets onverskillig doen," grom Johan en bal sy vuis op die tafel voor hy hom weer na die man oorkant hom rig. "Wat wil jy hê? Kom tog tot ʼn punt asseblief, ek raak nou regtig moeg vir jou gesig hier voor my." Die man lag droog en sluk dan hoorbaar.
"Jy ken my nie meneer Le Roux. Mens moet altyd mense wie jy nie ken nie met respek behandel, stem u nie saam nie?"
"Ek moet terugkom by die stasie, ek het nog ʼn stapel papierwerk wat vir my wag."
"Goed, meneer Le Roux, goed. Ek sal nie veel meer van u tyd opneem nie. Kom ons praat besigheid." Die man neem die glas water in sy linkerhand op en vat ʼn paar slukke. Johan glimlag en snork sag.
"Jy is nie so slim soos jy voorgee om te wees nie. Daar is een ding wat ek in al die jare van speurwerk geleer het; elke man maak foute, maak nie saak hoe slim hy is nie. Of hoe slim hy dink hy is nie." Die man frons en tel dan weer die glas op. Hy draai die glas in die ronde en blaas dan sy warm asem teen die rand van die glas sodat dit ʼn laag wasem op die gladde oppervlak vorm. Dan sit hy die glas op die tafel neer en druk sy duim teen die wasemlaag.
"Praat jy dalk hiervan; my vingerafdrukke. Jy het my vasgetrek? As jy so slim is soos wat jy dink meneer Le Roux, sal jy weet wat dit beteken," sê die man en skuif die glas tot langs Johan se beker koffie. Johan tel die glas op en kyk na die gladde kol in die wasemring teen die rand van die glas. Daar is geen aanduiding van ʼn vingerafdruk nie, net ʼn duimgrote kol. Hy laat sy hand terugval op die tafel en water spat uit die glas soos dit teen die blad kap.
"Beteken dit wat ek dink dit beteken?" vra Johan, die glimlag nou heeltemal van sy gesig af.
"Dit doen, meneer Le Roux, dit doen. En nou dat jy weet ek is ernstig sal jy asseblief meer respekvol wees teenoor my. Ek is nie sommer ʼn dief wat hier ingeloop het met ʼn speelgoedgeweer nie. Kyk asseblief weer na die laaste foto in die koevert, jy het dit gemis."
Johan haal die foto's weer uit die koevert uit en bring die onderste foto na bo.
"Ek het hom nog nooit gesien nie, wie is hy?"
"Sy naam is agterop die foto. Hy is nog onervare met speurwerk, nog maar ʼn jaar in die polisiediens. Binne een jaar is hy van konstabel na sersant verhoog en ek wil hê dat jy hom moet oplei as speurder. Hy sal jou regterhand wees en jy sy mentor, so eenvoudig soos dit." Johan druk die foto's terug in die koevert en sit terug in sy stoel, met sy arms gevou.
"So dit gaan alles oor bedrog? Wat is hy van jou, jou seun?"
"Hy is niks van my nie. Kom ons sê maar net ek het ʼn belangstelling in sy loopbaan, meneer Le Roux, hy is ʼn belegging as u wil."
"As iemand moet uitvind kan hy tronkstraf kry, sy hele loopbaan, my hele loopbaan sal vernietig wees."
"Moenie bekommerd wees nie, meneer Le Roux. Die enigste twee mense wat weet sit hier by die tafel en ek belowe ek sal tjoepstil bly."
"Ek het seker nie ʼn keuse nie," sug Johan en neem ʼn paar slukke koffie.
"Nee, jy het nie."
"Nou maar goed dan, ek sal die bal aan die rol sit."
"Mooi so, meneer Le Roux, ek het geweet ek kan op jou staatmaak."
"Ek weet net nie hoekom dit nodig was om my kinders hierby in te sleep nie."
"Dis maar net ʼn voorsorgmaatreël, meneer Le Roux. Sodat ek kan aanhou om op jou samewerking staat te maak." Die man skuif effe vorentoe in sy stoel en klap sy aktetas se knippe toe. Daarna staan hy op en druk sy regterhand in sy baadjiesak. "Dankie vir die water, meneer Le Roux, ek moet nou ongelukkig gaan. Die geselsie was lekker gewees. Beleefd, ʼn aangename verandering van hoe dinge gewoonlik verloop. Ons moet dit weer doen, gou weer."
"Asseblief nie, as ek jou nooit weer sien nie sal dit wragtag te gou wees."
"Totsiens meneer Le Roux, en onthou; maak nie saak waar jy gaan of wegkruip nie, ek sal jou vind. En dieselfde geld vir jou kinders natuurlik." Die man loop tussen die tafels deur en wuif vir die kelnerin voordat hy op die stoep uitgaan. Johan sluk haastig sy koffie weg wat teen die tyd al kou en onsmaaklik proe. Soos hy die beker na die laaste sluk op die tafel neersit is die kelnerin by met haar voorskoot en ʼn nagemaakte leerboekie waaruit ʼn wit strokie krul.
"Dit sal vyf en dertig rand wees, asseblief meneer, dankie meneer. Hier is jou slip meneer." Johan verstik effens aan die laaste sluk koffie en kyk op na die kelnerin.
"Waar is die bestuurder? Het ek jou nie gevra om die bestuurder te roep nie?" Hy neem die swart boekie wat sy na hom uithou en smyt dit op die tafel.
"U is onoplettend vir ʼn speurder. Ek is nie die blondine wie jou gewoonlik bedien nie. Dit spyt my dat jy nog nie dit besef het nie; my hare is swart en my stem is heelwat laer. Ek gaan nie die bestuurder roep nie."
"Wel, dan gaan ek hom self gaan sien," sê Le Roux en kom half orent, maar dan stamp die kelnerin hom terug in sy stoel.
"Asseblief Le Roux, moenie iets so dom soos dit doen nie, ek weet jy wil nie met hom praat oor die tee nie. Jy wil hom vra om na jou stasie te bel vir ondersteuning. Maar as jy met hom praat gaan ek hom moet dood maak, en ek is regtig nie lus om vandag iemand se keel af te sny nie. Dis te veel skoonmaakwerk en hy is so ʼn gawe man. Toe nou Johan, loop voor hier moeilikheid kom. En dis vyf en dertig rand vir die koffie."
Johan pluk ʼn paar note uit sy beursie en smyt dit op die tafel neer, dan loop hy tussen die stoele deur op dieselfde pad as wat die man vroeër ook geloop het by die deur uit. Hy loop teen die growwe sementtrappe af tot op die sagte seesand. ʼn Kouefront bring mis uit die see en stoot dit oor die branders die land in. Johan val op sy knieë neer teen die golwe sand wat deur die wind gebeitel is. Die koevert val onder sy arm uit en hy tel dit op. Dan sit hy terug op sy agterstewe en haal die foto's uit die koevert. Die eerste foto is van sy huis, vanuit die struike oorkant die pad geneem. Dié laat val hy in die sand. Volgende is daar die foto van die jongman wie hy onder sy vlerk moet neem as leerjonge. Hy lyk onervare. Hy het nog puisies. Skoon nat agter die ore. Ook dié foto laat hy in die sand val. Die laaste foto is een wat deur die skool se fotograaf geneem is by die atletiekdag. Sy seun en dogter het gelyk gekom in die honderd meter naelloop. Sy tweeling, so eenders in alles wat hulle doen, het ook daardie ervaring gedeel. Hy vou sy knieë teen sy bors in en omhels sy bene met die foto steeds in sy regterhand. So perfek lief is hy vir hulle, sy rooikop seuntjie wat nooit nie ʼn seer- of skaafplek aan hom het nie en sy donkerkop dogtertjie wat nou maar eers die wese van vrou wees in ʼn buisie lipstiffie begin ontdek. Die branders breek en spoel die hand van die see op die sand op. Elke golfie blyk nader te kom as die vorige, maar nooit kan die see ver genoeg strek om Johan se pyn te omsluit, dit uit sy hart te steel en in verlore dieptes van die blou massa te versteek nie. Sy pyn is syne en dit het nou maar eers begin voel.
YOU ARE READING
Eenslag
ActionMisdaad is nie toevallig nie. Rowe, inbrake, moorde; niks hiervan is toevallig nie. Bendes en dwelm-netwerke ontstaan nie uit die nut uit nie. Alles is georganiseer en agter alles sit Tiaan; die slinkse baas van 'n onsigbare kriminele organisasie wa...