Hoofstuk 7

119 9 5
                                    

Die weer het bedaar, dit reën aanhoudend nog so effens, maar niks wat ʼn sambreel nie teen kan beskerm nie. Pieter hou voor die restaurant stil. Die plek is so fancy dat hulle selfs iemand in ʼn rooi onderbaadjie aantrek om jou motor vir jou te parkeer. Die mannetjie kom aangedraf na Pieter se kant van die voertuig toe. Pieter draai die ruit af. "Watter kant na die parkeerterrein meneer?" vra hy vir die man wat nou gevaarlik vooroor buig in ʼn poging om elegant te vertoon.
"Meneer, u kan gerus uitklim en u dame inneem vir ʼn wonderlike aand. Ek is hier om u motor vir u te parkeer," sê die man en voer ʼn koddige swaaibeweging met sy arm uit as of hy voor ʼn koning kniel om gekroon te word. Is daar werklik mense wat die stomme vent toelaat om hulle voertuie te parkeer?
"Ekskuus meneer, maar ek sal graag eerder self my motor wil parkeer as jy nie omgee nie."
"Sekerlik meneer," glimlag die man, minder werk vir hom. "U gaan hier voor moet links draai en dan weer links, onder die gebou moet in. Wanneer u geparkeer het, sal u moet uitkyk vir ʼn kleinerige hysbak waarmee u na die restaurant kan opgaan."
"Baie dankie," sê Pieter en ry soos die man hom aangesê het.
À La Montagne is ʼn moderne Franse restaurant teen Bloubergstrand. Deur ʼn reeks glasskuifdeure kyk jy uit oor die strand met die berg daar agter wat lyk asof dit soos Atlantis in die onstuimige see gaan wegsink. Maar dit bly staan en die paartjie neem hulle sitplekke by ʼn vierkantige tafel in. In die hoek van die vertrek brand daar ʼn kaggel heerlik warm. ʼn Jong kelner bring twee spyskaarte en sit dit voor hulle neer nadat hy homself aan hulle voorgestel het. Daarna loop hy weer om vir hulle ʼn kans te gee om op ʼn voorgereg en drank te besluit. "Pieter, hoe kan jy die plek bekostig? Ek dog jy werk vir die polisie?" vra Coco terwyl haar vinger oor die pryse op die spyskaart gly.
"Dit is waar," erken Pieter, "maar ek is nou darem immers die hoofinspekteur."
"Ag ek is so bly vir jou," sê Coco en sit die spyskaart neer. "Baie geluk."
"Dankie."
"Jy moes my gesê het waarheen ons gaan, dan sou ek beter aangetrek het," sê sy skamerig sag.
"Jy lyk asemrowend, jy kon nie beter aangetrek het as dit nie."
"Jy weet maar net nie hoe reg jy is nie, Pieter, ek besit nie eers ʼn rok wat waardig is om hier gedra te word nie."
"Ag kom nou, dis nie waar nie. Jy lyk vir my doodreg. Wat wil jy eet?" Coco kyk weer na die spyskaart en sit dit dan neer.
"Jy gaan vir my lag, maar ek verstaan nie kop of gat wat hier geskryf staan nie. Dis alles in Frans, netnou bestel ek ʼn opgestopte padda of iets."
"Wag, ek het ʼn idee," sê Pieter en haal sy selfoon uit. "As jy nie iets weet nie, Google dit net. Wat van die queue de boeuf, dit is beesstert en dit sê ook hier dit kom saam met ʼn verskeidenheid saggekookte groente." Kos klink net soveel meer banaal in enige ander taal as Frans, dis asof hulle die kos gaar soen en druk met warm liefde. Maar Afrikaanse kos verskil nie te veel van die Franse nie, net in aanbiedding en natuurlik porsiegrootte. Mens moet maar altyd nog skelm ʼn ietsie uit die yskas uit peusel wanneer jy na so ʼn affêre by die huis kom.
"Dit klink reg," sê Coco, "darem beter as paddavleis." Pieter lag en wink vir die kelner om nader te kom.
"Wat kan ek vir u kry meneer?" vra hy met sy notaboekie en pen uit.
"Bring asseblief vir ons twee porsies van die kiwi de boef, uhm, die beesstert."
"Regso meneer, twee queue de boeuf," vryf hy dit in. "En wat sal u drink vanaand?"
"Coco, waarvoor is jy lus?"
"Mmm, kan ek asseblief van die Pinotage kry?" vra Coco.
"ʼn Pinotaas vir die dame asseblief meneer."
"Een Pinotage," herhaal die kelner tergend. "En wat vir u, meneer?"
"Watter biere het julle?"
"Ons hou nie bier aan nie meneer," sê die kelner asof bier ʼn ongewensde dierspesie is.
"Nou maar bring dan maar vir my ook een van daai Pinotaase asseblief."
"Regso, meneer, ek bring nou vir u."
Wanneer die man weg is leun Pieter effe vorentoe en vra sag vir Coco: "Wat is Pinotaas?"
Coco moet haar lag met haar handpalm keer om te ontsnap en uit te bars. "Dis ʼn droë rooiwyn, Pieter. Hoe bestel jy dit as jy nie weet wat dit is nie."
"O gats," sê Pieter. "Lyk my ek is nou die een met die gestopte paddavleis." Weer moet Coco haarself keer om nie hardop te lag nie.
"Drink jy ooit rooiwyn?" vra sy.
"Ek weet nie, ons sal nou-nou sien."
"Baie dankie vir vanaand, dit is so spesiaal," sê Coco en neem sy hand in hare. "Jy is so snaaks."
"Nee, dis niks. Baie dankie vir jou wat met my opgeskeep sit wat nie eens weet wat Pinotage is nie." Die kelner kom terug met ʼn bottel wyn in die hand en ʼn klein wynglasie. Hy hou die bottel vir Pieter uit om te kyk of dit reg is. Pieter weet nie wat om te sê nie en knik net sy kop. Dan trek die kelner die bottel se kurk met een haal uit en skink ʼn klein bietjie in die glas. Wanneer Pieter dit aarselend by hom neem, skud die kelner sy kop en sug.
"Dis om te proe of die bottel reg is," sê hy ongeërg. Pieter lig die glasie op en sluk die inhoud met een slag af. Hy kon nooit verstaan hoe vloeistof droog kan wees nie, maar dit voel of sy slukpyp op ʼn plooi trek so droog is die wyn. Maar wat sal hy nou weet of die bottel reg is of nie, vir al wat hy weet is dit hoe mense dit drink. Pieter knik maar net weer sy kop, waarna die kelner twee glase uit sy voorskoot voortbring en elke glas vol skink.
"U ete sal oor ʼn paar minute reg wees. Enige iets anders vat ek vir u kan kry?"
"Nee dankie, ons is reg vir nou," antwoord Pieter met ʼn effe hees stem.
"Jy het nie gejok toe jy gesê het die wyn is droog nie," sê hy vir Coco toe die kelner weg is. Sy lig haar glas op en spoel die wyn ʼn keer of wat in die glas rond om die aroma vry te stel.
"Dit ryk heerlik," sê sy en vat ʼn sluk.
"Vir my ruik dit weer net soos suur druiwe."
"Ag kom nou, dit proe heerlik. Vat weer ʼn sluk en dan hou jy dit eers vir ʼn oomblik in jou mond voor jy dit insluk. Rol dit oor jou tong, kielie jou smaakkliere daarmee."
"Wie is jy mevrou Coco? Eweskielik ʼn gesofistikeerde wynkenner."
"Nee, glad nie. Ek bly maar nie net in die Kaap nie, ek ken dit ook."
"Goed dan, daar het jy my nou. Ek sal nog ʼn sluk vat." Hy neem ʼn sluk van die donkerrooi vloeistof in sy mond in en rol dit oor sy tong soos wat Coco voorgestel het en sluk. "My tong voel soos een van daai rosyntjies wat opgeswel het in gemmerbier. Piekel die mense nie goeters met hierdie wyn nie?"
"Soos dit my klink is jou tong nou lekker gepiekel," lag Coco. Kort daarna bring die kelner twee borde met kos. Daar is ʼn klein, heel wortel met twee ronde aartappeltjies en ʼn paar wiggies botterskorsie Bo op die groentebed lê ʼn ronde stukkie vleis om ʼn beentjie gekrul, halfversmoor in ʼn donkerige spatselsousie. Soos dit vir hom lyk is daar meer eetgerei weerskante van sy bord as wat daar kos bo-op is, hy wonder of hier dalk ʼn McDonald's of ʼn KFC naby is waar hy na die tyd kan stop.
"Geniet dit, dame, meneer. Ek is seker dit sal vir u palet ʼn fantastiese ervaring wees," sê die kelner voor hy omdraai en wegloop. Hy weet nie van Coco nie, maar daai wyn het sy palet morsdoodgemaak. Al fantastiese ervaring wat Pieter vir homself insien is hoe honger hy gaan wees nadat hy klaar geëet het.
Dit is ook nie lank nie en hulle maaltyd is klaar. Pieter skuif sy bord na regs waar die kelner dit kan kom optel. "So, hoe voel jy oor poeding?" vra hy vir Coco.
"Ag die kos was so lekker gewees, die beste wat ek nog ooit gehad het en die wyn, oeg die wyn was voortreflik lekker. Ek dink nie ek gaan poeding vat nie, die gereg was baie vullend gewees, dankie."
"Geen poeding nie?" Hier is nog so ʼn hol kol op sy maag wat bietjie roomys nou lekker sou kon volloop. Maar ag, darem het Coco dit geniet. Dit is tog die belangrikste doel gewees van die aand, nie om vol te kom nie.
"Wat van ʼn lekker stappie langs die strand, die ligte wat op die water weerkaats is so romanties," sê Coco en vee haar lippe sag af met die wit servet.
"Man, dit klink mos nou na ʼn plan," glimlag Pieter. Hy haal sy beursie uit en wink die kelner nader. "Rekening asseblief," vra hy, "en ʼn kaartmasjien ook asseblief."
"Sekerlik meneer."
"Is jy seker jy is warm genoeg vir die stappie? Die wind is maar koud," vra Pieter.
"Ek is warm genoeg dankie, ek sien baie uit daarna om my tone in die sand te voel krul." Die kelner kom met die masjien en Pieter druk sy kaart in. Ten minste weet hy sy kaart sal nie nou meer kreun onder die knoppies nie. ʼn Hoofinspekteur word goed betaal. Tog, hy hoop Coco besef dat hulle volgende ete saam, steak en tjips gaan wees. Hy help haar uit haar stoel uit op en skuif dit dan terug onder die tafel in. Hulle groet die kelner en loop deur die agterdeur op die stoep uit. Selfs hier in die koue wind sit mense en eet.
"Ag Pieter, kyk hoe mooi skyn die maan op die water," sê Coco en gryp hom om die arm.
"Dis regtig merkwaardig hoe vinnig die weer kalmeer het, nè. Net ʼn paar uur terug het die strate wit gelê van die hael." Hulle stap af teen die trappe na die strand toe. Op die laaste trappie stop Coco en leun met haar regterarm teen Pieter se skouer terwyl sy haar skoene uittrek. "Daarsy, dis mos nou die Coco wat ek ken. Nie daai kielie jou smaakkliere met die wyn nie," lag Pieter en vat haar skoene by haar aan. Dis in die oomblik wat hy besef dat hy nie soos oom Hanri sal lewe nie. In sy linkerarm stap Coco, saggies met haar kop teen sy bors opgekrul en in sy regterhand hang haar paar skoene. Dit is die gesig waarmee hy aan die slaap sal word, nie met ʼn geweer onder sy kopkussing nie.
"Dis so lekker om saam met jou te loop, Pieter. Ek is bly ons kon bietjie bymekaarkom, ek wou jou so graag beter leer ken. Voel jy ook die vryheid waarmee jou voete deur die sand loop. Wanneer jy trap sak jou tone eers weg in die sand asof dit probeer om jou vas te vang of in te sluk, maar dan as jy jou voet oplig om vorentoe te beweeg gly die sandkorrels magteloos, skadeloos van die brug van jou voet af."
"Daai wyn het lekker afgegaan, het dit nie?" terg Pieter sarkasties.
"Sies, Pieter, ek is ernstig."
"Ek terg maar net Coco," lag Pieter. "Gaan aan asseblief, ek luister."
"Die lewe het my probeer terughou, Pieter, my probeer opsluit in ʼn lewe wat ek nie wou hê nie. Soos die sand het dit stukkies van my afgeskeur en ingesluk, maar ek het ontsnap. Ek het ontsnap en ek is vry. Vry soos die voëls in die lug en die visse in die see. Ek kan swem waar ek wil, vlieg hoe ek wil."
"Ek verstaan wat jy bedoel. El het dit ook moeilik gehad met net ʼn ma om my groot te maak. Geen vaderfiguur om van te leer nie, maar ek het besef watter vryheid dit inhou vir my. Daar is nie ʼn voorbeeld vir my om te na-aap nie, my lewe is oop vorentoe, heeltemal in my eie hande,"
"Kom ons sit bietjie op die muur, asseblief, Pieter. Ek is moeg geloop."
"Goed. Coco. Kry jy koud?" vra Pieter en gaan sit langs Coco op die kniehoogte klipmuurtjie.
"Ek is reg, dankie," sê sy en bly vir ʼn oomblik stil. "Pieter," begin sy dan huiwerig. "Pieter, ek moet gaan, my taak is uitgevoer."
"Jou taak?" vra Pieter deurmekaar.
"Luister Pieter, asseblief. Hier gaan ʼn man met jou kom praat en ek wil hê jy moet mooi luister na alles wat hy te sê het. Moenie dink hy grap nie, moenie hom onderskat nie, hy is doodernstig en hy sal alles doen wat hy sê."
"Ek verstaan nie, Coco, wat gaan aan?"
"Totsiens Piet Skiet," sê sy en drafstap terug in die rigting van die restaurant. Toe Pieter weer omkyk, sit daar ʼn man met donker hare langs hom. Hy het nie eers agtergekom dat daar iemand kom sit het nie. Die man kyk doodsluiters vir Pieter en haal dan iets uit sy baadjiesak. Dit is te donker vir Pieter om presies te sien wat dit is. Dit lyk soos ʼn stuk pyp of iets. Dan hoor hy die kraakgeluid van ʼn hamer wat teruggetrek word. Dis ʼn geweer, besef hy en daardie geluid beteken dat dit oorgehaal is om te skiet.
"Gaan jy my net hier op die strand skiet?" vra Pieter terwyl hy die geweer se loop dophou.
"Ek wil jou nie skiet nie, Pieter," sê die man kalm. "En as jy doen wat ek vra, sal ek jou nie hoef te skiet nie."
"Hoe ken jy my naam?"
"Ag, kom nou, Pieter. Ek weet alles van jou af."
"Ek glo jou nie," sê Pieter en skuif uitdagend nader aan die man.
"Ek weet hoe jou kop werk. Jy is besig om te beplan hoe jy my gaan oorrompel. Pieter, ek sal jou nie aanraai om dit te doen nie, ek is nie bang om te skiet as ek moet nie. Jy het al gesien wat ek kan doen, Pieter. Ek skiet nie mis nie."
"Leroux en my ma?"
"Onder andere, ja."
"So dis jy! Jy is siek, die manier hoe jy. Hoe jy hulle skiet, dis siek, barbaars."
"ʼn Kopskoot lyk erg, maar Pieter, so ly hulle nie."
"Asof jy omgee oor hulle lyding. Hoeveel is hulle? Hoeveel het jy al vermoor?"
"Dit maak nie saak nie, Pieter."
"Dit maak saak, jy het een-en-tagtig mense vermoor. Een-en-tagtig lewens gesteel en een-en-tagtig families verwoes," skree Pieter.
"Pieter, ek wil hê jy moet kalmeer. As jy weer gaan skree belowe ek jou dat ek jou sal skiet."
"Nee jy sal nie, anders sou jy al en jy sou dan nie daai rooikop hoer gehuur het om my te verlei nie. Jy soek iets." Pieter begin stadiger asem haal, sy stem is vol haat. "Wat soek jy?"
"Ek wil net hê dat jy vir my sal luister."
"Wat soek jy?" vra Pieter weer, koel.
"Onthou jy daardie man wat julle teen die Olifants gevind het?" Pieter antwoord nie. "Sy naam was Hunter Neethling, het jy al gehoor van hom?" Weer antwoord Pieter nie, hy sit en kyk stip in die man se oë, die linkerhoek van sy bolip spring van die haat wat in hom borrel. "Natuurlik ken jy hom nie. Nie eers die polisie het al van hom gehoor nie. Hy was die stigter van die grootste kriminele besigheid in die Kaap. Jy ken die bendes, jy weet wat hulle doen. Die Americans met die "In God we trust" tatoeëermerk op hulle bors, die Hard Livings, die Sexy Boys. Jy dink hulle is erg. Hulle is teddiebeertjies teen wat eintlik in die Kaap aangaan. Daar is mense wat in die nag uitkom en in skadu's beweeg. Hulle het nie name nie, hulle behoort nie aan ʼn gang met ʼn home base waar slonse hulle skote vuil sit en coke hulle brains vreet nie. Die mense dien net een man, hy is die enigste rede vir hulle bestaan. En sy naam was Hunter Neethling."
"Jy verwag nie werklik ek moet hierdie mooi uitgedinkde storietjie van jou glo nie, doen jy?"
"Dis nie ʼn storie nie, Pieter, dis die waarheid."
"Die polisie mag dalk lank vat om te reageer op huisbrake, maar ons is nie dom nie. Ons sou weet as daar so ʼn groep in die Kaap geopereer het."
"Jy sou nie, die mense laat hulle nie vang nie. Hulle roof nie inkopiesentrums of skiet mekaar in die strate vrek nie. Waar dink jy kry die Americans hulle drugs? Waar dink jy kry die Sexy Boys hulle guns? En sê my bietjie hoe dit is dat inkopiesentrums helder oor dag beroof word, maar Casino's bly onaangeraak?"
"Ons het mense in die bendes, ons sou weet as dit wat jy sê waar waas."
"Julle het mense in die gangs? Jy dink hulle is loyal? Moenie dat ek lag nie, Pieter. In die Americans is daar drie versteekte polisielede, Snyders, April en Dirks. ʼn Rolletjie note en ʼn sakkie coke elk en hulle sing net wat jy hulle vra."
"Hoe weet jy dit?"
"Ek was Neethling se second in command." Pieter kyk voor kom uit oor die see, praat die man die waarheid? Kan daar werklik so ʼn kriminele besigheid wees wat nie eers die polisie van weet nie?
"Wat het dit met my te doen?" vra Pieter. "Is dit ʼn skuld belydenis? Dit gaan jou nie ʼn ligter vonnis verseker as dit is wat jy dink nie."
"Jy weet regtig nie wie ek is nie, nè, Pieter?"
"Ek gee nie om wie jy is nie."
"ʼn Man se naam is belangrik."
"En joune is nie vir my belangrik nie," sê Pieter ongeërg.
"My naam is Tiaan, Tiaan Naudé. Ek is jou pa, Pieter."
"Ek het nie ʼn pa nie, hy het my en my ma gelos toe ek ʼn baba was," keer Pieter.
"Ek is jammer, Pieter, ek het elke dag van my lewe spyt dat ek dit gedoen het. En ek weet ek sal dit nog vir die res van my lewe berou."
"Jy is nie my pa nie, ek het nie ʼn pa nie."
"Ek is jou pa en jy is my seun. Jy het my pa se name geërf; Pieter Gerhardus Naudé." Pieter sit vir ʼn oomblik en dink sonder om iets te sê. Die man is mal, hoe kan hy sy pa wees? Hy het nog altyd gewonder of hy ooit sy pa sal sien en wat hy vir hom sou sê as hy sou. Dat sy pa in die middel van ʼn verlate strand langs hom sou kom sit met ʼn geweer in sy hande, sou hy nooit kon dink nie. Die man lieg, hy kan nie sy pa wees nie. Maar wat as hy is?
"Jy het my ma geskiet," sê Pieter sag. "Hoekom?"
"Sy het jou nooit vertel van my nie het sy?"
"Nee, nie eers al het ek haar uitgevra nie."
"Ek het haar gaan sien die dag met haar dood om haar van my planne te vertel. Ek wou die gesin weer saambring, dinge regmaak met haar en met jou. Ek het haar van my plan vertel, ek het gedog sy sal dit kan hanteer. Maar sy kon nie, sy wou jou sê. Sy wou jou alles vertel en ek kon dit nie toelaat nie, dit sou maak dat my plan nie werk nie. Sy wou jou vertel wie ek is en wat ek doen en ek het geweet as sy dit toe sou doen, sou jy nooit vir my ʼn kans gee nie."
"Jy het my ma geskiet," herhaal Pieter stadig. "Jy het my ma geskiet. Hoe kon jy?" skree Pieter. Hy wil opstaan, maar Tiaan druk die pistool teen sy bors.
"Sit," sê hy en beduie met die geweer na die rotsmuurtjie. "Daai was sopas jou laaste kans gewees, as jy weer skree, skiet ek jou."
"Hoekom skiet jy my nie net nie? Jy het klaar vir my ma vermoor en my baas, Leroux. Jy het hom ook geskiet en nou is sy vrou en kindertjies alleen in die wêreld."
"Leroux was ʼn lafaard, Pieter, hy het nie gemaak soos wat ek gesê het nie."
"Wat was sy rol dan in alles, hy het nie ook vir jou gewerk nie, het hy?"
"Nee, ons het net ʼn ooreenkoms gehad. Hy moes jou in diens neem as junior speurder en oplei onder sy bekwame hande, maar toe besluit hy om af te tree voor jy genoeg ondervinding gehad het om sy plek te neem."
"So ek het nie op eie meriete daardie werk gekry nie?"
"Nee, ek het sy familie as sekuriteit gebruik dat hy sou doen wat ek vra."
"Tog het ek die hoofspeurder posisie gekry ten spyte van my beperkte hoeveelheid ervaring."
"Jy het, Pieter, en my kontakte in die speurafdeling sê jy doen goed sover."
"Jy het my nog nie gesê hoekom ek hier is nie."
"Sien jy dit nie, Pieter? Ek het dit alles vir jou gedoen!"
"Wat?"
"Ek het van Neethling ontslae geraak sodat ek die nommer een kan wees en jou as my nommer twee kan oplei om eendag die besigheid by my oor te neem. Dit is ons kans om ons verhouding weer te herstel, om saam te werk en vir jou om my nalatenskap voort te sit."
"Jy is mal, ek sal dit nooit doen nie," protesteer Pieter en staan op om te loop.
"Jy het nie ʼn keuse nie, Pieter. Of jy doen dit en bly lewe, of jy doen dit nie en sterf. Jy weet te veel van my en die besigheid om jou sommer net te laat loop." Pieter sak op die muurtjie neer. Hy het geen keuse nie, want wat is ʼn keuse tussen die lewe en die dood, wie sal kies om te sterf? Hy weet dat die man hom sal skiet as hy nee sê. As hy maar net sy vuurwapen saamgebring het!
"Wat sê jy my seun, is jy in?"
"Jy weet jy laat my geen keuse nie. Ek wil lewe."
"Daarsy, dis mos nou hoe ʼn man moet praat."
"Daar is net een voorwaarde as ons gaan oor die weg kom."
"Ek luister?"
"Jy noem my nie seun nie en jy is nie my pa nie. Jy het daardie reg weggegooi soos jy my en ma weggegooi het." Ek doen dit net omdat ek geen ander keuse het nie."
"Ek verstaan. Tog hoop ek dat ons nou aan ons verhouding kan werk sodat die wonde eendag sal genees."
"Ek sal nie so hoop as ek jy is nie," sê Pieter koel en staan op. "Wat nou? Jy is mos nou my kaptein, my koning, wat kan ek vir jou doen?"
"Kom nou, Pieter, dis nie nodig om sarkasties te wees nie," sê Tiaan en staan ook op. "Waar is jou motor? Ek wil jou my kantoor gaan wys."
"Dis langs die restaurant. Ek dog jy sê jy het geen 'home base' nie?" Tiaan begin aanstap, hy steek die geweer in sy buitenste baadjiesak, maar haal nie sy hand uit nie.
"Dit is nie regtig ʼn base nie, dis meer net ʼn kelder met ʼn paar rekenaars in."
"Ek kan nie wag nie," snork Pieter en skop ʼn hopie sand in die wind.
By die motor, beveel Tiaan dat Pieter moet bestuur. Sy hand is steeds saam met die pistool in sy baadjiesak. Pieter sluit sy deur oop en klim in. Hy sit sy veiligheidsgordel vas en skakel die motor aan. "Waarheen?" vra hy.
"Ry voor die restaurant verby en draai dan links op die hoofweg in." Die stuurwiel is koud teen sy handpalms wanneer Pieter van greep wissel. Hy voel naar op sy maag, hoe sal hy ooit die man kan pa noem, hoe sal hy hom ooit kan vergewe? Hy vat die aansluiting met die hoofweg en gou begin hy spoed op te tel. Tiaan het steeds nie sy hand uit dy baadjiesak gehaal nie, hy sit doodstil vir Pieter en kyk. "Hoe lank het jy al jou lisensie?" vra hy na ʼn ruk se ongemaklike stilte.
"Al vier jaar, Ma het my gehelp om dit te kry. Ek het met haar ou Taz uitgepasseer."
"So jy kan al redelik goed bestuur?"
"Ek sou so hoop, ja."
"Tel spoed op, jy gaan moet gewoond raak daaraan en om vinnige besluite te neem." Pieter trap die petrolpedaal in en die naald krul om verby honderd, honderd-en-twintig, honderd-en dertig, veertig, vyftig, sestig. Dis die vinnigste wat sy motor kan gaan. Die wiele gly om draaie en die momentum trek die motor teen die teer plat. Die randstene teen die kant van die pad verdwyn en maak plek vir gras en hier en daar ʼn boom. Skielik lui Tiaan se selfoon oor die motor se interne luidsprekers. Pieter skrik en ry amper van die pad af, maar dwing die voertuig net betyds onder beheer, die bande gly oor die teer en Pieter se veiligheidsgordel span styf teen sy bors.
"Moenie vir my sê jy het nie geweet jou kar kan dit doen nie," snork Tiaan soos hy lag.
"Natuurlik het ek geweet," antwoord Pieter terwyl hy bietjie stadiger ry. "Ek het net nie geweet jou selfoon is aan my sisteem gekonnekteer nie."
"As jy ons oor so ʼn klein dingetjie amper verongeluk, wonder ek wat jy gaan doen as die ruite om jou in skerwe geskiet word," sê Tiaan en druk die knoppie op die skakelbord wat die oproep antwoord.
"Generaal?" vra ʼn diep manstem oor die luidspreker.
"Praat maar, Luitenant," sê Tiaan.
"Die deal is gemaak, Generaal. Die kommissaris is vir nog ʼn jaar in ons sak."
"Mooi so, Jantjies, wel gedaan. Het hy ons voorwaardes aanvaar?" vra Tiaan.
"Hy het, Generaal. Ons kan ons uitvoere met sewentien persent verhoog en hy het die nuwe jaarprogram goedgekeur."
"Goed so, Jantjies, sorg dat alles in orde is, ek soek die eerste besending reg om teen Vrydag verskeep te word."
"Reg so, Generaal, dit sal gedoen wees." Dan peep die luidsprekers wanneer Tiaan dooddruk. Vir ʼn oomblik ry hulle in stilte voort. Dan lag Tiaan en draai na Pieter.
"Dis so lekker as jou planne uitwerk, as die groot vet karp daai stukkie mieliepit in sy mond in opraap en die weerhaak in sy kies inslaan," sê hy met ʼn grinnik. "Alreeds so sterk, onkeerbaar, ontembaar, maar steeds groei ons net, en dis alles joune Pieter. Wanneer jy by my oorneem sal jy die belangrikste man in hierdie land wees."
"Julle het die polisiekommissaris in julle sak?" vra Pieter.
"Ja, ons het. Nou kan ons byna 4 ton tik en 6 ton kokaïne aan die res van die wêreld verkoop. En dit word twee-maandeliks verskeep, kan jy jou indink hoeveel tik 4 ton is? Jy moet sien hoe glinster die sakkies pers kristalle as daar so baie van hulle saam is."
"Maar is dit nie dom om so ʼn groot hoeveelheid op een slag te verskeep nie, wat as die polisie tydens ʼn klopjag daarop beslaglê?" vra Pieter.
"Dis jammer dat Le Roux moes gaan, jy moes langer onder sy vlerk gewees het, meer geleer het. As jy geluister het, sou jy gehoor het dat die kommissaris die volgende jaar se klopjagprogram wat ons aan hom voorgelê het goedgekeur het. Ons sê vir die polisie waar en wanneer om die klopjagte uit te voer en dan skets ons vir hulle die mooiste, skoonste misdaadtoneel wat hulle nog ooit gesien het. Die kokaïne wat in beslag geneem word is van lae kwaliteit en word met versiersuiker gemeng. So hou ons die polisie van ons rug af en die besigheid streef voort."
"Maar wat van die mense wat in hegtenis geneem word?" vra Pieter.
"Almal eerste-keer-oortreders wat ons betaal om ʼn minimum hoeveelheid tronkstraf uit te dien, en dan het ons natuurlik ʼn hand in hulle vroegtydige vrylating ook. Geld bestuur alles en wanneer jy geld het is jy die koning en alles ondergeskik aan jou."
"Slim," merk Pieter en tel geleidelik weer spoed op.
"Drugs is maar net die begin van ons inkomste Pieter, geld bring mag, maar mag bring meer mag; dit teel aan soos konyne en kort voor lank kniel die hele nasie voor jou voete. Voor my voete, want ek is die koning en jy is die prins." Die enjin begin kla van die las, maar Pieter lig nie sy voet nie. "Sonder my is die koninkryk nikswerd nie, sonder ʼn koning om op die troon te sit is die troon net maar ʼn leë stoel." Die wyser staan teen 160 gekrul, boomstamme vlieg teen die kant van die pad verby. Met sy linkerhand klik hy skielik die passasierstoel se veiligheidsgordel los. Die swart band skiet terug tot langs die sitplek, dan pluk Pieter met sy regterhand aan die stuur. Die motor pyl op die stam van ʼn lang bloekomboom af, die wiele huil oor die gruis en dan is dit swart.

Sowat ʼn week later word Pieter in ʼn hospitaalbed wakker. Die son skyn warm deur ʼn oop venster links van hom. Hy probeer sy kop draai om rond te kyk, maar kan nie. Hy kan voel daar is iets soos verbande om sy hele gesig gedraai. Net sy oë, neus en mond is oop. Daar loop ʼn deurskynende pyp uit sy mond wat met kleeflint aan sy kake vasgeplak is. Sy bors brand soos vuur wanneer hy inasem, hy moes ʼn rib of twee gebreek het, raai hy. Dan probeer hy sy vingers en tone wikkel. Hy voel sy vingers buig en kan sy tone onder die beddegoed sien beweeg. Dank die Here hy is nie verlam nie. Hy maak sy oë toe en fokus daarop om nie te diep asem te haal nie. Dan hoor hy iets kraak, soos ʼn stoel wanneer iemand opstaan. Hy maak sy oë oop en voor hom staan ʼn jong vrou met ʼn gesig vol sproete en ʼn bos swart hare. Hy snak na sy asem, sy bors steek aan die brand. Hy ken daardie gesig, dis die vrou van die hospitaal, die dag toe sy ma vermoor is. Wat de hel doen sy hier! "Moenie bekommerd wees nie, Pieter, ek gaan jou nie seermaak nie," sê sy en neem sy hand in hare. Hy pluk dit onmiddellik weg. "Dis nie nodig om ongeskik te wees nie, hé boet?" Sy oë rek groot, boet? Dit kan tog nie wees nie! Hy het nie ʼn suster nie. Dalk is dit die narkose wat maak dat hy hallusineer. "O ja, Pieter, ons is boetie en sussie, wel halfbroer en suster, tegnies. Maar ons is familie." Sy glimlag breed en trek die eenkant van haar mond effe saam in ʼn grynslag. "Jy het ons pa vermoor, Pieter. Jy is ʼn held! Ten minste, dis was die koerante sê. "Reeksmoordenaar Bokkeveld toe! Geluk Pieter, jy het gewen." Sy draai om, om te loop, aarsel ʼn oomblik en buig dan oor Pieter. "Voor ek gaan, wil ek iets aan jou bieg. Pa het lankal opgehou skiet, die geweer was net vir effek. Jy weet, Pieter, as jy genoeg mense geskiet het al, kan jy mense met ʼn waterpistool tot jou wil dwing. Ek was sy regterhand, sy tweede in bevel; ek was sy gun! Toe kom jy en hy wil alles net so van my wegvat en voor jou voete gooi met die hoop dat jy hom sal vergewe." Sy bly ʼn oomblik stil en gaan dan kalmer voort. "Ek moet jou bedank, Pieter. Jy het my die nommer een gemaak," sê sy met ʼn grinnik en soen hom dan sag op die wang. Wanneer sy weer regop staan lag sy vir sy uitdrukking. "Jy het nie ʼn idee wie ek is nie, het jy Pietie? Laat ek jou ʼn leidraad gee," sê sy en trek die bos swart hare na agter van haar kop af om ʼn vasgesteekte bos rooi hare te ontbloot.
"Dis Coco," besef Pieter. Sy werk nog heeltyd vir sy pa en sy was sy regterhand!
"Dit voel aardig om dit alles te weet, maar niks te kan sê nie, nè? In elk geval, ek moet gaan, my besigheid wag. Totsiens Piet, Piet Skiet."

EenslagHikayelerin yaşadığı yer. Şimdi keşfedin