Trou is nie perde koop, vra maar vir Pa.
Geen merrie op vendusie nie, sê Ma.
Nie maanskyn en rose, voeg Ouma by
'n Straatlamp met 'n kakiebos gekry?
Net sewe sakke sout vir hierdie pand
Tot twee daarvan een aand in kos beland!
'n Blinkwit steentjie op die regte plek,
Word later meulsteen om manlief se nek!
Die orreliste kielie middel C,
Die bruid marsjeer tot vader haar afgee.
Geen lobola in rekening bemerk,
Vir hierdie pop word lewenslank gewerk!
Die predikant spreek swaar die vonnis uit.
Tot dood jul skei met tralies voor die ruit!
Die klokke beier en confetti spat.
Maar more val die hele troukoek plat.
Vrouens van Venus en mans kom van Mars,
Nou nog die nete op koppe laat bars!
Wys my die man wat 'n vrou kan verstaan,
En ek wys 'n man, deur sy vrou verslaan.
Die liefde was nog al die jare blind.
Twee liefsiek geeste wat mekaar wil vind.
Die werklikheid laat staan hul eind'lik stil,
Vir hulle was die huwelik die 'bril'.

YOU ARE READING
Gedigte
Poetry'n Versameling gedigte oor alledaagse gebeurtenisse in mense se lewens uit 'n ander hoek gesien.