Freya het net twee drome in die lewe gehad: Om te verpleeg en om Ierland te besoek. As 'n weeskind in die kinderhuis op Potchefstroom het sy nooit gedink dat enige van die drome ooit vir haar 'n werklikheid sou word nie, maar hier staan sy vandag en uitkyk oor die strand van die pragtige Ierse kusdorpie, twee maande na haar gradeplegtigheid waartydens sy haar graad in verpleegkunde ontvang het.
Sy dink terug aan die ou tydskrifte wat die barhmartige samaritane altyd vir hulle geskenk het. Al die ander meisies het vuisgeslaan vir die Huisgenoot, maar nie sy nie. Sy het altyd die reistydskrifte uitgesnuffel. Dit was tóé dat sy die eerste keer foto's van Ierland gesien het. Die smaraggroen heuwels, middeleeuse kastele en Keltiese argeologiese gebiede het haar betower. Daar was iets magies aan daardie land en sy het besluit dat, maak nie saak wat nie, sy eendag daarheen sou gaan.
Soms, net soms, met harde werk en baie gebede, word 'n mens se hartsdrome waar. In matriek het sy 'n studiebeurs ontvang om verpleegkunde te swot en na vier jaar se swoeg en sweet het sy haar graad met lof geslaag, sowel as genoeg geld bymekaar geskraap om die groot skuif Ierland toe te maak. Om bloot 'n paar weke in Ierland vakansie te hou was nie genoeg nie, het sy besluit. Nee, sy moes hier kom bly, al was dit dan net vir 'n jaar of twee. In elkgeval was daar niemand in Suid Afrika wat haar sou mis nie. Sy het 'n kans gewaag en haar CV vir 'n paar hospitale gestuur. Sy het aansoek gedoen vir 'n werkspermit en 'n maand gelede het sy gehoor dat sy werk by die hospitaal op die dorp waar sy haar nou bevind, gekry het.
Freya keer na die hede terug toe sy voel hoe swaar druppels reën op haar kop neerplof. Dit voel of die koue wind wat skielik opgekom het, deur haar sny. 'n Uur gelede was dit nog 'n aangename, wolklose dag. In Ierland kan jy vier seisoene in een dag beleef, het die mense haar gewaarsku. Nou weet sy dat hulle nie net nonsens gepraat het nie...
Yskoud en sopnat stap sy 'n ruk later 'n gesellige kroeg met die naam O'Brady's binne. Die plekkie is ruim, maar steeds klein genoeg om gesellig te wees. Die houtmeubels, groen tafeldoeke en die gryskop kroegman met die swaar Ierse aksent, maak dié plek die tipiese Ierse kroeg waarvan sy sovele kere gelees het.
'n Kort rooikop vroutjie met bloedrooi wangetjies kom vinnig nadergestap en neem vir Freya aan die hand. "Jou arme kind!" sê sy met 'n oulike Ierse aksent. "Kom dat ek jou baadjie vat. Ek trek vir jou 'n stoel nader aan die kaggel, dan word jy bietjie warm." Freya voel selfbewus. Sy is nie gewoond dat mense 'n bohaai oor haar maak nie. Sy wil protesteer, maar die middeljarige vroutjie sleep haar omtrent tot in die stoel. "Ek gaan haal vir jou 'n bekertjie sop, hartjie, dan voel jy sommer stukke beter." Die reisgidse het blykbaar ook glad nie oordryf wat die Iere se gasvryheid betref nie. 'n Ruk later kom die vrou terug met 'n kommetjie sop.
"Baie dankie" sê Freya. "Wat skuld ek mevrou vir die sop?" Sy haal haar beursie uit haar rugsak, maar voor sy dit nog kan oopmaak, keer die vrou weer. "O nee, nee, nee dis op die huis, hartjie!" lag sy. "En noem my sommer Eve." Elsjé kyk na die vrou se naamplaatjie. Aoife... Genade, is dít hoe 'n mens haar naam uitspreek! Sy sal regtig bietjie meer moet oplees oor Ierse name. Dit kan haar dalk in die verleentheid bring by haar werk! Aoife maak haarself op 'n stoel langs Freya tuis. "Só van waar in die wêreld is jy, hartjie?" vra sy nuuskierig.
Weereens is Freya ongemaklik. Sy is nie gewoond daaraan dat mense soveel aandag aan haar skenk nie. Sy was nog altyd 'n loner, soos die Engelse sê, en dit was oukei met haar. Sy het haar eie ding gedoen en sy het nie omgegee dat sy geen persoonlike konneksies in die lewe gehad het nie.
Ten spyte van haar ongemak besluit Freya dat dit glad nie skade sal doen om met Aoife te gesels nie. Sy is 'n plaaslike inwoner en dit sal goed wees om verhoudings met die mense te probeer bou. Dit sal immers die meeste van die tyd hulle wees wat sy moet verpleeg.
CZYTASZ
Freya en die Ierse Rock-ster
RomansFreya is 'n weeskind met net twee drome in die lewe: Om Ierland te besoek en om 'n Verpleegkundige te word. Na jare se harde werk word beide haar drome bewaarheid en kry sy werk as 'n verpleegkundige in 'n Ierse hospital. Tydens haar eerste aan...