Vier seisoene kind

161 10 5
                                    

Die son gaan onder oor die see
Bring dan die koue eensaamheid mee

'n Doodsbed staan tussen ses wat rou
By die sieke staan hul getrou
Die sieke se oë diep van verlange
En dan dink hy terug en onthou

Die lewe begin soos enige ander
Niks wat ons doen kan geboorte verander
Maar dan word ons mens, 'n individu
Geen lewe is mos eenders nie

(Lente)

Ons lag, ons speel, huil en troos
Die kinders van kinders, die ouers se kroos
Verstaan nie aldag al hul probleme
Bou intussen sandkastele

Ons word onderrig uit die boek van die lewe
Sleep ons soutsakke sewe maal sewe
Ons wens onsself groot wil die lewe verstaan
Besef nie dis beter om net te laat gaan

Met die tyd ontwikkel hormone
Kom die rebel, puberteit demone
Die lewe is lekker en ons is te slim
Die berg kan maar wag sal later hom klim

(Somer)

Somer na lente, nou grootmens nie kind
Uiteindelik jou voete in lewe gevind
Begin die berg uitklim met woord en met daad
Koester jou drome, hoop dit word waar

Halfpad besef jy dis nie meer 'n spel
'n Sprokie in kleintyd vir jou vertel
Die kaarte gedeel, nie wat jy wil hê
Die blaaie geskryf, nie deur jou gesê

Die see kom en spoel jou sandkasteel weg
Bring dan die twyfel, als is nie meer reg
Waar is jou baken, die ligtoring blind
Nie meer so seker soos jy was as kind

(Herfs)

Ouderdom kom soos 'n dief in die nag
Met die spoed van 'n tier en 'n jakkels se lag
Die spieel teen die muur gooi sy beeld tergend terug
'n Fronsende liggaam, 'n buigende rug

Die lewe speel skaak wat 'n mens nie kan wen
Vra moeilike vrae wat mense nie ken
Horlosie teen muur tik stadig die tyd
Soos oumens wat twyfel, vol van verwyt

Die kaarte gedeel, die stene gegooi
Die lewe eens warm, lokkend en mooi
Draai nou sy rug met 'n finalitiet
En more lyk vaal, alleenheid strek wyd

(Winter)

Skemer kom nader met kloue van dood
Met klamheid en koue met bene vol lood
Die punt is bereik en omdraai is min
Die piek van die berg, maak alles nou sin?

Die see roep my naam met 'n druisende stem
Maar daar draai die haaie, 'n lewende lem
'n Siekte wat ek nie kan noem op die naam
Trek my al dieper neem my saam

My boot het geseil my kans is verby
Het ek my lewe na U wil gelei?
Gebed kom vanself, my redding lê daar
Sal ek tog nou my Here gewaar?

Die lewe se eind kom soos enige ander
Niks wat ons doen kan die dood laat verander
Maar ons sterf as mens, 'n individu
Geen lewe is tog eenders nie

Die geboorte van 'n nuwe kind
'n heildronk word op hom geklink
Die vrou le op die bed en rus
In haar arms die kleinding, onbewus

Die son gaan onder oor die see
Bring dan die koue eensaamheid mee.

Brandende BosWhere stories live. Discover now