> > > 1 < < <

368 10 4
                                    

"Marlie! Tiaan! Kom, ons wil nou ry!"

"Ons kom!" roep ek en my twaalfjarige broer van die boonste vloer af. Ek sit haastig my laaste lagie lipglans aan en bekyk myself in die spieël. Tevrede trek ek vir my refleksie 'n gesig en hardloop by die trappe af.

"Genade, Marlie. Waarheen is jy op pad?"

Ek glimlag in my noppies. "Ek dog ons gaan laat wees! Kom laat ons waai." Opwinding borrel in my. Ek wag al jare lank vir hierdie oomblik om te kom en uiteindelik is dit hier.

Ons spring almal in die kar en Pa trek uit die garage en val in die pad. Tiaan druk dadelik sy oorfone in sy foon in en hou een oor na my toe uit. Ek is so bly dat hy nou uiteindelik besig is om groot te word. Dit voel vir my of ons uiteindelik op dieselfde planeet leef. 'n Planeet van die een-en-twintigste eeu waar tegnologie ter sprake kom. Die beste is natuurlik ook dat ek hom nie meer elke tweede oomblik wil vermoor nie.

Ek kyk uit by die venster terwyl een van my gunstelling liedjies in my ore speel. Wat 'n lieflike dag. Die son sit al hoog en daar is nie 'n wolkie in sig nie. Ek kan sien hoe die windjie buite liggies waai, net om die hitte effens te breek. Die gras is groener en die strate skoner. Dis dalk net ek wat my kop verloor het, want ek meen, ons bly tog in Suid-Afrika. Maar dit is tog, selfs die blomme het meer kleur en almal lyk tien keer vriendeliker as gewoonlik en ry nie soos klomp barbare heen-en-weer in die gejaagdheid van die lewe nie.

My foon vibreer in my sak en ek haal dit uit om die boodskap te lees.

Dis Dylan.

Sy boodskap lees: Hey, is julle al op pad? D

Ek: Sal so oor 30 min daar wees. M

Dylan: Great! Sien nou. D

Great, sien nou? Is dit regtig al wat hy gaan sê? En wat beteken dit nou eintlik?

Mansmense.

Ek rol my oë en probeer weer fokus op die wêreld rondom ons. My gedagtes laat my tog nie toe om dit te doen nie. Hy bly in my kop maal. Hy het nog altyd…

Voor ek weer kon dink parkeer ons voor die baksteen huis met die groen heining. Ek voel hoe my hart in my borskas vinniger begin  klop.

Tiaan gee my 'n simpatieke kyk. Hy is duidelik bewus van wat hier binne-in my aangaan. Hy vat my hand en gee dit 'n drukkie. Ek knik in sy rigting en met 'n laaste in-en-uit-asem klim ons uit.

Oom Schalk kom met 'n groot glimlag op sy lippe nader gestap. Waar is die windjie van vroeër nou? Waar is dit wanneer mens dit nodig het? My wange is vuurwarm en my bene word alhoe lammer soos wat hy nader gestap kom.

"Hi," groet hy toe hy by ons kom. Dadelik skud hy en my pa blad, soos die groot pêlle wat hulle nog al die jare nog is. My ma kry 'n vet soen en 'n stywe druk daarby. Hy stop voor Tiaan en staar van hom na my. "My magtig! Is die dieselfde kinders wat nou die dag nog vir ons grys hare gegee het?"

"Hulle doen nog steeds," lewer Ma haar kommentaar.

"Genade, kinders. Bul, kyk net hoe sterk is jy dan nou." My boetie bloos, maar vat nog steeds sy hand vas, voordat hy laaste na my toe draai. "Marlie-kind... Kyk net in watse dame het jy verander. G'n wonder Dylan-"

"Pa!" My hart stop. Hier kom hy nou, dis hy... Hy stop eers voor my ouers en doen dieselfde soos sy pa. Hy was nog altyd sy pa se seun. "Haai, Tiaan. Ek hoop jy het jou bal saamgebring."

"Natuurlik." Dylan vryf sy hare deurmekaar en dan gaan staan hy langs sy pa. Sy oë boor reg deur myne. Okay aarde, ek's nie meer so opgewonde nie, jy kan my nou maar insluk.

Jare se verwonderingWhere stories live. Discover now