> > > 8 < < <

100 5 1
                                    

Die res van die aand is heerlik. Ek ontmoet 'n groot verskeidenheid van mense van oral. Ek kry ook 'n beter oorsig oor Dylan se mense en sy omgewing. Ek verstaan nou ook beter van sy werksposisie en wat sy rol op die plaas is.

Ek en Albert kom ook goed oor die weg en kan oor enige ding gesels. Hy's daai tipe persoon wat min gepla is oor hoe 'n mens lyk, maar eerder hoe 'n mens optree. Hy is glad nie gepla oor wat mense van hom dink nie en bly konstant neutraal teenoor enige iemand wat hy teëkom. Hy kan ook enige dag met die Meneer Persoonlikheid toekenning wegstap. Mens lag jouself in 'n papie in vir hom en sy sêgoed.

Daniël is nou weer stiller, maar hiper intelligent. Sy redenasies gaan 'n mens se verstand te bowe. Soos die aand verloop ontdooi hy ook meer en ons kry ook 'n gesprek of drie in.

Lyla aan die ander kant sit met haar arms gevou oor haar bors en 'n frons is al heel aand op haar gesig geplak. Sy praat skaars 'n woord en as sy 'n geluid maak dan is dit een of ander opmerking wat sy onder haar asem mompel. Ek wonder wat is die kole op haar vuur.

Dylan gesels hier saam met ons en dan vir oomblikke verdwyn hy na 'n ander groep mense vir geselsies, dan later is hy weer terug, voordat hy weer verdwyn.

Ek verkies dit om in die jonger mense se geselskap te bly. Die ouer mense hier lyk vreeslik intimiderend. Al lyk van hulle of hulle dierbaar kan wees.

Na ete kom daar 'n ouerige tannie na ons tafel toe aangeloop. Haar hare is in 'n netjiese bolla saamgevat en sy het 'n ouerige, maar stylvolle rokkie aan.

"Dogter, ek kon nie help om jou raak te sien nie. Toe ek myself weer kon kry toe staan ek voor jou. Gee jy om as ek sit?" vra sy vir my.

"Natuurlik nie, Mevrou."

"Watse gemevrou is dit die?" vra sy weer voordat sy na Dylan en die res van die tafel toe draai. "Mag ek?"

Dylan beduie na die oop stoel langs my. "Tannie is meer as welkom."

"Dankie, Dylantjie. Ek moet sê ek was verbaas om te sien jy het 'n metgesel gebring, wat nog te sê dat dit sulke pragtige dingetjie is nie."

Ek bloos. "Ek het darem smaak, Tannie Trya."

"Beslis. Nou waar is jou maniere, stel my voor aan die dingetjie."

"'Skies, die is Marlie. Marlie die is Tannie Trya. Sy is die plaasbestuurder se vrou. Hulle woon net om die draai van my af en sy bederf my heeltemal te veel. "

"Ag, hy oordryf. Ek moet so nou en dan seker maak die kind word ordentelik gevoed. As mansmense so alleen bly en gedurig werk dan eet hulle nie soos wat hulle moet nie. Sy energie moet iewers vandaan kom."

"Ek's nie so erg nie. Ek eet ordentelik en ek maak lekker kos," protesteer hy dadelik.

"En dan praat ons nie van die hardkoppigheid nie."

"Ek's nie hardkoppig nie."

"Alle mans is hardkopping," lewer ek ook my kommentaar vir die eerste keer. Dylan kyk my uitdagend aan.

"Jy leer ook nooit om nie alle mans in dieselfde boot te skep nie."

"Ek kan as ek reg is."

"Ja, toe nou julle twee, voordat ek net-nou bloed moet opvee. So wat doen jy vir 'n lewe, kind?"

"Ek's nou eers in matriek, Tannie."

"Mens sou nooit sê nie. Wat's jou planne vir na skool?"

"Ek gaan volgende jaar Kommunikasie bestuur studeer. Of wel dis die plan vir nou, ek wag om te hoor van die keuring."

Jare se verwonderingWhere stories live. Discover now