> > > 7 < < <

119 5 2
                                    

Dis alweer Maandag. Die skool wriemel. Iets is aan die broei. Matriek dogters kekkel soos henne en die seuns staan rond met hulle hande op hulle heupe en bekyk die hele wêreld deur.

Al die matrieks word per afkondiging saal toe geroep. Ons stroom almal gelyktydig by die skoolsaal se deure in. Elkeen neem sy plekkie op die blou stoele in en wag vir die spreker om te begin.

Die spreker is toe ons skoolhoof. Die een wat slegs skaars twee meter bo die grond is. Maar moet hom nie vlak vat nie. Wat sê hulle: klein botteltjie, groot gif!

"Goeie môre, matrieks," grom sy stem oor die luidsprekers.

"Môre, Meneer," groet die matrieks saam as ‘n koor.

"Vanmôre het ons julle saamgeroep omdat dit alweer sulke tyd is. Dis oor die aand waar almal se drome waar word." Almal rondom ons begin gons. "Die aand wanneer die sterre helder is en die aand wat ons as matriekgroep vir oulaas die beste kan maak van twaalf jaar se skoolgaan."

Die matrieks het nou los getrek in 'n opwindende gefluister. "Ek dink julle weet waarvan ek praat, ons matrieks is mos nie dom nie. Matriekafskeid!" Die saal trek los in 'n gejeug.

"Matrieks, dis vir my 'n uiterse voorreg om julle uit te nooi na ons Sprokies-skeid. Sprokies-skeid is die aand waar julle dames oorboord kan gaan met hare en rokke en waar julle manne hulle bestuursvermoëns by die meisies kan afsmeer. Die kaartjies is beskikbaar by Finansies. So ouens ek raai julle aan om so gou as moontlik die dames te begin vra. En dames, ek weet daar is 'n paar van julle wat ook heelwat vra-werk het om te doen. Totsiens, matrieks, julle kan verdaag vir register."

Soos een stroom almal weer by die saal uit. "Ek gaan alleen matriekafskeid toe," kondig Megan dramaties aan toe ons buite kom.

"Nee man, die seuns is mal oor jou en ek is seker daar is 'n paar van jou seunsvriende wat sal belangstel."

"Daar's nie 'n manier wat ek een van hulle gaan vra nie."

"Megan is vir een keer in haar lewe skaam!" roep Kimi uit en ons bars uit van die lag.

"Ek is nie skaam nie! Hulle... Hulle gaan net nie aan my standaarde voldoen nie."

"Ja, reg, Megs. Ek is seker daarvan Tristen voldoen aan jou standaarde en hy sal glad nie omgee nie, inteendeel..." Dis altyd lekker om jou beste vriendin se siel uit te trek.

"Ouens kyk! Sy bloos!" roep Lisa uit. Sy is reg. Megan bloos vir die eerste keer in haar lewe oor 'n ou.

"Awww," trek ons almal uit en Megan swaai haar arms deur die lug en dit laat ons net meer lag.

"Okay, stop dit. Darm weet ons dat Marlie 'n date het."

"Ek? 'n Date? Ag asseblief tog."

"Is. Natuurlik gaan jy vir Dylan vra."

"Wat? Wat laat jou dink ek wil hom vra?"

"Marlie, dit is so duidelik soos daglig. Na die naweek is jy permanent droomverlore en jou wange is pienker as gewoonlik."

"Ek dink ek is besig om siek te word," probeer ek vinnig aan 'n verskoning dink.

"Ag asseblief, ons weet altyd wanneer jy besig is om siek te word," sê Yasmin.

"Hierdie is nie siek nie," dis Charné. "Dit is net pleinweg verliefdheid."

"Julle is simpel, weet julle dit? Julle beter ophou nonsens praat en by julle klasse uitkom, voordat die hoof besluit dat julle matriekafskeid by die huis gaan deurbring." Ek draf klas toe en los die ander net daar.

Hulle ken my te goed, maar ek gaan dit nie nou aan enige iemand erken nie. Ek kort tyd om self eers my kop uit te sorteer voordat ek iemand kan vertrou. Alhoewel ek iemand voorheen daarmee vertrou het en toe word dit terug in my gesig gegooi. Daaroor sal ek dit nou maar eers 'n geheim hou.

Jare se verwonderingWhere stories live. Discover now