Hoofstuk 3

80 2 2
                                    

Saterdagoggend is Alex, Wilhelm en Finn vroeg dorp toe om vir Ayla te vra om hulle hare te sny. Ayla het net Wilhelm se hare klaar gesny op die agterstoep toe stop Itha se bakkie voor die deur. Björn maak die voordeur oop en nooi haar vriendelik binne. "Goeie môre Itha, kom binne. Ayla is op die stoep sy sny gou my broers se hare. Stap gerus deur agterstoep toe." Sy glimlag effens. "Môre Björn, dankie ek maak so." In die agterdeur stop sy toe sy sien hoe Finn sy hemp uittrek en grinnikend na haar kyk. "Môre Ithatjie, het jy dalk geweet ons is hier en kom kyk hoe lyk ons sonder ons hemde?" Ayla kyk op na Itha dan na Finn en slaan hom met die doekie in haar hand. "Stop jou nonsens Finn, Itha het my kom help met 'n rok wat ek maak. Sit dat ek hierdie wol van jou kop kan afskeer. Jy lyk al nes daai mofkopskape op die plaas, geen ordentlike meisie sal na jou kyk as jy so lyk nie." Itha groet Ayla met 'n soen en ontduik Finn se hand wat uitreik na haar. "Môre Ayla, dalk moet jy sy ore ook sommer afskeer hy gebruik dit in elk geval nie." Alex sit doodstil op die stoepmuurtjie en rook, maar hy kyk stip na Itha en vandag tref haar fynheid en mooi gesiggie hom.  Hy onthou skielik hoe sag sy daar in die koöperasie se deur in sy arms was en as hy nie geweet het wat se bitsige tong sy soms het en hoe goed sy met die skape kan werk nie, sou hy gesê het sy is 'n baie cute ou dingetjie. Sy sien Alex sit op die muurtjie en groet hom, maar gaan sit op die oorkant van die stoep in 'n leunstoel. "Môre Alexander." Hy glimlag effens toe hy dink aan die feit dat sy hom agter sy rug Alexander die grote noem en nou so ewe sedig net Alexander. "Môre Birgitha." Ayla begin Finn se hare sny en praat met Itha soos sy werk. "Itha jy kan solank Alex se hare sny, dan is ons vinniger klaar om met die rokke te begin." Itha word benoud, maar weet sy gaan nie hieruit kom nie, want Ayla weet Itha kan goed hare sny. Finn gee Ayla 'n onderlangse vuilkyk, maar Itha sien dit. "Um...e... nou goed, e...ek kry net 'n stoel." Sy wil 'n kombuisstoel gaan haal maar Alex stop haar. "Wag Birgitha, ek gaan te lank wees vir jou as ek op 'n kombuisstoel sit, ek vat hierdie klein ottoman." Hy sit die stoeltjie reg en staan reg voor Itha toe hy sy hemp uittrek. Haar oë rek en sy bloos effens, toe hy reg oorkant Finn op die klein ottoman gaan sit. Goeie genade maar hy het omtrent spiere, sy sal moet konsentreer as sy hom nie wil raak knip nie. Björn kom by die deur uit met nog 'n doekie, skêr en kam. Sy vat die doekie en hang dit om Alex se skouers en knip hom voor vas. Sy staan reg voor hom en kyk af op sy kop. "Um...okay, hoe wil jy dit gesny hê? Alex lig sy kop en kyk haar reg in die oë terwyl hy grinnik. "Verras my, solank dit net kort is asseblief. Ek lyk soos 'n skaap myself, elke keer as ons wil hare sny val iets voor, so vandag moet dit eenvoudig gedoen word." Sy begin sny en kan nie glo sy hare is so sag nie, maar sy sê nie 'n woord nie. Finn is klaar voor Alex en gaan sit dikbek op die muurtjie en luister hoe sy en Alex skaapboerdery praat. Toe sy klaar is staan Alex op en troon behoorlik bo haar uit. Sy kyk vas in sy borskas en haar oë gaan af na sy maagspiere.

Sy sluk skuldig en bloos toe sy opkyk reg in sy geamuseerde oë

Oops! This image does not follow our content guidelines. To continue publishing, please remove it or upload a different image.

Sy sluk skuldig en bloos toe sy opkyk reg in sy geamuseerde oë. "Dankie Birgitha, ek sal onthou ek skuld jou vir die haarsny." Sy bloos steeds, lag effens skaam en kyk weg. "Dis niks, regtig, jy skuld my niks nie." Sy hou haarself besig met die vee van die stoep en sien nie hoe veelbetekend Ayla vir Björn kyk en hy knik nie. Finn is vies en het lus en slaan Alex se harspan in, maar toe Wilhelm uitkom met lemonade en vir Itha 'n glas ingooi sien hy rooi. "Genugtig Wilhelm, probeer jy nou regtig vir Itha beïndruk? Kry grip man en gaan speel, sy is te oud vir jou." Alex wil Finn aanvat maar Itha spring hom voor. "Finn stop jou nonsens, Wilhelm het geen bybedoelings nie. Anders as ander mense wat ek ken is hy bloot vriendelik en bedagsaam." Finn is vies oor sy vir Wilhelm opkom en Wilhelm grinnik baie selfvoldaan tot Alex aan hom stamp en hom 'n kwaai kyk gee. Itha en Ayla beweeg na binne sodat Itha na die probleemrok kan kyk. Die mans op die stoep hoor hoe Itha skielik skater van die lag en Ayla haar beskuldig van onbedagsaamheid. "Skuus Ayla, maar die rok lyk kostelik as hy so skewebek trek by die nek, ek dink ek weet wat jy gedoen het." Sy kyk na die patroon en begin weer lag. "Jy gaan moet lostrek Ayla jy het die nek se facings vir die kraag aangesien en die kraag as facings gebruik." Ayla lag nou ook en por Itha aan om haar masjien te gaan haal in die bakkie. "Gaan kry jou masjien dan kom kyk jy hierdie materiaal, ek haal dit solank uit." Buite by die bakkie is sy besig om die masjien uit te haal toe Alexander haar eenkant toe stoot. "Wag, ek sal hom vir jou dra dan kan jy net jou naaldwerkmandjie vat." Sy arm wat aan hare raak is warm en sy spring amper eenkant toe, maar beteuel haar net betyds. Sy loop om die bakkie en vat haar mandjie aan die anderkant en begin huistoe stap. Alex hou vir haar die deur oop voordat hy agter haar na Ayla se naaldwerkkamer toe stap. "Um...dankie Alexander..." Hy glimlag net en stap uit. Ayla het die materiaal uit op haar snytafel en Itha verkyk haar daaraan. Dis die mooiste swart en wit geblomde materiaal en sy kan al die presiese rok in haar gedagtes sien wat sy daarmee sal maak. "Dis mooi, maar nie my tipe materiaal nie. Dit het my dadelik aan jou laat dink en daar is nog die jaarlikse boerejol van die koöperasie oor 'n maand. 'n Nuwe rok is nie te versmaai nie nê?" Itha lag. "Ja maar net as jy seker is jy wil nie iets anders vir jou daarmee maak nie. Ek sal dit by jou koop natuurlik..." Sy het nog nie klaar gepraat nie toe slaan Ayla haar met die halfklaar rok. "Itha, as ek nie so lief was vir jou nie, het ek jou nou gewurg. Ek gee dit vir jou, niks gekopery nie. Kyk liewers deur die patrone of daar iets is wat jy wil maak, dalk kan jy vandag so halfpad kom. Björn gaan elk geval gou vir Alex gaan help met iets op die plaas en sal eers middagete terug wees. So kom ons spring aan die werk." Sy soek na die patroon wat sy weet Ayla tussen haar goed het. Dan begin hulle werskaf.

Adendorpers boek1 Vrou so na my hartWhere stories live. Discover now