Hoofstuk 8

65 1 1
                                    

Dinge gaan goed op die plaas en Ou Kersdag breek uiteindelik aan. Itha geniet die aand saam met die Zimmermans ongelooflik baie al spot Wilhelm en Finn vreeslik baie met haar en Alex se bloemende romanse. Alex wil hulle al iets aandoen, maar Itha keer. "Los hulle Alex, hulle sien dit pla jou dis hoekom hulle aanhou daarmee. Ek steur my nie aan hulle lawwigheid nie en jy moet ook nie." Alex en Itha staan buite voor haar deur en hy neem haar in sy arms om haar nag te sê. "Ek weet Itha, maar hulle gaan ons geen vrede gee nie. Hulle raak net meer windgat by die dag." Hulle staan lank in mekaar se arms terwyl hy haar soen. Toe hy sy kop lig, en haar laat gaan stoot hy haar die huis binne. "Gaan in Itha, jy is 'n vreeslike versoeking vir my." Sy lag net en glip na binne voor sy die deur opknip stoot. Sy kan nie wag vir more se piekniek nie en sukkel om aan die slaap te raak. Sy is egter dou voor dag op en help Vytjie om die twee piekniekmandjies te pak en gemmerbier in bottels te gooi. Voor sy egter haar bakkie kan pak stop Alex voor die deur. Sy stap uit op die agterstoep net toe hy die trappies oploop. Hy gee haar egter nie kans om 'n woord te sê voor hy haar in sy arms trek en haar ordentlik soen nie. "Mmm...is jy so bly om my te sien vanoggend Alex?" Hy lag saggies hier teen haar mond. "Jy weet ek is bly om jou te sien en sal nie omgee om jou soggens so in ons bed môre te sê nie." Sy bloos en stoot hom weg toe Vytjie agter hulle praat. "A nee a kenirs, julle kan mos g'n so sta en vry hier op die stoep nie. Net-nou sien iemand en dink julle het g'n respekte en skaamte vir julle se selwers nie." Sy lag egter oor altwee ewe rooi is. "Kom vat liewerster die kosgoed en ga gedra vir djulle by daai rivier. Moet nie la ek stories van julle se kenirs hoor nie nê." Hulle laai alles agterop Alex se bakkie voor hy haar inhelp en toe hy langs haar inklim kyk sy vraend na hom. "Ek het nie gedink jy gaan my kom haal nie. Ek sou self gery het hoor." Hy kyk na haar en stop die bakkie net daar by die hek. "As jy gedink het ek gaan jou alleen by die rivier laat aankom maak jy 'n fout. Jy is my meisie of het ek my dit verbeel? Dit beteken ek neem jou na plekke toe as ons in elk geval saam daar gaan wees Itha. Ek is nie skaam om vir die wêreld te wys jy is myne nie, as ek jou hand wil vashou dan gaan ek dit doen. Die dorpenaars fluister en wonder al lank oor ons baie dinge saam doen en in die kerk bymekaar sit. Na vandag behoort almal te weet jy is myne en kan die ander mans maar ophou om met leepoë na jou te loer." Sy kyk verbaas na hom en besef vir die eerstekeer hy is 'n jaloerse en besitlike man. "Ek...um...ek weet ek is jou meisie, maar ek het nooit besef jy is 'n jaloerse en besitlike man nie. Mag ek dus ook voortaan met geen ander man praat nie?" Hy begin lag voor hy haar nader trek en in sy arms neem. "Nee mein liebling, jy kan praat met wie jy wil, ek is nie van lotjie getik nie, maar ja ek sal 'n jaloerse man wees totdat ek jou Pa se toestemming het om 'n ring aan jou vinger te steek. Ek wil nie hê enige jafel moet eers skeef na jou kyk of verbode gedagtes oor jou kry nie. Itha jy besef nie hoe beeldskoon jy is en hoe die ander mans met begeerte na jou kyk as jy op die dorp kom nie. Ek haat dit en ek het die afgelope paar maande gesukkel om nie elkeen van hulle se harspan te gaan induik nie, maar ek het nie die reg gehad tot nou toe nie." Sy sit haar arms om sy nek en soen hom saggies. "Alexander ek het nog nooit opgelet dat enige van die ander mans na my kyk nie, want ek het nog nooit in enige een van hulle belanggestel nie. Ek het nie eers een kêrel op skool gehad nie, want ek het nog altyd net oë vir jou gehad, al het ek dit goed weggesteek. Ek het wel opgelet dat jy my soms peinsend dopgehou het en ek het dit vreemd gevind totdat jy my vertel het hoe jy oor my voel. Ek voel vrede vir die ander mans, ek is lief vir jou Alexander die Grote." Daarmee soen sy hom weer, maar dit is nie net 'n ligte soentjie nie en hulle is uitasem toe hulle, hulle koppe lig. Hy sê niks nie, glimlag net en sluit net die bakkie aan en trek weg. By die rivier is daar al baie motors en bakkies en toe hy Itha uithelp en met haar hand in syne aanstap na waar almal reeds besig is om piekniekkomberse en mandjies neer te sit is dit vir almal so duidelik soos daglig dat Itha aan Alexander Zimmerman behoort. Wilhelm en Finn is dadelik by om die piekniekmandjies en komberse van die bakkie af te haal. Alex het hulle twee vroegoggend reeds afgelaai met al die hout en roosters. Hulle twee het alles reggesit vir die wat wil braai, daar is tot dromme met skoon water en dromme vir die vuilgoed onder die bome. Finn gooi twee groot lappieskomberse oop onder die bome en sit die mandjies in die middel. Alex en Itha loop eers by almal om en groet en keer 'n ruk later onder baie geterg en gelag terug na hulle eie komberse toe waar Finn en Wilhelm lê. "Kom julle twee buffels skuif bietjie op dat ons ook kan sit." Hulle maak plek vir Alex en Itha en Itha skink sommer dadelik vir hulle gemmerbier. Almal kuier oor en weer en dis 'n vrolike gelag en geselsery. Alex stuur later sy twee broers om iets by die huis te gaan haal. Toe hulle terugkeer is dit met 'n paar vaatjies bier, 'n helse klomp skaaptjoppies, wors, vars gebakte brode, botter en konfyt. Die vure brand reeds en daar word vir almal gebraai al het hulle hulle eie piekniekmandjies gebring. Dit is die Zimmermans se manier van dankie sê aan die gemeenskap vir al die hulp wat almal gegee het toe Itha ontvoer is. Alex word lekker gespot toe sy vriend Heinz so ewe aanbied om sy stukke bymekaar te maak as Itha se Pa terug is van Duitsland af en uitvind hy maak ogies vir sy enigste ou ooilammetjie. Alex lag egter net. Laatmiddag pak almal op en vertrek huise toe. Alex en Itha gaan laai vir Finn en Wilhelm by die huis af voordat Alex vir Itha huistoe vat en baie duidelik vir haar wys hoe hy oor haar voel toe hy haar in sy arms neem. Die week voor NuweJaar sleep traag verby, en ongelukkig laat 'n skaapboerdery niemand met rus nie. Alex maak egter elke aand 'n draai by Itha, maar Vytjie laat hulle net op die stoep kuier. Sy hou 'n kwaai oog op die kuiery, want sy sê sy wil geen stories oor hulle hoor nie. Alex en Itha lag net en laat hulle dit maar welgeval, Vytjie bedoel dit goed. Woensdag ontvang sy 'n brief toe sy dorp toe gaan vir voer en 'n paar ander goed.

Adendorpers boek1 Vrou so na my hartحيث تعيش القصص. اكتشف الآن