Teen die einde van die week staan die skuur. Daar kort nog 'n paar planke op die sykante maar dit behoort teen Saterdagmiddag klaar te wees. Itha ry vroeg Saterdagoggend dorp toe om nog 'n laaste paar spykers en planke te kry. Sy stop voor die Koöperasie, klim uit en voordat sy kan instap kom Gunther van die Hotel af aangestap en roep na haar. "Itha...Itha...sjoe jy is 'n moeilike vrou om by uit te kom. Wag net 'n oomblik asseblief." Sy is lus en hou net aan met loop, maar sy weet, hy weet sy moes hom gehoor het. Sy wag hom in en sy aangeplakte glimlag gee haar die piep. "Môre Gunther, ek is besig op die plaas, ek het nie tyd vir rondkuier nie." Hy kom voor haar tot stilstand. "Ek weet jy's besig op die plaas Itha, maar ek hoor jou Ouers is oppad terug en dat jou Pa dan weer self sal kan boer. Dink jy nie dis tyd dat jy dan ook tot trou kom nie?" Itha vererg haar dadelik en haar oë blits. "Gunther, ek is nog lank nie op die rak nie. Los jy my ongetroude status dus maar doodstil uit baie dankie." Gunther lag. "Ek sê nie jy sit op die rak nie my skat. Wat ek eintlik wil weet is of jy nie saam met my by die hotel wil gaan eet vanaand nie? Dat ons mekaar bietjie beter kan leer ken. Ek dink nogal ek en jy sal 'n baie mooi paartjie saam maak. Jy met jou donker hare en ek met my ligte hare." Itha is nou klaar vies en nie lus vir Gunther se stories nie. "Gunther ek het jou al van te vore gesê ek stel nie belang nie. Ek is nie jou skat nie en ook nie van plan om met jou uit te gaan of te trou nie, kry dit asseblief in jou kop. Spits jou aandag toe op iemand anders. Verskoon my asseblief ek is haastig." Gunther bly bek-af staan en sien nie vir Alta waar sy langs die Koöperasie bly staan het toe sy hulle hoor praat het nie totdat Alta vorentoe tree en langs hom kom staan. "Ek dink ek en jy het 'n gemeenskaplike probleempie Gunther en ons kan mekaar dalk help..." Sy haak by hom in en saam-saam stap hulle weg om die hoek van die haberdashery. Itha ry om na die Koöperasie om die hout te laai, klim uit en gaan staan in die koelte van die Koöperasie teen die muur. Dis nog vroeg maar reeds vreeslik warm en dit gaan bloedig word teen middagete. Sy hoop hulle kry klaar voor ete, die werkers verdien 'n vroeë middag by die huis. Oppad terug huistoe net buite die dorp sien sy vir Gunther staan by sy motor met die kap oop. Ai tog nou moet sy nog by hom stop ook, sy kan nie net verby ry nie. Dit sal baie ongeskik wees. Sy stop agter sy motor en klim uit. "Motor probleme Gunther?" Hy kom regop en maak die kap toe. Sy glimlag is duiwels. "Aaahh...die goeie Samiritaan. Ek het geweet jy sal by my stop. Jou gewete sal jou nie laat verbyry nie. Net 'n paar nagte saam met my en jy sal maar te graag met my trou, want niemand sal jou daarna wil hê as jy saam met 'n man alleen was vir 'n week of twee nie. En glo my die storie van my en jou hardloop klaar die dorp vol." Die volgende oomblik gryp hy haar en probeer haar by sy motor inbondel. Sy skop hom op sy maermerrie en trek sy hare amper uit sy kop uit, maar hy gryp haar kop en stamp hom hart teen die stuurwiel. Sy verloor haar greep op sy hare en sien hoe alles om haar donker word terwyl sy Gunther se honende lag hoor.
Alex, Finn en Wilhelm begin solank met die werkers se hulp die paar planke wat wel daar is vasslaan. Dit raak naderhand laat maar daar is geen teken van Itha nie. Alex besluit om dorp toe te ry en te kyk wat is die oponthoud. Net voor die dorp sien hy haar bakkie staan. Hy stop, klim uit en sien haar sleutel sit net so in die motor. Hy kyk rond en roep na Itha, maar daar is geen teken van haar nie. Nou raak hy erg bekommerd. Hy sluit haar bakkie en gooi die sleutel in sy sak voor hy haastig dorp toe ry. Hy vra rond maar niemand weet waar Itha is nie. Die mense by die Koöperasie het haar laas gesien toe sy agter uit die werf gery het met die gelaaide hout. Alex stap polisie toe, maar voor hy daar kom keer Alta hom voor. "Ek hoor jy soek so naarstigtelik na Itha. Ek dink jy moet maar moed opgee. Sy is al giggelende hier weg saam met Gunther hotel toe en 'n uur later is hulle hier weg met haar bakkie en sy motor kort agter mekaar." Alex kan dit nie glo nie, hy weet Itha sal nie die skuur net so los vir 'n lekkertyd saam met Gunther nie. "Alta as jy weet waar sy is beter jy praat, want ek gaan nou polisie toe. Ek ken vir Itha sy is besig om skuur te bou, sy sal dit nie net so los en agter 'n man aanflenter nie." Sy lag lelik. "Siestog dink net aan jou teleurstelling wanneer jy agterkom wat se tipe vrou sy werklik is. Onthou ek is hier vir jou as jy my nodig het wanneer jou oë eendag oopgaan Alex." Sy draai om en slenter al heupswaaiend weg oor die straat. Alex draai om en gaan die polisiestasie binne. Hy verduidelik die probleem aan sy vriend Heinz Műller. "Ja Alex, dit klink nie vir my soos Itha nie. Hier's iets fout ou maat. Ek gaan gou 'n konstabel of twee na Gunther se huis toe stuur. Gaan jy huistoe, ek sal uitkom sodra ek nuus het. Bly jy net weg by Gunther se huis." Alex lyk nie lus om te luister nie, maar hy knik en verlaat die polisiestasie. Hy maak 'n draai by Ayla en Björn om hulle in te lig oor Itha en Ayla is dit dadelik eens dat Itha baie beslis nie vrywillig saam met Gunther gegaan het en boonop haar bakkie langs die pad sou gelos het nie. Alex gaan haal vir Finn om Itha se bakkie plaas toe te vat en hulle maak die skuur vir haar klaar terwyl hulle vir Heinz wag. Laatmiddag kom Heinz op die plaas aan en lyk maar bedruk toe hy uitklim. Die werkers saam met Jacob en Vytjie kom ook nader en toe Heinz hulle inlig dat Itha spoorloos verdwyn het, is Vytjie in trane. Hulle bied aan om saam met die res van die dorp en polisie 'n soektog te loods en dis nie lank nie toe is die bakkies gelaai en almal sluit by die soekgeselskap net buite die dorp aan waar Alex haar bakkie gekry het. Vandaar af gaan hulle in spanne uit en soek met fakkels die wêreld vol. Daar is egter geen spoor van Itha of Gunther nie. Volgens die hoteleienaar het Gunther vertrek op 'n tweeweke vakansie. Sy huis is ook alles toe en gesluit en sy buurvrou bevestig sy vakansieplanne. Hy het ook by haar geskimp dat hy en sy meisie gaan wegloop om te gaan trou oor haar ouers hom nie goedkeur nie. Sy weet egter nie hoe waar dit is nie. Alex is nou rasend van bekommernis en Heinz begin meer inligting rondom Gunther en sy gewoontes insamel terwyl Alex en Finn die werkers huise toe neem. Hulle sluit Itha se bakkie toe en Vytjie maak seker dat die huis toe is voor Alex-hulle ook buurplaas toe vertrek. Alex wil nie eers eet nie, hy sit net op die stoep en staar voor hom uit.
أنت تقرأ
Adendorpers boek1 Vrou so na my hart
عاطفيةItha of te wel Birgitha Ziegler is 'n hardekop en eiewys negentienjarige Duits-Franse meisie. Haar Pa Klaus Ziegler is 'n vooruistrewende skaapboer in die Karoo, maar na sy ongeluk wat hom verlam gelaat het, moet Itha die plaas se leisels op haar ne...