Finn het homself ingeskryf by Rhodes en help Alex nog vir die res van die jaar op die plaas. Hy probeer egter baie hard om Itha uit te los, maar dis moeilik. Hy begin haar en Alex dophou wanneer hy die kans kry. Dit raak 'n gewoonte vir haar om tussen Alex en Ayla in die kerk te sit en Finn sien die kyke wat Alex haar gee. Soms staar hy peinsend na haar, skud sy kop en kyk anderpad. Iets pla sy broer en hy dink hy weet wat dit is. Itha en Alex praat boerdery, lag saam as hulle saam iets snaaks beleef het op 'n saam-saam skaapsoektog, sit saam in die kerk en drink saam met die ander koffie na die tyd. Deesdae ry hulle vir mekaar pos en ander benodigdhede van die dorp af aan en Alex help haar waar hy kan, daar het definitief 'n noue vriendskapsband tussen die twee ontwikkel. Hy sien hoe stamp Ayla baie keer aan Björn en beduie na Alex en Itha, so hy dink nie hy is verkeerd om te sê die twee besef nie eers hoe na aan mekaar hulle geword het nie. Haar Ouers skryf gereeld oor hoe dit gaan en klink of hulle nog maande in Duitsland gaan wees, Itha gaan dus Kersfees alleen wees. Finn begin stadigaan dink sy liewe Ouboet verstaan nie wat besig is om met hom te gebeur nie. Hy kan sweer Alex lyk soms opgewonde as dit lyk of hulle Itha êrens gaan raakloop en Itha...wel...sy is steeds ewe vriendelik met Finn, Wilhelm en Alex. Daar is egter soms 'n veraf kyk en verlange in haar oë. Nou begin hy wonder of sy net haar Ouers mis en of sy dalk ernstig was oor die iemand anders in haar lewe en of sy nie dalk al lank 'n crash op Alex het nie. Finn wag dan ook net tot hulle aan tafel sit voor hy voelers uitsteek. "So...wat doen ons Oukersaand en Kersdag. Het jy al met Ayla-hulle iets gereël Alex?" Alex kyk op van sy bord af en sit sy mes en vurk neer. "Nee, het jy planne vir Kersfees dat jy vra?" Finn lag. "Nee man, ek wonder net." Alex kyk na sy twee broers en dink hoe goor dit is van hulle ouers se dood en dan dink hy skielik aan Itha... "Ek dink ons moet Oukersaand dalk vir Björn en Ayla by ons laat kom eet, dan nooi ons sommer vir Birgitha wat ook alleen gaan wees. Kersdag gaan Ayla-hulle by haar Ouers deurbring en ek wil nie daar opdring nie, daar gaan glo van haar ooms en tantes en niggies en neefs ook wees. Dalk moet ons aan iets anders dink vir onsself vir Kersdag voor Ayla verplig voel om ons saam te vra na haar Ouers toe." Wilhelm kug en kyk na Finn. "Ek weet nie van julle nie, maar ek kan doen met 'n Kerspiekniek langs die rivier. Dis vrek warm en ons kan swem en dalk daardie ou slide bekyk en regmaak vir 'n bietjie pret. Miskien sommer 'n paar dorpsvriende nooi om Kersmiddag saam te kom swem." Finn begin glimlag. "Ek dink jy het 'n bielie van 'n plan Wilhelm. Alex jy gaan ongelukkig die een moet wees om Itha te vra vir Oukersaand en Kersdag, want komende van my mag sy my dalk regtig verongeluk en ons vriendskap heeltemal na die maan wees." Dit laat Wilhelm skaterlag. "Ai ou Finn, het julle nou nog nie vrede gemaak nie. Dit het dan gelyk of julle goed oor die wegkom laasweek." Finn lyk ietwat verleë toe hy antwoord. "Ja ons is ok Wilhelm, maar vra ek, dink sy dit is oor ek haar alleen iewers wil kry. Ek dink nie sy vertrou my enigsins nie." Alexander begin lag. "Nie gedink ek sal die dag beleef dat Finn die ladiesman bang is vir 'n klein ou petit meisietjie nie. Maar dis reg, ek sal haar môre vra. Ek moet haar in elk geval gaan help met die een windpomp."
Die volgende oggend klop Alexander aan Itha se agterdeur. Sy kom en maak die gaasdeur oop. "More Alexander, kom binne. Ek wil net my hoed kry, ek het reeds vir ons middagete en drinkgoed reg. Jy het te perd gekom nê?" Hy haal sy hoed af en kom die kombuis binne. "Môre Birgitha, ja ek het hom by die stalle afgegee. Ons gaan seker met jou bakkie ry met die nuwe parte en gereedskap op." Sy knik druk haar hoed op haar kop en hy kan nie help om te sien hoe die denimbroek oor haar sitvlak span nie. Sy is goed gebou en die harde plaaswerk het haar spiere goed laat ontwikkel. Sy is definitief meer gespierd as enige ander vrou wat hy ken en hy kan nie verstaan hoekom hy skielik oplet na Birgitha se gespierde lyf nie. Wat de duiwel is fout met hom? "Nou laat ons weg wees. Hier vat die sleutel, jy kan maar bestuur." Hy vat die sleutels by Itha en hulle vingers raak skrams aanmekaar. Sy kyk op na hom met groot oë en hy glimlag effens. "Kom die windpomp wag." Hy maak die passasiersdeur vir haar oop en sy laai hulle kos sonder 'n woord in die bakkie in en klim in. Hy stap om en klim agter die stuurwiel in. Hulle begin gesels oor die boerdery en by die windpomp werk hulle vir 'n paar ure om al die verweerde parte af te kry en dan met nuwes te vervang. Net voor middagete draai Alex die windpomp los en nie baie lank daarna nie loop die water in die dam in. Hulle was sommer hulle hande onder die lopende water voordat hulle met hulle kos in die koelte van die bakkie gaan sit. "Jy het nie dalk ander werk gehad om te doen vandag nie Alexander? Ek wil jou nie weghou van jou eie boerdery af nie. Dit sou my dalk bietjie langer geneem het as ek alleen was maar ek sou dit kon doen." Hy sit agteroor met sy rug teen die voorwiel en sy kop teen die modderskerm met sy bene lank voor hom uitgestrek. Hy draai sy kop en kyk na haar terwyl sy besig is om hulle kos uit te pak. "Dink jy vir een oomblik ek sou verkies het om vandag eerder saam met Finn te werk aan die skuur se herstelwerk as om die oggend saam met jou deur te bring Birgitha?" Sy kyk vinnig na hom en staar na sy ernstige gesig. "Ek...um...ek weet nie. Ek wil jou net nie ophou nie dit is al." Alex kyk steeds na haar en sy kyk vinnig weg. Hy vat haar ken en draai haar gesig na hom toe. "As ek jou nie kan help nie, sal ek so sê Birgitha. Moet asseblief nooit twyfel oor my aanbod van hulp nie. Jy hou my glad nie op nie. Daar is niks wat Finn nie self vandag kan doen nie." Sy gee sy toebroodjies en gooi vir hulle melk uit die fles. "Dankie Alexander vir die goeie buurman en vriend wat jy vir my is." Hy kou klaar voor hy antwoord. "Glo my dis vir my 'n plesier om jou te help en dis mos waarvoor bure en vriende daar is. Terwyl ons nou praat van vriende, gaan jy Oukersaand by ons kom eet. Ayla en Björn kom ook. Dan het ons 'n piekniek Kersdag langs die rivier saam met vriende van Wilhelm en Finn, dit sal lekker wees as jy ook kan kom." Sy glimlag en dink nie tweekeer voor sy antwoord nie. "Dit sal lekker wees dankie Alexander, wat bring ek vir Oukersaand vir my bydrae tot die ete? As jy sê niks kom ek eenvoudig net nie." Hy glimlag ingenome, want hy het nie gedink dit sal so maklik wees om haar te oorreed nie. "Ek dink jy moet vir ons daardie lekker koekstruif maak wat jy so paar jaar terug gemaak het toe ons Kersdag by julle deurgebring het. Kersdag braai ons langs die rivier. Ek sal die vleis verskaf, dalk kan Rupert sorg vir die drinkgoed. Ek sal dat Maria vir ons 'n paar brode in die bakoond sit en almal kan maar een of ander slaai of bykos bring." Itha glimlag. "Dit klink lekker, maar ek sal ook vleis gee en Vytjie kan ook 'n paar brode vir ons bak, dan werk Maria haarself nie dood op Kersdag nie. Ek is seker jou broers gaan sorg dat die slide reg is. Dalk moet ek die vier kano's ook saambring." Alex kom na middagete fluit-fluit die huis binne en Maria kyk op van die wasbak af. "Mnr Alex klink vrolik, het my sussie darem vir jou kos gegee hier langsaan?" Alex lag en hang sy hoed op die kapstok. "Nee Maria, Vytjie het nie vir my kos gegee nie. Juffrou Birgitha het vir ons kos gepak en ons het sommer daar by die windpomp geëet na ons klaar gewerk het. Is Wilhelm nog nie hier van die skool af nie?" Sy skud haar kop. "Nee die twee sal seker oor 'n halfuur eers hier wees. Finn het gesê hy moet gou 'n paar goed op die dorp doen voor hulle terugkom." Alex gaan na 'n ruk uit buite toe en gaan aan met sy dagtake, maar as hy hom kan kry, dink hy aan Birgitha. Hy is naderhand vies vir homself, is hy nou al so erg soos Wilhelm en Finn om 'n obsessie oor 'n dekselse vroumens te kry. Hy beter hom regruk. Maar makliker gesê as gedoen. Nag na nag droom hy van Birgitha, snags kan hy nie slaap nie en lê lang rukke wakker. Eintlik is hy bekommerd oor Birgitha so alleen daar op die plaas. Hy sien haar miskien eenmaal in die middel van die week as hy uitry om te gaan hoor of sy hulp nodig het met iets of as sy dalk dorp toe gaan en hier stop om te hoor of sy vir hom iets van die dorp kan saambring anders as net die pos. Sondae sit sy langs hom in die kerk en sy hand jeuk om haar hand te vat en vas te hou, maar hy is bang sy jak hom af voor al die mense. Hy haat dit as Gunther so na haar kyk en na kerk altyd 'n geselsie met haar wil aanknoop. Hy kan nie glo hy van alle mense is jaloers op Birgitha nie. Hy was in sy lewe nog nooit die jaloerse tipe man nie, maar hy het lus en slaan al Gunther se tande uit as hy so teen Birgitha kom staan. Hy kom agter Birgitha probeer altyd wegtree of iemand tussen haar en Gunther hou. Sy maak selfs van Finn gebruik en hy kan sweer Finn lag lekker in sy mou vir Gunther. Die laaste drie Sondae het sy nie kerk toe gekom nie en as hy op die plaas aankom om te hoor hoe gaan dit is sy kastig êrens ver op die plaas besig en Vytjie en Jacob lyk skuldig asof Birgitha hom vermy. Wat Alex nie weet nie is dat Finn en Wilhelm hom en Itha fyn dophou. Finn sien dat Alex homself en hulle twee besete werk bedags en saans is hy so moeg, hy eet en pass uit op sy bed na 'n koue stort. Ayla het ook al gekla hulle sien Alex en Itha amper nooit meer nie, Alex stop nie eers meer by hulle as hy Wilhelm by die skool gaan kry nie. Hy werk net altyd. Wat Alex dink niemand weet nie is dat hy Birgitha probeer vermy want die gedagtes wat hy oor haar het is alles behalwe skoon. Finn is juis nou oppad om vir Wilhelm by die skool te gaan haal, want Alex is êrens op die plaas by een van die buiteposte besig. Hy sien Itha by die Koöperasie staan waar sy wag dat hulle vir haar pale laai. Hy is gelukkig vroeg so hy gaan haar vandag in 'n hoek vaskeer. Itha is self baie vreemd in die laaste tyd. Ayla het net gister gesê Itha vermy tot vir haar en Björn. Sy het nie eers die boerejol bygewoon die jaar nie en Alex het kastig n paar verlore skape gaan soek die middag en aand van die boerejol. Itha het ook nou al drie Sondae nie kerk toe gekom nie. Sy werk haar oor 'n mik op daai plaas en die gerig loop dat haar ouers na 'n afwesigheid van ses maande glo kort na Nuwe Jaar sal terug wees. Haar Pa het twee groot operasies in Duitsland gehad en altwee was baie suksesvol, hy kan weer loop, maar moet nog eers behoorlik aansterk voor hy die krukke kan neersit. Finn wag net tot Itha in die koelte langs die Koöperasie se muur gaan aanleen voor hy naderstap. "Middag Itha, jou lanklaas gesien. Hoekom vermy jy ons Zimmermanns almal?" Sy lyk of sy skrik en nou sien Finn hoe maer sy geword het. Sy vee haar hare uit haar gesig en lag verleë en Finn sien die stukkende plekke op haar hande en arms. "Middag Finn. Ag jy is laf man, ek vermy niemand nie. Ek het net baie om te doen. Ek het vier nuwe kampe gemaak en die draadspan vat baie tyd. Nou moet ek 'n nuwe skuur by bou. Ek het plek nodig vir volgende jaar se skeerdery en blyplek vir die groep trekskeerders. My ou skuur is hopeloos te klein." Hy vat haar arm vas en lig dit op terwyl hy na al die wonde kyk. "Jy verniel jouself lelik nê en dit net omdat jy te trots is om hulp te vra. Deksels Itha jy weet ek, Alex en Wilhelm sal jou enige tyd help en nie vir enige gunsies nie as dit is waarvoor jy bang was. Ek het gedink ons is vriende maar tot Ayla kla jy vermy haar. Jy het baie verskonings gehad om nie die boerejol by te woon nie. Wat gaan met jou aan?" Sy kyk weg en as sy terugkyk blits haar oë. "Dink jy vir een oomblik ek wil hê julle moes sien hoe onhandig is ek dat ek nie eers my eie draad kan span sonder om myself te beseer nie. Ayla sou stuipe gekry het, daarom het ek by julle almal weggebly dat dit eers bietjie gesond kan word. Jy weet hoe gril Ayla vir bloed en oopwonde. Ek het 'n plaas om te bestuur Finn, my lewe bestaan nie net uit rondsit en mooi lyk en partytjies bywoon nie. Ek het 'n verantwoordelikheid teenoor my Ouers en die werkers." Finn kyk verbaas na Itha. "Itha ek besef dit, maar jy is nie alleen nie. En ons sal nooit sê jy is onhandig nie. Hel ons weet daar is nie nog so goeie vroueboer in ons omgewing nie, maar dis onnodig dat jy so alleen sukkel. Elke keer as Alex op die plaas kom kruip jy iewers weg. Alex is self besig om hom in die grond in te werk. Ek weet nie wat is fout met hom nie, maar daar is niks meer oor om te doen op die plaas nie. Daar is nie 'n stukkende ding erens te vinde nie. Selfs daardie negentien-voetsek trekker is reggemaak. Hy beoog nou om die huis te vergroot in die nuwe jaar. Intussen kan jy ons regtig toelaat om jou te help met die nuwe skuur. Ek gaan nou vir Wilhelm oplaai, maar ons drie sal jou vanmiddag of môre oggend kom sien. Sorg dat jy beskikbaar is." Sy gluur na Finn. "Of wat?" Hy kan nie glo sy het so pas 'n houding getrek met hom nie. "Of ek sal Alex persoonlik agter jou aanstuur Itha en jy wil regtig nie vir Alexander die Grote omkrap nie wil jy?" Sy antwoord nie, draai net om en loop bakkie toe. Gmf...wie dink hy is hy nogal om haar met sy Ouboet te dreig. Sal sien waar kry hulle haar vanmiddag. Dekselse Alexander spook al weke by haar en sy het gedink as sy hom vermy en ook die plekke waar hy kom, sal sy vergeet van hom. Sy moet nog dink aan 'n verskoning vir Oukersaand en Kersdag. Sy is skoon verspot, nes 'n bakvissie van veertien met 'n crash op haar held in die eerste rugbyspan. Sy moet haarself in die kerk vermaan om nie teen sy arm in te kruip nie. As sy nie Alta se woorde by die kerk gehoor het nie, het sy dalk nog 'n spektakel van haarself gemaak ook. Gelukkig het hulle nie geweet sy is in die kleedkamer toe hulle voor die deur gestaan en skinder het nie. Sy is net bly sy het gehoor dat Alta en Alexander besluit het om weer te probeer, nou dat sy terug is in die dorp. Hopelik dink niemand iets snaaks daarvan as sy weer begin kerk toe gaan en sy sit nie meer langs Alexander nie. Sy sal by die ander deur instap en langs Wilhelm inskuif, so maklik soos dit. Gelukkig het haar beserings haar vir 'n ruk van die kerk af weggehou. Daardie doringdraad het haar lelik gekarnuffel drie-weke terug. Terug op die plaas laai sy net die pale af en pak haar perd en vat haar geweer. "Vytjie ek gaan 'n draai by die vêr kampe ry ek sal sommer by die von Badens oorslaap vanaand. Ek sal môre terugkom en vir ons 'n springbokkie skiet so op die pad terug. Maak die huis maar vroeg toe en gaan huistoe. Ek dink jou kinders sal dit geniet. Moenie môre oggend vroeg inkom nie. Ek sal die bok sommer self afslag en laat hang tot Maandag, dan kan ons hom opsny." Vytjie knik maar kyk haar klein juffrou Itha met 'n skewe kop agterna. "Is reg Itha-kend, dankie ekke gaan lekker kook vanmiddag vir my se kinders en ou Jacob. Jy moet wakker loop daar by die veld nê. Jy moet jou se oge oophou. " Itha lag net en verdwyn by die kombuisdeur uit. Vytjie wonder wat jaag die kend so. Sy werk haar self in die grond in en mnr. Alexander van langsaan soek vir haar maar sy kruip vir hom weg. Hy lyk ook maar bra bek-af elke keer wat hy voor dooimansdeur aankom. Intussen kom Finn en Wilhelm by die huis aan en Finn keer vir Alex in die studeerkamer vas. "Ek en jy moet praat Alex. Ek is nou hartlik siek vir hierdie nonsens in dié huis." Alex kyk op van die boeke af waarmee hy besig is en sit terug teen die stoel se ruglening terwyl hy sy wenkbroue optrek. "Wat is jou probleem Finn?" Finn plak homself voor die lessenaar neer. "Jy vra my wat is my probleem, die vraag is eerder wat is jou probleem , jy vermy ons almal, jy werk jouself morsdood en tot Ayla kla hulle sien jou nooit meer nie. Daar is niks meer om reg te maak op die plaas nie. Wanneer gaan jy stop? Wanneer gaan jy ophou om van jouself af te probeer weghardloop?" Alex kyk Finn verveeld aan. "Finn ek het geen idee waarvan jy praat nie. Moenie draaie loop nie, spoeg uit wat jy wil sê en kry klaar." Finn spring op en druk met altwee sy hande op die lessenaar met sy gesig nader aan Alex. "Nou goed Alex. Wanneer gaan jy ophou stry teen jou gevoel vir Itha? Gaan jy wag tot Gunther haar afgevry het? Gaan jy wag tot sy haarself soos jy in die grond gewerk het? Ek het haar vandag by die Koöperasie gesien waar sy hout begin aanry het vir 'n nuwe skuur. Sy het drieweke terug begin nuwe kampe span. Haar arms en hande is stukkend en verniel. Sy is vreeslik maer en sy lyk moeg. My donder man word wakker en erken jy voel iets meer as vriendskap vir haar. Ek gaan nie 'n fit vang nie, ek het vrede gemaak met die feit dat Itha net oë het vir jou, maar ek gaan nìe toekyk hoe jy en sy julle lewens weggooi omdat julle te lamsakkig is om dit te erken nie." Alex sit nou vorentoe. "Bly stil jy weet nie waarvan jy praat nie Finn. Ek probeer haar al drieweke lank sien, maar sy is nooit by die huis nie. Selfs waar Vytjie sê sy op die plaas is, kry ek haar nie. Ek weet nie regtig wat ek vir haar voel nie, alhoewel ek lus het om Gunther iets aan te doen as hy naby haar kom. Dis alles net so deurmekaar..." Finn kyk na Alex en lag. "Alex jy is verlief, wat verstaan jy nie? Donder moet jou kleinboet nou al vir jou vertel wat om te doen. My persoonlike mening is sy vermy ons nie net oor sy nie wou hê ons moet sien hoe sy haarself verniel het met die doringdraad nie, maar ook omdat sy meer as vriendskap vir Alexander die Grote voel. Ek het gesê ons sal haar help met die nuwe skuur, en sal haar vanmiddag of more gaan sien, maar ek dink sy gaan weer hasepad vat." Finn vertel hom van sy en Itha se gesprek vanmiddag en Alex kry 'n vasberade trek op sy gesig. "Ek gaan haar soek en ek het baie lus en gee haar 'n dekselse pakslae." Finn lag terwyl hy uitstap. Hier kom 'n volskaalse oorlog voordat hulle twee hulle skapies in een kraal gaan jaag. Ek beter die ander waarsku.
YOU ARE READING
Adendorpers boek1 Vrou so na my hart
RomanceItha of te wel Birgitha Ziegler is 'n hardekop en eiewys negentienjarige Duits-Franse meisie. Haar Pa Klaus Ziegler is 'n vooruistrewende skaapboer in die Karoo, maar na sy ongeluk wat hom verlam gelaat het, moet Itha die plaas se leisels op haar ne...