"Wat! Wat dan van Victor Itha? Ek het so gehoop..." Madeleine kyk van Itha na Alex en dan na die glimlaggende Klaus. Sy sweer hy is baie in sy skik nou. Hy het nog altyd 'n sagte plek vir Alex gehad. "Mamma ek is jammer, maar ek stel nie belang in Victor nie. Is dit nie jy wat nog altyd gesê het, ons kinders moet trou vir liefde nie? Ek en Alex het mekaar lief, ek gaan nie toelaat dat Mamma my aan Victor try afsmeer nie. Hy is hoogmoedig en net so titel en geldmal soos sy suster. Ek kan nie dink wat Dietrich in haar gesien het nie..." Alex vat haar hand toe haar Pa haar stilmaak. "Birgitha...dit is Dietrich se sake daai, en sy lewe. As hy kans sien om met haar saam te leef, wie is ons om te oordeel. Om terug te kom na julle twee toe. Ek het geen probleem met 'n huwelik tussen julle nie. Het julle al besluit op 'n datum? Julle weet die gebooie moet ten minste drie weke lank loop voor die troue. Jou Ma moet die onthaal beplan en jy moet sekerlik 'n trourok laat maak Itha." Nou lyk Madeleine sommer dadelik meer opgewonde. "Oe...Itha ons sal moet dorp toe, haberdashery toe. Ek en Vytjie sal moet besluit oor 'n spyskaart, ons sal moet 'n lys opstel..." Itha hou haar hand op om haar Ma te stop. "Wag Mamma, ek en Alex het nog nie op 'n datum besluit nie. Laat ons eers praat en besluit dan kan ons lysies begin maak." Alex lag vir haar Ma, en hy knik instemmend. "Ek en Itha sal praat oor 'n datum en jou betyds sê tannie Madeleine. Ek wil egter graag ons verlowing op my plaas hou as julle nie omgee nie, aangesien die troue tog deur die bruid se ouers gereël word. 'n Groot braai vir al ons familie en vriende." Almal stem in en Alex groet voor Itha saam met hom uitstap. By sy bakkie trek hy haar in sy arms in en hou haar so vas. "Kan ek jou vanaand kom oplaai vir die dans op die dorp?" Sy glimlag breed en knik. ”Natuurlik, ek dink nie ons moet hierdie dans mis nie. Ek sal halfses reg wees. Hulle het gesê hulle begin vroeg, want ons etes is by die kaartjies se prys ingesluit. Ayla het gesê sy sal vir ons ‘n tafel hou as hulle voor ons daar is. Gaan Finn en Wilhelm elk ‘n metgessel bring dat ons ‘n groot genoeg tafel kan soek?” Alex lag en skud sy kop. “Nee hulle het my vertel daar gaan hope enkel meisies wees en hulle wil met almal dans vanaand.” Alex is daar weg nadat hy Itha eers weer behoorlik gesoen het. Wat sy nie weet nie is dat hy direk gery het Grahamstad toe. Hy sal moet wikkel. Sy ou vriend Peter Schultze hou die juwelierswinkel net vir hom oop vandag. Itha stap krale toe om seker te maak alle skape is versorg. Sy is egter skaars in die stal waar die vier ooie met hulle lammers is, toe ‘n skaduwee oor haar val waar sy by die klein tweelingetjie sit. Sy kyk oor haar skouer en sien dit is Victor en besluit om hom te ignoreer. “So...jy en Romeo skaapboer staan sommer openlik en vry langs sy bakkie. Is jy nie bang jou Pa of Dietrich gee hom ‘n goeie afranseling nie? As jy my sussie was het ek hom goed opgefoeter met sy geklouery.” Sy staan op en draai vies om. “Wel gelukkig is jy nie my Pa of broer nie. Wat ek doen het dus niks met jou uit te waai nie. Glo my maar, my Pa en broer sal ook niks sê nie. Alexander het in elk geval my Pa se toestemming om vir my te kuier. Hou jou dus uit my sake.” Hy staan skielik baie naby aan Itha en blok haar hele pad na die deur toe. Sy word yskoud toe sy in sy koue blou oë kyk. Vir ‘n oomblik sien sy vir Gunther voor haar en sy stol in haar spore. Sy weet hier is niemand naby die stalle op die oomblik nie, niemand gaan haar dus te hulp snel nie. Die volgende oomblik gryp hy haar en druk haar teen die muur vas en begin haar liefkoos. Sy stoei en probeer hom met die vuis bykom maar hy hou haar polse vas. Sy verslap en toe hy haar hande los, skop sy hom tussen die bene dat hy dubbeld vou van die pyn. Sy is soos blits by die stal uit en toe sy die trappies ‘n paar minute later opstorm by die huis sien Dietrich haar hare hang ‘n hele stuk van uit asof sy in ‘n stoeigeveg was. Hy het haar laaste saam met Alex gesien toe hulle na sy bakkie toe is en nou wonder hy wat de hel het Alex met sy suster aangevang. Hy dink hulle twee sal bietjie moet gesels. Beste pel of nie. Itha gaan stort sommer dadelik en bly die res van die middag in die studeerkamer saam met haar Pa. Hulle bespreek die plaas se boeke en hy verseker haar dat hy van na NuweJaar af weer die bestuur van die plaas heeltemal op hom sal neem. Sy kan net nog die boeke doen en so hier en daar handjie bysit as sy wil, maar hy dink sy moet eerder haar aandag aan haar opkomende verlowing en troue bestee. Sy is nie gelukkig nie, maar dit is en bly sy plaas so sy sal maar gehoor gee aan haar Pa se bevele. Laatmiddag begin sy verklee en hoor hoe Inge vir Vytjie bevele gee. “Luister hier ouvrou, ek soek daai rok nou gestryk, ek gee nie om of jy af het en net gou iets met Mevrouw Madeleine kom bespreek het nie. Jy is nou hier jy kan dus net sowel my rok stryk.” Itha vlieg by die haar kamerdeur uit en keer Vytjie voor waar sy met die rok in haar hand aanloop strykkamer toe. “Stop net daar Vytjie! Gee hier daardie rok.” Sy vat die rok uit Vytjie se hande en prop hom in Inge se hande net toe Dietrich agter Inge in die gang verskyn, maar Inge sien hom nie. “Vat jou rok en stryk hom jouself Inge. Jy weet Vytjie is af tot oormôre toe. En tot jy nie ordentlik met haar kan praat nie verbied ek haar om jou enigsins van hulp te wees. Sy is ‘n mens soos ek en jy. Dankie en asseblief is nie vloekwoorde nie. Hier in Suid-Afrika gebruik ons dit elke dag.” Dietrich wil net vorentoe tree om die situasie te ontlont toe Inge vir Itha voor die bors stamp. “Jy is ‘n onbenullige ou platvloerse vaal meisietjie. Jy is ongeleerd en ‘n regte klein twat. Jy praat nie so met my nie, ek is jou meerdere. Jy behoort my met meer ontsag te behandel, ek is darem ‘n gekwalifiseerde suster en ‘n dokter se vrou...” Itha lag vir haar in haar gesig. “Jy is dalk meer geleerd as ek maar jy het geen maniere of respek vir ander mense nie.” Dietrich tree vorentoe en lê Itha die swye op. “Itha stop...voor julle goed sê waaroor julle later gaan spyt wees. Inge jy sal maar net ‘n ander rok vir die dans moet gebruik, Vytjie is af. Dankie Vytjie jy kan maar huistoe gaan. Sien jou oormôre, geniet die rustyd.” Daarmee draai hy om en trek Inge agter hom hulle kamer binne en maak die deur toe. Itha hoor hom hard praat maar sy gaan liewers haar kamer binne. Hoe minder sy van hulle besigheid weet hoe beter. Sy trek aan en doen haar hare en grimering. Sy hoor Alex met haar Pa praat op die voorstoep en sy vat haar handsakkie en stap haar kamer uit net toe Victor by sy deur uitkom. Sy ignoreer hom egter en stap vinnig aan stoep toe. Op die stoep sien sy Alex sit vinnig iets in sy broeksak en haar Pa lyk ingenome. “Nou toe weg is julle, gaan geniet julle gate uit vanaand.” Sy groet haar Ma wat in die deur agter haar kom staan en dan ook haar Pa, voor Alex haar hand neem en met haar aanstap na sy motor toe. Hy maak die deur oop help haar in en klim in die motor sonder ‘n woord. Hy ry egter nie dorp toe nie, maar ry reguit na die rivier toe. “Um...gaan ons nie dans nie Alex?” Hy glimlag en stop die motor onder die groot treurwilger en klim uit. “Ja ons gaan dans maar ons moet eers gesels.” Hy vat haar hand in syne en help haar uit die motor uit. Sy kyk na die water se kant toe en toe sy terugkyk is Alex voor haar op sy een knie. Haar oë word groot maar sy kry nie ‘n woord uit toe hy die ring oor haar vinger laat glip nie. “Birgitha sal jy asseblief binnekort met my trou?” Sy lag vir sy bewoording en trek hom op en sit haar arms om sy nek. “Ja Alexander ek wil graag met jou trou...sommer binnekort...” Hy gee haar nie kans om meer te sê nie, maar soen haar dadelik. Na vele minute lig hy sy kop en glimlag in haar oë. “Nou kan ons gaan dans, want nou is jy amptelik myne en behoort jou ring die ander mans af te skrik. Ek het jou ouers ingelig dat ek vanaand hierdie ring aan jou vinger gaan steek voor ons gaan dans en hulle was baie tevrede. Kom dat ons vir Björn-hulle kan gaan verras.” By die dans waai Ayla om hulle aandag te trek en hulle sien Finn, Wilhelm, Inge, Dietrich en Victor sit almal om hulle tafel. Sy hou Alex ‘n oomblik terug. “Alex as jy nie vanaand ‘n scene wil sien nie, moet jy my nooit naby Victor laat sit of selfs toestemming gee dat hy met my kan dans nie, groot asseblief, belowe my...asseblief...” Hy kyk dadelik bekommerd na Itha. “Itha mein liebling, wat het hy jou gedoen...ek sal hom vermoor...” Sy maak hom stil. “Ons kan later praat...belowe my net...” Hy sit sy arm om haar en druk haar teen hom vas. “Ek belowe mein Liebling, ek sal hom nie naby jou toelaat nie. Maar jy gaan my later die waarheid vertel.” Hulle besef nie eers hulle is die middelpunt van bespreking vanaand nie. Vele mense besluit dat Ayla toe tog nie nonsens gepraat het nie. Alex en Itha is wel saam. Alta en Gunther het dus gelieg toe hulle gesê het Itha wil saam met Gunther wegloop. Die storie dat hy haar ontvoer het oor jaloesie en die twee skool juffrouens en sy ouers vermoor het, is dus waar. By die tafel trek hy vir haar ‘n stoel langs Ayla uit en sit tussen haar en Victor. Hy kyk vir Finn en Finn staan dadelik op. “So wat kry ek vir julle twee om te drink?” Hulle besluit en Finn gaan dadelik vir hulle dit haal. Terug by die tafel gee Finn net een kyk toe Itha die glas by hom vat en begin lag. “Julle twee skelm blikslaers, is dit ‘n verloofring wat ek aan Itha se vinger sien?” Hy laat haar haar glas neersit en trek haar in sy arms in. Hy druk haar styf vas en soen haar op die wang. “Baie geluk, ek kry sowaar nog ‘n pragtige skoonsus by.” Terwyl Ayla-hulle haar gelukwens skud Finn blad met Alex, maar trek hom half weg van die ander af. “Wat is dit met hierdie Victor ou? Die oomblik toe julle in die deur verskyn gloei sy oë nes Guther s’n en hy kan nie sy oë van Itha af hou nie.” Alex skud sy kop. “Ons sal later praat, maar julle laat haar nie ‘n oomblik alleen met hom nie. Ek het ‘n gevoel ek gaan sy harspan induik voor ons die NuweJaar nog mooi binne is.” Björn fluister iets vir Ayla en sy kyk skerp na Victor dan na Alex en knipoog vir Alex. Dietrich sien dit en tel die vipe op tussen sy swear en die res om die tafel. Hy begin hulle dophou en toe Wilhelm heelwat later met Itha dans, stap hy saam met Alex om nog drinkgoed vir hulle te kry. “Kyk Alex, ons is jare al vriende en daarom gaan ek eerlik wees met jou. Ek hou nie van die manier wat my suster gelyk het na jy haar gegroet het vanoggend by jou bakkie nie. ‘n Drukkie of soen en hande vashou sal ek nog by verby kyk, maar as sy gehawend daar uitsien, met los haarslierte en skewe klere gaan ek jou harspsan indonder. Sy is my kleinsus man...stadig net ‘n bietjie. Julle is nog nie getroud nie.” Alex kyk hom verbaas aan. “Ek is jammer Dietrich, maar ek verstaan nie mooi nie. Sy het niks makeer toe ek haar met ‘n gewone soen gegroet het en sy stal toe is, toe ek gery het nie.” Dietrich kyk peinsend na Alex en skud sy kop. Hy vertel hom hoe sy gelyk het toe sy die stoeptrappies opgestorm het. Alex vertel hom op sy beurt weer van haar versoek en die belofte wat sy hom laat maak het toe hulle die saal ingekom het. Björn sluit by hulle aan en hy kyk ernstig na Dietrich. “Ek is jammer Dietrich maar ek like nie die manier wat jou swaer na jou suster kyk nie. Iets is nie lekker met hom nie. Ayla sê ook iets lyk vir haar verdag. Itha is nie heeltemal haarself nie en dis nie vanweë die verlowing nie. Daar’s iets anders wat haar pla.” Hulle besluit om Itha en Victor dop te hou. Intussen is Itha terug by die tafel en Wilhelm dans met Ayla. Victor kom van die dansbaan af met Inge en Inge stap direk na Dietrich toe by die verversingstafel. Victor kom sit direk langs Itha en sit sy hand op haar knie. Sy probeer sy hand afhaal maar hy hou net stywer vas en sy weet byvoorbaat sy gaan blou wees. “Mmm, ontspan dis net ek en jy mein skat. Jy kan nie ernstig wees oor daardie armsalige skaapboertjie nie. Wat het hy om jou te bied? Ek is ‘n dokter, ek kan jou prestige en ‘n fantastiese huis in Duitsland bied. Jy sal ‘n geëerde en gerespekteerde vrou wees in Duitsland onder my familienaam. Wat sê jy? Gaan jy saam met my terug Duitsland toe of sal ek jou verloofde inlig oor ons lekker tydjie in die stal vanoggend?” Sy kners op haar tande en sis vir hom. “Ek gee nie om wat jy hom vertel nie. Verwyder jou vuil pote van my af. Ek is bereid om ‘n scene te maak, glo my dit sal nie die eerstekeer wees nie. Jy het niks om my te bied nie baie dankie. Jy is niks beter as die bliksem wat my ‘n ruk terug ontvoer het nie.” Sy sien Alex-hulle aangestap kom en vlieg op. “Verskoon my ek gaan kleedkamer toe.” Sy moet net ‘n oomblik alleen wees om haar self reg te ruk anders gaan almal weet daar is fout. Sy klad haar gesig met ‘n stuk nat toiletpapier en net toe sy uitkom by die deur in die gangetjie in, gaan ‘n hand oor haar mond en sy word by die agterdeur tussen die twee kleedkamers uitgesleep. Sy spartel en buite word sy ru teen die muur vasgedruk. “Jou klein slet, jy speel net hard to get, ek weet jy wil graag in my arms wees.” Hy soen haar hard en ru en sy spartel tot sy haar een hand los het. Sy gryp sy hare en trek baie hard, en bring haar knie in dieselfde tyd op. Hy val op sy knieë voor haar voete neer. “As jy weer aan my raak, sal jy dit berou. Verstaan jy my? Ek wil niks van jou hê nie. Ek het nie tyd vir jou en jou snobisme nie. Alexander is my verloofde, ek is lief vir hom net soos hy is. Glo my as dit oor prestige gaan sal ek in elk geval, baie hoë aanskyn beleef as ek met hom trou. Hy is een van die rykste en vooruitstrewendste Merinoboere in die Karoo, selfs op sy jong ouderdom is daar min mans wat by hom sal byhou as daar gewerk moet word. Gaan terug Duitsland toe en bly sommer daar. Jy is nie welkom hier nie.” Daarmee draai sy om en gaan terug saal toe. Alex kyk haar ondersoekend aan en sy weet hy weet daar is fout. Voor hy egter iets kan sê spring sy hom voor. “Ek het ‘n vreeslike hoofpyn, maar ek het reeds iets daarvoor gedrink. Kom ons eet, ek is nogal honger.” Hy stem in maar hy weet sy steek iets weg en hy besluit om dit te laat gaan vir vanaand. Hulle eet en hy merk op dat Victor baie stil is en Itha steeds met begerige oë beloer. Hy het ‘n gevoel hy en mnr Victor gaan in mekaar vasloop kort voor lank. Sondag by die Kerk vra Ayla vir Itha wat is fout of sy en Alex dan baklei het dat hulle altwee so stil is. Sy besluit om Ayla in haar vertroue te neem en vertel haar sommer in die kleedkamer na kerk van Victor wat haar orals vaskeer en vatterig is en haar prober liefkoos. Ayla wil hom sommer by die kerk trompoploop, maar Itha keer. “Nee hemel Björn kry stuipe, jy is swanger jy moet dit rustig vat. Moenie te veel daaroor bekommerd wees nie, ek sal dit uitsort.
Sondagnag is dit vreeslik warm en bedompig en Itha het ‘n vreeslike hoofpyn. Sy is seker dit is al die spanning. Itha maak haar vensters oop, drink twee pille en raak later aan die slaap. Sy skrik Maandagoggend wakker toe haar Ma met ‘n geskokte gil in haar deur tot stilstand kom. Itha vlieg regop en sien Victor langs haar in die bed. “Jou lae gemene gemors, hoe durf jy?” Hy maak of hy deur die slaap is. “Ek is jammer Itha ek het nie bedoel om hier aan die slaap te raak nie. Oom Klaus ek belowe ek sal hierdie saak regstel. Ons kan trou en... en...” Itha is egter op en ruk haar japon aan. “Dit sal die dag wees. Hierdie is jou plan gewees oor ek jou laas Maandagaand van die hand gewys het jou bliksem. Jy was definitief nie in my bed met my toestemming nie. Ek is jammer Pa, maar ek weier om met die uitvaagsel te trou...” hy val haar in die rede. “Maar Itha jy kan nie dink dat Alex nog steeds met jou sal trou as hy weet ons het...ons het...” Sy gooi hom met ‘n blompot en hy koes. “Jy lieg so ver jy gaan, jy het nie aan my gevat nie, ek sou jou nooit toegelaat het nie en Alex sal dit weet. Ek kan nie langer hier bly met jou en jou bose planne nie. Uit...uit...” Sy mik na hom met die ander blompot en hy hardloop by die deur uit. Haar ouers kyk na haar en Dietrich druk verby hulle na binne. “Sus, is jy seker hier het niks gebeur nie? Hy sal net eenvoudig moet...” Sy ruk ‘n tas uit haar kas en begin haar klere ingooi. Haar Ma wil keer maar sy stoot haar weg. “Los my uit, almal van julle. Glo net wat julle wil, ek weet hy kon nie aan my gevat het nie, ek sou dit ten minste geweet het. Ek weier om langer hier te bly. Ek sal by Ayla wees as julle my soek. Ek kom beslis nie terug voordat daardie lae gemene vuilgoed terug is Duitsland toe of van hierdie plaas af is nie. Ek het nou genoeg gehad. Ek het stil gebly en die situasie self probeer hanteer omdat hy jou swaar is Dietrich, maar nie meer nie. Ayla weet gelukkig van al sy stories en elke voorval waar hy my probeer bevat en bevoel het.” Sy vertel hulle van elke liewe voorval waar hy haar voorgekeer het en voorgestaan het, dan knip sy haar tas toe en haar Pa trek haar teen sy bors vas. “Alles reg my kind. Vat die motor en gaan na Ayla toe en bel vir Alex. Verduidelik alles vir hom. Nie later nie, nou vanoggend nog. Ek sal die ding hier op die plaas uitsorteer en jou laat weet wanneer jy kan terugkom. Dit behoort binne enkele dae te wees.” Itha besluit om direk na Alex toe te ry. Sy stop voor die agterdeur en klim uit. Hy kom regop waar hy op die stoep sit met sy vroeë oggendkoffie. Hy sien sommer dadelik daar is fout en toe sy hom op die onderste trappie raakloop val sy teen sy bors neer en bars in trane uit. Finn en Wilhelm storm die huis uit en wil weet wat aangaan maar Alex skud sy kop en beduie vir hulle om hulle ry te kry. Hy tel Itha op en dra haar die huis binne na sy studeerkamer toe waar hy met haar agter sy lessenaar op sy skoot gaan sit. Hy kry naderhand met rukke en stote die hele storie uit haar uit. Hy is so kwaad hy kan slange vang. “Jy weet Birgitha jy moes lankal met my gepraat het dat ek die storie kon uitsorteer met hom.” Hy staan op en sit haar op sy stoel neer voor hy deur toe loop en die deur oopruk. Wilhelm en Finn val na binne en hy kyk hulle amper dood. “Ek hoop julle het genoeg gehoor... julle weet van nuuskierigheid is die tronke vol en die kerke leeg. Sorg dat sy hier is wanneer ek terugkom of die duiwel sal julle aldrie haal.” Hy draai dreigend na Itha. “Ek en jy Birgitha het nog lank nie klaar gesels nie. Moenie eers probeer wegsluip nie, want as ek jou moet gaan soek, gee ek jou sowaar vandag ‘n dekselse pakslae.” Itha spring op en wil hom keer. “Alex...wag...waarheen gaan jy...” Hy glimlag smalend. “Ek gaan doen wat ek lankal moes gedoen het vandat daai Duitse laventel doktertjie sy voete hier gesit het. Ek gaan sy bakkies vir hom vervorm en hom terug bliksem tot in Duitsland en niemand gaan my vandag keer nie, nie eers Heinz en sy hele polisiemag nie. Ook nie jou broer of jou Pa nie, ek voel vere of hy familie is van jou broer. Finn jy weet waar’s die geld as jy my uit die tronk moet kom haal.” Daarmee is hy by die huis uit. Itha kyk benoud na Finn. “Julle beter gaan keer Finn. Ek het hom nog nooit so kwaad gesien nie.” Finn lag. “Dan is dit goed dat jy nou sien hoe hy gelyk het. Hy het net so gelyk toe hy en Heinz vir Gunther begin jag het. Ek sit nie ‘n voet van hierdie plaas af nie en jy ook nie, al moet ek jou in die studeerkamer toesluit. Dis jou keuse. Maar ek gaan vir Bjørn bel en hom stuur om Alex te keer voor hy permanent met sy alie in die tronk sit.” Hy voeg die daad by die woord en bel vir Björn. Gelukkig is dit nog skoolvakansie.
Hoe nader Alex aan die buurplaas kom hoe kwater word hy. Op die werf hou hy stil en storm die trappies op. Klaus wil nog opstaan en keer maar Alex gryp Victor voor die bors waar hy in die kombuis langs die tafel sit en doodluiters ontbyt eet. “Moet asseblief nie eers probeer interveer nie Oom. Hierdie is ‘n saak tussen my en Victor.” Hy sleep hom uit tot buite waar hy hom goed foeter. “Jou lae uitvaagsel. Het jy nog nooit geleer as ‘n vrou vir jou nee sê om dit te aanvaar en aan te beweeg nie? Waar het jy geleer om jou hande op ‘n ander man se meisie en verloofde te lê?” Na elke vraag reën daar twee of meer houe. Die arme maer Duitser staan nie ‘n kans teen die gespierde skaapboertjie nie. Hy probeer keer vir sy gesig maar Alex breek sy neus en kakebeen sonder veel moeite. Björn stop in ‘n stofwolk en wil gaan keer, maar Dietrich hou hom terug. “Jy is vandag gewaarsku, bly weg van Itha af. Een woord oor jou simpel poging om haar naam te besoedel vanoggend vroeg en jy sal nie leef om van die storie te vertel nie. As jy net in haar rigting kyk of asemhaal sal ek jou verder opvoeter voor jy op daai vliegtuig kan klim. Jy mors nie met ‘n boer se verloofde nie, maak nie saak hoe ongeleerd hy volgens jou is nie. Hierdie boertjie sal jou laat verdwyn in hierdie wye Karoovlakte en geen haan sal daaroor kraai nie. Jy sal net tussen neus en ore verdwyn, verstaan jy my?” Victor knik en bly net so lê toe Alex hom eenkant toe gooi. Inge staan geskok binne die kombuis waar Dietrich haar toegemaak het toe sy wou interveer. Hy maak vir haar oop en sy storm op haar broer af om hom te help. Alex groet almal, klim in sy bakkie en ry huistoe. Nou is dit hy en sy liewe verloofde.

STAI LEGGENDO
Adendorpers boek1 Vrou so na my hart
Storie d'amoreItha of te wel Birgitha Ziegler is 'n hardekop en eiewys negentienjarige Duits-Franse meisie. Haar Pa Klaus Ziegler is 'n vooruistrewende skaapboer in die Karoo, maar na sy ongeluk wat hom verlam gelaat het, moet Itha die plaas se leisels op haar ne...