Alex is in 'n helse slegte bui. Vytjie het hom vertel waar Birgitha is en hy het lus en gaan haal haar by die von Badens, maar hy moet dalk eers bietjie afkoel voordat hy haar onder oë kry, anders sal die von Badens dink hy is 'n regte swak opgevoede bekvelderboertjie. Hy gaan dus huistoe en haal sy humeur op Wilhelm, Finn en die werkers uit. Almal skud net kop en sorg dat hulle so ver moontlik uit sy pad bly. Sondagoggend sit hulle in die kerk toe Itha by die sydeur instap en langs Wilhelm in die bank inskuif. Sy groet die ander met 'n kopknik en 'n effense glimlag en sit doodstil voor haar en kyk. Alex voel lus om te ontplof, maar vermaan homself dat hy in die kerk is. Itha is effens verbaas om te sien Alta sit nie by Alexander nie maar 'n paar rye voor hulle aan die anderkant van die kerk. Dis heel vreemd, maar dit het gelukkig niks met haar uit te waai nie. Wilhelm draai sy kop en bekyk Itha openlik tot sy vir hom kyk. Dan lê hy oor en fluister vir haar. "Sal jy groot asseblief nie vanmiddag weghardloop as ons jou kom sien oor jou nuwe skuur nie. Nog 'n dag van Alexander die Grote se vreeslike humeur dan gaan ek sowaar by jou kom intrek, want dis alles jou skuld." Sy kyk verbaas na hom, maar hy sê niks verder nie en sy besluit om hom nie te antwoord nie. Na die diens is sy soos blits by die sydeur uit en binne in haar bakkie. Sy het aan die anderkant van die kerk gestop juis om nie naby Alexander hulle te stop nie. Sy is egter skaars by die huis in haar kamer besig om uit te trek toe daar 'n motor voor die agterdeur stop. Vytjie het af vandag so sy moet dus self gaan kyk, sy pluk dus vinnig vir haar 'n langmouhemp aan by haar denim en stap kaalvoet kombuis toe terwyl sy haar hemp vasknoop. Voor die agterdeur staan Alexander in sy pakklere. Ai tog, wat nou. Dalk moet sy net stilbly, dan loop hy miskien. "Birgitha ek weet jy is in die huis, maak asseblief oop. Ek gaan nie hier staan en skree nie. Ons moet praat." Sy sug en maak die agterdeur oop, maar nie die gaasdeur nie. "Alexander, regtig ek is nog besig om aan te trek gee my net 'n kans. Waaroor moet ons nou so dringend praat? Kan dit nie wag tot môre nie?" Hy staan met sy hande op sy sye. "Birgitha maak oop hierdie deur voor ek my soos 'n bekvelder gedra en jou deur uit die kosyn loop." Itha vererg haar. "Alexander as jy so onredelik is, kan jy maar liewers ry. Anders moet jy maar op my stoep sit tot jy afgekoel het, dan sal ek vir jou oopmaak." Hy staan dreigend nader en sy maak die agterdeur vinnig toe. Sy besluit om hom te fnuik en by die voordeur uit te sluip stal toe, haar perd op te saal en weg te jaag veld in. Hy is hier met die motor en sal haar nie dadelik kan agtervolg nie. Sy druk haar kouse in haar stewels en sluip met dit in haar hand by die voordeur uit. Toe sy op die boonste stoeptrappie kom, staan Alex reg voor haar onderkant die stoep. "Gedink jy gaan 'n skelmstreek uithaal. Jammer hieroor Birgitha, maar jy laat my geen ander keuse nie." Hy buk vorentoe en sit sy skouer onder haar in, vat haar bo-bene en lig haar oor sy skouer. Sy klap na hom en verloor haar stewels in die proses, maar hy begin net eenvoudig aanstap stalle toe. "Alex my stewels..." Sy gee hom 'n paar houe op sy rug, maar hy voel dit nie eers nie en gee haar 'n harde hou op die agterstewe. "Alex sit my neer, ek gaan jou nooit vergewe hiervoor nie." Sy hoor hom lag. "Itha mein kleiner liebling (my klein liefling), ek gee nie om of jy my nooit vergewe nie, maar vandag gaan ons gesels. Jy vermy my al drieweke. Ek is nou moeg agter jou aangeloop om jou nie te kry nie." By die stalle stap hy by 'n oop stal in en maak die onderdeur toe en laat haar stadig teen sy lyf afgly. Hy los haar egter nie dadelik nie, maar hou sy arms om haar. "Moenie eers probeer hardloop nie Itha." Sy staan doodstil en hou haar oë op sy bors. Sy voel hoe warm haar wange is en sy weet sy is bloedrooi. Die volgende oomblik lig hy haar gesig op en kyk af in haar gesiggie. "Nou kan jy my vertel hoekom jy my vermy. Het ek iets gedoen of sê wat jou kwaad gemaak het?" Hy trek haar tot teen die muur waar hulle op 'n baal hooi gaan sit. "Nee Alexander, ek is nie kwaad vir jou nie, ek was net vreeslik besig. Ek het nuwe kampe gespan en allerhande goed gehad om te doen. Ek het nie tyd vir kuier en rondsit nie." Alex vat haar hand en begin haar mou opstoot. Sy probeer keer maar hy kyk klaar na die wonde. "Ek het lus en gee jou 'n loesing, kyk hoe het jy jouself verniel. My magtig Itha, ek het jou gesê ek sal jou help, hoekom het jy nie gevra toe jy kampe begin span het nie." Sy ruk haar arm uit sy hande en begin haar mou afrol. "Ek is nie 'n baba nie Alexander. Ek kan self draad span, hoekom moet ek altyd vir een van julle vra as ek iets gedoen wil hê. Jy was elk geval self besig want Finn het my reeds gesê jy werk soos 'n besetene tussen die skape en skuur. Wat is fout met jou dat jy so op die plaas werk? En vir wat jaag jy al drieweke al agter my aan? Moes jy nie eerder die huis regmaak vir jou bruid en ophou om my te probeer vind nie?" Alex kyk verbaas na haar. "My wat! Itha het jy op jou kop geval?" Itha kyk nou ook na hom met verbasing. "Ag kom nou Alexander, moenie nou maak of jy nie weet waarvan ek praat nie. Alta vertel vir al haar vriendinne die dorp vol dat julle weer gaan probeer en seker teen begin volgende jaar gaan trou." Hy skud sy kop. "Nie wat ek van weet nie, ek het nog nie een woord met haar gepraat vandat sy terug is nie. Dankie dat jy my gesê het sy loop alweer met skinderstories rond. Björn het my net gewaarsku sy is terug op die dorp by haar ouers, maar ek voel vere waar sy is, solank sy wegbly van my af. Ek sal haar egter gaan opsoek en die sakie regstel voor die son ondergaan vanaand. Daar is definitief geen opmaak en trouery met haar in die vooruitsig nie. So moet asseblief nie na enige van haar liegstories luister nie. Moet ook nie vir my sê jy was te besig om selfs net twee minute aan my af te staan die laaste drieweke nie. Jy het my aspris probeer vermy en ek gaan jou hier hou tot jy eerlik is met my Itha." Sy probeer dink wat kan sy sê maar haar brein wil nie werk nie. "Ek het jou my rede gegee en as dit nie goed genoeg is nie het ek niks verder te sê nie. Dan gaan ons nog dae lank hier sit as jy wag dat ek jou 'n ander antwoord gee." Alex begin lag. "Itha jy kan net vir my gesê het jy wil meer tyd saam met my deurbring, ek het geen probleem daarmee nie..." Sy spring op en mik vir die deur, maar Alex is vinniger as sy en hy blok die deur en vat altwee haar hande vas in een van syne en druk haar teen die muur terug. "Nein mein liebling, (nee my liefling), ek dink nie ons is klaar gepraat nie." Sy staan doodstil teen die muur en voel die hitte van sy liggaam so naby hare. "Alex asseblief, wat se troetelname is dit met jou vandag, los my ek is nie lus vir jou grappies nie. Ek dink nie daar is nog iets te sê tussen ons twee nie." Hy staan nog nader en los haar hande maar sit sy hande weerskante van haar kop en leun vorentoe met sy mond naby haar oor. Sy sit haar hande teen sy bors om hom weg te stoot, maar sy kom nie so ver nie. "Mmm, ek kan dink aan honderde dinge wat ek nog graag vir jou sou wou sê, maar ek dink nie ek moet dit nou alles vir jou op eenslag sê nie. Jy gaan die helfte daarvan beslis nog nie wil glo nie. Ek dink nie jy is al reg vir alles nie. Maar wat ek jou wel nou al kan sê, is dat ek dinge vir jou voel wat my dom maak, deurmekaar maak, opgewonde maak en my soos 'n tienerseun wil laat optree en elke ou wat in jou rigting kyk wil opvoeter. Itha...ek..." Sy loer verbaas-skaam na hom. "Alex..." Hy draai sy kop en streel met sy lippe oor haar wang en dan sluit sy mond oor hare in 'n sagte soen. Hy lek oor haar onderlip en toe sy haar asem intrek glip sy tong na binne en hy soen haar met passie. Itha besef nie eers dat sy hom met net soveel passie terugsoen nie. Haar hande beweeg teen sy bors op en om sy nek en verstringel in sy hare in sy nek. Alex lig sy kop stadig en kyk af op haar geslote oë wat stadig oopgaan. Sy kyk skaam op na hom en begin dan bloos as hy geamuseerd lag vir haar pienk wange. "Jy is pragtig as jy so bloos Itha, en ek kan ure na jou kyk, maar ek dink dis veiliger vir ons altwee as ons nou hier uitkom. Ek is net bly hier is niemand wat ons hier sien inkom het nie, want ek was baie onverantwoordelik om jou alleen hier te hou. As iemand dit moet uitvind is jou hele goeie reputasie daarmee heen. Kom, laat ons huistoe gaan. Ek moet nog dorp toe om die seuns by Björn-hulle te kry en die ander sakie met 'n sekere vroumens te gaan opklaar." Hy vat haar hand en maak die staldeur oop. Hulle stap huistoe en toe hulle agterom die huis stap staan Björn se motor langs Alex se motor. Finn en Wilhelm sit ewe sedig op die trappies met Itha se stewels voor hulle voete op die onderste trappie. Alex en Itha stop in hulle spore en Itha bloos bloedrooi terwyl sy haar hand uit Alex s'n probeer trek. Hy hou egter net stywer vas en toe sy na hom opkyk is sy wange effens pienk asof hy bloos. Hy kyk af na haar kaalvoete en begin glimlag. Wilhelm bars uit van die lag. "Mmm lyk of dit rof gegaan het hier, want aspoestertjie het sommer altwee haar skoene verloor." Itha bloos nog meer en Alex gee Wilhelm 'n vuil kyk. "Hou jou in Wilhelm, ons het net gesels. Waar is Björn en Ayla dat hulle motor hier staan?" Finn staan op en glimlag beterweterig. "Toemaar Alex ons sal nie vra vir meer besonderhede nie, ons kan ons eie afleidings maak. Björn het vir ons sy motor geleen om te kom seker maak jy vermoor nie vir Itha nie, maar lyk my ons was verniet bekommerd daaroor." Itha trek haar hand uit Alex s'n en vat haar stewels en gaan die huis binne. Sy gaan sit op 'n kombuisstoel en trek haar stewels aan, dan sit sy die ketel op die stoof. Sy begin vir hulle koffie maak en hoor Alex en sy broers praat buite, maar sy kan nie hoor wat daar gesê word nie. Skielik is Alex reg agter haar en sy hande op haar skouers, waar sy met haar rug na die deur toe staan by die kas. "Itha...Finn en Wilhelm sal niks sê vir enige iemand dat ons so lank alleen in die stal was nie. Hulle weet daar het niks meer as 'n soen tussen ons gebeur nie. Ek wil nie hê jy moet bekommerd wees nie. Buitendien ons het al baie alleen in die veld gewerk en niemand dink iets daarvan nie." Sy kyk oor haar skouer en glimlag gerusstellend. "Dis okay Alex...regtig...ek was nie bekommerd daaroor nie. Ek voel vere vir die mense se geskinder." Hy draai haar aan haar skouers om. "Itha..." Hy vryf met sy hand oor haar wang, maar voor hy iets verder kan sê maak Finn keelskoon agter hulle. "Um...ons koffie staan nie dalk en koud word terwyl julle vry nie nê?" Alex maak sy oë toe en lig sy kop op na bo asof hy bid vir krag voordat hy Itha los en terug tree. Itha bloos en draai weg om die koffie klaar te maak. "Finn jy moet regtig werk aan jou timing. Die ketel kook nou eers, jy is te haastig." Finn glimlag breed toe hy sien selfs Alex se ore en wange is effens pienk. "Skuus Itha, maar ek is dors, ek en Wilhelm sit al 'n halfuur op die stoep sonder 'n drinkding." Alex gee hom 'n kwaai kyk asof hy vra of is dit nou nodig om te noem hoe lank hulle in die stal was, maar Finn lag net verontskuldigend. Itha wil die koffie uitdra maar Wilhelm kom ook in en kom sit by die tafel. "Itha wat eet jy vanmiddag? Hier is dan niks op die stoof nie?" Sy begin lag. "Is jy honger Wilhelm? Ek was nie van plan om te kook nie. Ek gaan net van die vars gebakte brood van Vytjie met biltong eet. Julle is welkom om saam te eet." Wilhelm en Finn kyk smekend na Alex en hy lag. "Julle is te erg, altyd honger, maar as Itha vir julle wil kosgee sal ek nie in julle pad staan nie." Almal lag en Itha gee 'n groot stuk biltong, mes en broodbord vir Alex aan om te kerf. Wilhelm haal borde en bottermesse uit terwyl Finn die brood nader bring dat Itha hom kan sny. Hulle gesels tussendeur oor Itha se nuwe skuur en Alex sê hy en Finn sal hulle span werkers môre saambring. Wilhelm gaan eers skooltoe maar sal teen die middag kom help. Alex sal môre oggend eers die res van die hout by die Koöperasie vir Itha gaan laai met sy groot trok. Na middagete kyk en bespreek hulle gou die planne en stuk grond waar Itha die skuur wil hê voordat hulle ry. Finn moet gou Björn se motor terugneem en Alex wil nog met 'n sekere dame gaan praat voor hulle kan terug plaas toe. Finn en Wilhelm groet Itha elk met 'n druk en 'n soen op die wang en klim in Björn se motor. Finn gee nog 'n laaste hou na sy Ouboet voor hy laggend wegtrek. "Alex moet nou nie hier staan en vry en vergeet om ons by Bjørn-hulle te kom kry soos jy ons by die kerk gelos het nie." Alex skud net sy kop voor hy Itha se hand vat en haar saam met hom motor toe trek. "Ek en jy het nog nie klaar gepraat oor my en jou nie Itha-liebling, maar ek sal jou kans gee om gewoond te raak aan die gedagte van my in 'n ander sin as net jou vriend en buurman." Sy glimlag verleë. "Ja dis nogal... vreemd om so aan jou te dink...dit sal dalk tyd vat om gewoond te raak aan..." Hy leun vorentoe en soen haar vol op die mond. "Mmm, ek sal nie omgee om jou te help gewoond raak aan my op 'n meer persoonlike vlak nie..." Hy soen haar weer en vou haar in sy arms toe as sy hom terugsoen. Hulle staan 'n ruk so en as hy sy kop lig is sy skaam en laat sak haar kop teen sy bors. Hy lag saggies en soen haar op die voorkop. "Nie gedink die klein vuurvreter rabbedoe van langsaan sal so bloos as ek haar soen nie, maar ek hou daarvan. Lekker aand vir jou Itha. Droom van my..." Alex klim in sy motor en ry weg terwyl Itha hom agterna kyk met 'n sagte glimlag op haar gesig. Wow...wie sou ooit kon dink sy en Alex kan saam opeindig...en kan hy nie soen nie...wonder wat haar Ouers hiervan gaan sê.
YOU ARE READING
Adendorpers boek1 Vrou so na my hart
RomanceItha of te wel Birgitha Ziegler is 'n hardekop en eiewys negentienjarige Duits-Franse meisie. Haar Pa Klaus Ziegler is 'n vooruistrewende skaapboer in die Karoo, maar na sy ongeluk wat hom verlam gelaat het, moet Itha die plaas se leisels op haar ne...