Op die platteland in die 80's het jy geglo jy sal swanger word as 'n ou jou net soen. Ons ouers het ons nooit van die bytjies en die blommetjies vertel nie. Dit was taboe onderwerpe. Wonder of die ooievaar ons almal gebring het?
Marco het my egter gou-gou touwys gemaak. Die eerste keer was nie soos wat hul in die boeke vertel met min pyn en vele orgasmis nie. Niemand vertel van die pyn, ongemak en bloeding nie.
Een voorwaarde van my was dat alles in die donker moes gebeur. Hy kon tog nie my naakte lyf sien nie. En ek het, behalwe vir my klein boetie nog nooit 'n volwasse kaal man in sy volle glorie gesien nie.
Ek was bitterlik onskuldig in daardie jare en het eers nie besef wat gebeur het nie. En toe die besef deurdring, het ek vuil en kwaad vir myself gevoel. Dit was mos iets wat vir jou troubag bedoel was.
Die aand terug by die koshuis, het ek vreeslik gehuil en myself verwyt dat ek so iets kon aanvang.
Marco was egter 'n ander saak. Om hom te oortuig om net by eenkeer saamslaap te bly was weer vir hom taboe.
En eerlik: dis soos fietsry en roomys. Na die eerste keer, word dit mos lekkerder en jy klim maar op en ry!!.
En onwetend vir Marco het hy 'n bynaam gekry: tandestokkie. Nie omdat hy nie goed bedeel was nie, inteendeel...... . Hy het op 'n baie spesifieke plekkie vooraan 'n gaatjie gehad wat ander mans nie het nie en hy het soms 'n tandestokkie daardeur gedruk. Tot my groot vermaak lateraan toe ons mekaar se lywe beter leer ken het.
Marco was wilder en beslis meer wêreldwys as die paar skoolkyse wat ek gehad het.
Aan die einde van my eerste jaar het ons saam gaan vakansie hou. Ons was maar platsak studente en het sommer in sy kar geslaap by vulstasies. Soggens het ons by 'n karavaanpark gestop om kamma in te boek en dan gou gestort, tande geborsel ens. Het afgery Kaap toe. Dit was my eerste keer in die Kaap. Het by al die klein dorpies gestop.
Oudshoorn en die Kangogrotte was ook op die bucketlist. By Oudshoorn was ek baie braaf op die volstruisplaas en het vrywillig verplig op 'n geblindoekte volstruis gesit. Die volgende oomblik het die gids besluit om die blinddoek van die groot voël se kop af te haal! Groot oë en 'n bek sonder tande het skielik in my gesig gestaar.
"Bliksem" het al die ander mense laat skater van die lag. Ek het natuurlik nie kans gesien vir die volstruisresies nie. Marco het tweede gekom in die resies en hierdie moes ek natuurlik die hele vakansie aanhoor.
Kaapstad self en die ou kabelkarretjies was 'n groot avontuur. Die uitsig vanaf Tafelberg asemrowend.
Ons is Suidwes-Afrika toe daarna. Op Swakopmund het ek sy ouers ontmoet. Om die een of ander rede was ek beslis nie hul seun se keuse vir 'n lewensmaat op hierdie stadium nie.
Maar dit het nie in ons pad gestaan nie. As jy verlief is, het jou ouers nie regtig 'n sê nie.
Op Swakopmund moes ons ook uitvind dat hul glad nie weet wat 'n Dom Pedro is nie. Met groot verduidelikings daag die kelner op met 'n halfliter roomys gemeng met Amarula. Die bak was groot genoeg vir ons al 4! Die episode was baie snaaks.Duin 7 was vet pret. Die oploop teen die duine om af te ski was nie pret nie.
Oppad na Windhoek het Ai-Ais bietjie verligting gebring van die versengende hitte, alhoewel die plek gesluit was. Ons het die wag omgekoop om te stort.
'n Pap wiel was nie sulke pret nie. Die naaste dorpie aan die Visriviercanion het op 'n Saterdagmiddag met groot glimlagte vir ons die garage oopgemaak om die pap wiel te vervang. Waar in ons liewe Suid-Afrika sal ons dit beleef? Nie eers in die '80's nie!
YOU ARE READING
Die stemme in die nag
RomanceSaans as mens wil slaap, dan kom al die stemme, die planne, ek moes dit of dat gedoen het........die duiwel fluister in jou oor, jy is baie brawer. Maar as die son opkom en al die realiteite van die lewe jou tref, wil jy soms dan n slaappil drink en...