Ons eerste afspraak by die ginekoloog het nie verloop soos ek wou hê nie. Die dokter het my dadelik duidelik laat verstaan dat swangerskap nie 'n siekte is nie. So ek mag oor niks kla die heel tyd nie. Net daar het ek 'n ander dokter gesoek wat meer simpatiek is. Swangerskap is nou wel nie 'n siekte nie, maar nie almal voel lekker en het 'n gesonde swangerskap nie!
Die eerste drie maande was erg! Ek kon my mond nie aan kos sit nie, kon nie eers water drink nie. Ek het 5kg verloor daardie eerste ruk. Arme Jaco moes sy eie kos maak. Vleisreuke het my laat hardloop na die wit plekkie in die badkamer. Ek kon nie eers water drink nie, dan moes dit uit. Jaco moes basies vir 3 maande lank sy eie kos maak, want hierdie vroulief was nie in staat daartoe.
So het die tyd aangestap. Dis opwindend om 'n nuwe lewetjie te verwag. Ons het begin om die spaarkamer in 'n babakamer te omskep. Snaaks genoeg, het ek van die begin af geweet dat dit 'n dogtertjie sou wees. Ek het my beslis nie gesteur aan al die stories van hoe jy nou "dra" nie. Genade, ek is mos nie 'n koei nie! Die sonar het net ons vermoedens bevestig. Pappa was so opgewonde, hy sou tot 'n apie verwelkom, dink ek.
Vanaf maand 6, het die probleme met my swangerskap begin. Eers gering, maar later erger.
My ginekoloog was dieselfde tyd as ek swanger. Sy het soos 'n worsmasjien gewerk en van die gevaartekens gemis.Met ondersoeke het ek in een kamer gelê en 'n ander pasiënt in 'n ander een. Ondersoeke was omtrent 5 minute lank. As jy nie gekla het oor iets nie, was sy tevrede en jy is vrygelaat.
Maand sewe het aangebreek. Ek het die oggend gaan werk soos gewoonlik. My werkskoene was skielik amper te klein. Ek het "kankles" gehad. My enkel was dieselfde grootte as my onderbene tot by my knieë.
My werkgewer het gesê, dat ek 'n voorskrif by my ginekoloog moet kry vir waterpille om die swelsel te laat sak. Ek het ook proteïene in my uriene gehad en my bloeddruk was hoog.Bel die dokter.
Raai wat?
Sy is besig om te kraam!
Toe kraam ek amper!
Gelukkig was daar 'n ander dokter in haar plek.
Slim suster wat ek is, diagnoseer ek myself. Sê vir die dokter wat fout is en wat hy asseblief vir my moet voorskryf.Mevrou,jy pak jou tassie en kom sien my NOU!. Dis nie hoe ek my praktyk bestuur nie!
Wel, ja baas!
Ek en Jaco klim in die bakkie effe benoud en ry Pretoria toe.
Al het ek mediese kennis, as jyself die pasiënt is, waai alles by jou ore uit.Ek was nie eers tien minute by die vreeslike oulike dokter nie, toe lê ek pens en pootjies in 'n hospitaalbed. Opgeneem met pre-eklampsie, 'n mediese toestand wat swanger vrouens kan kry wat hoë bloeddruk veroorsaak en lewensbedreigend vir mamma en baba kan wees.
Hierdie was my blyplek vir twee weke. Bloeddruk op en af. Swelling bly daar. Hallo Olifant!
Terug uit hospitaal, is ek summier al op kraam-siekverlof en streng bedrus geplaas.
Daar was soveel om te doen, koekies bak, babakamer regkry en alles.
Bedrus was vir die voëls.Maand agt se besoek was totaal en al onverwags.
Ons het heel gerus Pretoria toe gery vir die ondersoek.
Daar aangekom, was daar weer proteïene in my uriene. Die bloeddruk so hoog, dat die dokter amper 'n hartaanval gekry het.Ek is weereens summier opgeneem in die kraamafdeling. Sommer in die saal waar die pasiënte lê en kraam om jou. Dokter het begin met 'n induksie om te help dat ek in kraam gaan.
Wel sussie wou niks weet nie.
24 uur later besluit hy om 'n noodkeiser te doen. Dit was 4 weke voor die verwagte datum.Ek was so moeg en moedeloos teen die tyd, dat ek vir narkose en nie epiduraal gevra het nie. Ek het totaal en al nie eers meer omgegee wat met my gebeur nie.
Jaco was doodbang vir bloed en hospitale. Toe ek in teater ingestoot word, staan hy so ewe daar langs my bedjie met teaterklere aan! Vreksnaaks! Die goed natuurlik heeltemal te kort omdat hy so groot en lank is.
Narkose begin.
Tel terug vanaf 10 mevrou.
10, 9, 8, 7...................
Gone...........
YOU ARE READING
Die stemme in die nag
RomanceSaans as mens wil slaap, dan kom al die stemme, die planne, ek moes dit of dat gedoen het........die duiwel fluister in jou oor, jy is baie brawer. Maar as die son opkom en al die realiteite van die lewe jou tref, wil jy soms dan n slaappil drink en...