Sussa gaan skool toe

9 0 0
                                    

Kort voor lank was dit tyd vir graad 1.  Ai die dag was vir my meer hartseer as vir Sussa.  Sy het braaf met haar mooi nuwe vars skoolklere by die saal ingestap en langs ons gesit.  Ek het die een na die ander tissue uit my handsak opgebruik.   Na die saalopening, het sy na haar klassie gestap en onmiddelik omgedraai en gesê dat Mamma maar kan loop.  O wee, dis nie wat ek wou hoor nie, sy is dan my blonde blou oog babatjie!  Sy het my elke sekonde nodig.  Dit was egter nie die geval gewees nie!  Haar aanpassing by die skool was fantasties gewees en sy het floreer tussen al die nuwe maats en nuwe uitdagings.

Tuis het dit effe beter gegaan.  Jaco het steeds gekuier, maar sou darem nou bietjie vroeër huis toe kom en aandag gee aan sy gesin. Om die een of ander rede was 'n tweede kind ons nie beskore nie, nie dat ons nie probeer het nie - inteendeel. Dit het net nooit gebeur nie. Jaco wou vreeslik graag 'n seuntjie hê en Sussa sou seker 'n apie of 'n hondjie verkies.  Troeteldiere het ons gehad wel, goudvisse, marmotte, budgies!  Mamma moes heeltyd skoonmaak en versorg na die eerste 5 sekondes van snaaksigheid oor 'n troeteldier.

Laerskool was pret.  Hulle het allerhande nuwe dinge geleer by die skool en natuurlik was Juffrou altyd slimmer as Mamma!  Juffrou weet mos ALLES! (:)

Ek en Sus het elke Sondag kerk toe gegaan.  Ek het al meer betrokke begin raak by die kerk, want my en Jaco se verhouding het agteruitgegaan.  Die kerk en Jesus was my anker.  Ons was betrokke by die jeug, sondagskool en alles wat ek kon doen, het ek gedoen.  Dit het Jaco natuurlik heeltemal afgesit.  Hy het my beskuldig dat ek in die dominee se guns wou kom en raakgesien wou word (deur wie, wonder ek steeds?).   Hy het glad nie meer saam ons kerk toe gegaan nie, want die meeste van die tyd, het hy Sondae oggende sy roes afgeslaap na 'n gevuif die vorige aand. 
Ek het net aangegaan en my eie ding gedoen. My vriende en syne (ons s'n), was nie meer dieselfde mense nie.
My vriende was nou skielik die "skynheilige" kerkgangers.  Hulle het my deur dik en dun bygestaan.  Ons het saamgekuier, gebid en kerk toe gegaan.  Vreemd genoeg was my leefwyse nou presies hoe Jaco grootgeword het.  Hy het dit glad nie so ingesien nie.

Kort voor lank sou ons apart by ons gesamentelike vriende gaan kuier.  Saam, maar apart.  Ek en my dogtertjie het met my eie kar gery rn hy met syne.  Hy sou en moes tot in die vroeë oggend ure kuier. Ons het heelwat vroeër huis toe gegaan.  Ons sou al vêr in droomland gewees het teen die tyd dat hy huis toe geslinger het.  Baie aande sou Jaco vreeslik amoreus my probeer wakker maak het.  Daar is egter absoluut niks passievol aan 'n brandewyn asem, 'n man wat soos 'n shebeen ruik en om 'n asbak uit te lek nie!   Hy het die gesien dat ek skielik in mev Yskas verander het. 
Dan sou hy in die spaarkamer uitgepass het.  Slaap saam met hom in een bed, was buitendien totaal en al onmoontlik dan, soos wat hy balke gesaag het. Dronk mans is nou een maal glad nie op my numero uno-lysie nie!  

Kort voor lank was hierdie 'n algemene verskynsel in ons huis.  Eenheid in watter sin ookal was min. En soos almal weet, is dit tekens van die begin van die einde

Die stemme in die nagWhere stories live. Discover now