Die groot vraag

34 1 0
                                    

Ons het seker so 8 of 9 maande uitgegaan. Ek was nog nooit so verlief soos nou nie en Jaco het dieselfde gevoel.

Een aand in 'n restaurant het hy my onverwags gevra om te trou! Ek was in die sewende hemel. Natuurlik was dit in daardie jare nog tradisie dat daar ouers gevra word.

Die naweek is ons Laeveld toe en het my ouers uitgeneem vir ete na 'n plekkie tussen Witrivier en Nelspruit.

Ek het Jaco nog nooit so benoud gesien nie. Waar hy gewoonlik aanmekaar kon praat, lag en gesels, was sy woorde so droog soos die Sahara. Castle was wel gelukkig om die senuwees te stil. Die witbroek wat hy aangehad het, was naderhand bruin gevryf van die senuwees. Ek het heeltyd met my oë probeer sê: vra nou!!!! Maar dit het hom net nog meer senuagtig gemaak.

My pa het 'n vermoede gehad waaroor die hele aand gaan. Hy het heeltyd skimpe gegooi, wat op dowe ore geval het.

Uiteindelik het hy vir Jaco gevra: wil jy met my dogter trou? Vra net dat ons kan ontspan en kuier?

Jaco het baie verlig JA gesê en uiteindelik was die ys gebreek. My pa het net gevra waar die ring was, maar ons het nog nie begin soek nie.

Die res van die aand kon ons ontspan en begin reëlings tref. Al voorwaarde wat my ouers gehad het, was dat ons in my tuisdorp moes trou.

Uitgeput, maar tevrede na 'n suksesvolle missie, is ons terug Pretoria toe.

Die naweek daarna het ons begin ringe soek. Ek is gelukkig nie fussy nie, en het gou gekry waarna ek soek. Die ring moes kleiner gemaak word. Jaco het dit skelm een dag gaan haal terwyl ek geslaap het na my nagskof.

Hy is glad nie romanties nie. In my woonstel voordat ons saam sy ouers by Marula Sun sou gaan eet, het die groot oomblik aangebreek.
Ek was nog in my kamerjas besig om klaar te maak.

My groot teddiebeer het op sy knieë voor die bank gesak en my amptelik die keer weer gevra om te trou. En die blink diamant aan my vinger gesteek!
Klokke het gelui en ek is seker daar was vuurwerke!

Bitter lanklaas was ek so gelukkig.

Die ring is daardie aand kort-kort blinkgevryf en my hand was heeltyd op display !

Mens voel soos 'n baba wat nou eers haar hande ontdek.

By die werk was almal net so gelukkig vir ons part soos ek. Die dokters en mede-kollegas het 'n harde tyd gehad om my uit die sewende hemel terug te bring aarde toe. Dis 'n wonder dat ek ooit die volgende paar weke kon opdragte uitvoer. Gelukkig is geen pasiënt onder my hande dood in daardie tyd tussen hemel en aarde nie.

Van ons vriende het toevallig op presies dieselfde dag verloof geraak. Ons het 'n gesamentelike verlowings partytjie vir al die vriende gehou op die plaas waar ons ontmoet het.

Een van Jaco se vriende daardie tyd was 'n opkomende sanger (hy is nou baie bekend). Hy het daardie aand almal met sy rasperstem vermaak. Ons het gekuier totdat die son opkom.

Liefde was nog nooit so stroopsoet nie.

Ons het net daarna Kaap toe gegaan vir byna twee weke. Sy een suster wat daar gewoon het, het hul karavaan genaamd Heksie vir ons geleen vir die tyd.

By Melkbosstrand was 'n heerlike kampeer terrein wat net 'n teerpad ver van die strand af was.

Heksie is staangemaak en die vakansie het begin. Nie een van ons was juis kampeerders nie. Dit het ons egter niks gepla nie.

Ons het onsself gate uitgeniet.

By Bloubergstrand was 'n klein tuisnywerheid en ons het daagliks peppermintcrisptert gaan koop daar. Soms voordat ons terug was by die kampterrein, was die tert klaar.

Ons het eendag so langs die kus gery en op Velddrift geland. Al wat nog oop was daar was een of ander restaurantjie en kroeg. Hier het ons byna heeldag vasgehaak.  Ons het 'n groep mans van Ottosdal ontmoet wat glo vir werk daar was. Hul het ons omgepraat om saam na 'n visfabriek te gaan
Almal het in die kombi geklim en ons was oppad. Ek was die enigste roos tussen die dorings. En ook die skinker.
Die brandewyn het gevloei! 
Die klomp ouens was almal vol grappies en brandewyn. Ons het sulke emmertjies vol vreksout vissies gekoop.
Terug op Velddrift of was dit Vredendal?, moes ons saameet. Daar was 'n buffet van seekosse. Jy kon soveel eet as jy wil. En glo my ons het!
Hoe ons daardie aand by die kampterrein teruggekom het, sal net die beskermengeltjies weet.

Elke dag was vol pret. Op Melkbos was 'n klein restaurantjie Ons Huisie waar ons ook een aand geeet het.  Ons het maar uit gevoel tussen al die deftige mense hier. Ek dink daar was omtrent net tien tafeltjies in die plekkie. Die kos was heerlik en die wyntjies het gevloei. Die kelners en eienaars was beslis bly toe ons die rekening betaal het die aand, want ons het soos skoolkinders gegiggel en skelm soentjies uitgedeel en ook voetjie-voetjie gespeel onder die tafel.

Toe ons terug by die kampterrein aangery kom, het die ligte op twee pare baie besige kaalboude geval. Ons wou ons doodlag.  Hul het vinnig in hul karavaan teruggespring.

Later het ons uitgevind dat dit 'n jong Duitse paartjie was, op toer deur Afrika.  Hul het nie veel inhibisie nie en die kaal boude op die gras, was nog 'n paar keer sigbaar.

Wel, ek moet sê Heksie het ook 'n paar keer op haar fondasies geskud! Die ou bure omie het nie heeltemal verstaan hoekom die karavaan so instabiel was op sekere tye nie en het een dag kom vra of alles reg is. Ek het rooigesig in die karavaan gebly, terwyl Jaco een of ander storie kwytgeraak het.

Baie aande het ons na 'n uitkykpunt gery en kyk na die sonsondergang met Frank duVal wat in ons ore kliphard sing. Dit en die geluid van branders wat breek en liefde in die lug, was onvergeetlik.

Te gou moes ons die pad huis toe aanpak. Ons het besluit om langs die Wildernis terug te ry, beginnende by Houtbaai. 

Die Kaap is beslis een van ons land se mooiste dele. Na Houtbaai is ons Knysna toe. Ongelukkig wou die weer nie meer saamspeel. Dit was reënerig en mistig.  Die bekende Knysnawoude het sy eie bekoring gehad. Ek was doodbang dat ons die Knysna olifante sou raakloop. Hul het egter soos die bosbewoners weggekruip vir ons.

Die aand was ek lus vir Russian en chips. Ons het 'n kafee gekry en ek het gekoop om die groot lus te bevredig. Min het ek geweet die terugtog sou eeue neem met pitstoppe elke 5 km.  Genade voedselvergiftiging is nie speletjies.  En 'n dokter vind op die terugtog was daar nie. Die apteker het my wel jammer gekry en paar pille in hand gestop. Nodeloos om te sê, ek het niks van die res van die mooie Kaap gesien.

Pretoria was 'n baie welkome gesig.

Back to reality en werk na 'n onvergeetlike vakansie.

Die stemme in die nagWhere stories live. Discover now